Akademici by die Universiteit van Erlangen-Nuremberg in Duitsland het ondersoek ingestel oor die manier waarop ’n gesonde, veselryke dieet moontlik bakterieë in die dermkanaal kan verander.

Hulle het ontdek dat veselryke voedselsoorte ’n positiewe invloed kan hê op chronies inflammatoriese aandoenings van die gewrigte en so kan lei tot sterker bene.

"Ons kan tans nie enige spesifieke aanbevelings gee vir ’n bakterievriendelike dieet nie, maar as jy elke oggend muesli eet, sowel as genoeg vrugte en groente deur die dag, sal dit help om ’n ryke verskeidenheid van bakteriële spesies te handhaaf,” is die mening van dr. Mario Zaiss, die hoofskrywer.

Die wetenskaplikes het gedurende die studie gevind dat, indien jy baie vesel inneem, die inwendige bakterieë op so ’n wyse kan verander dat meer kortketting-vetsure, veral propionaat, gevorm word. Hulle kon ook bewys dat ’n hoër konsentrasie van kortketting-vetsure beenverswakking aansienlik verlangsaam het, soos in die beenmurg, waar propionaat ’n verlaging in die getal beenverswakkende selle veroorsaak het.

Die navorsers hoop voorts dat hulle hul bevindings kan inspan om nuwe geneesmiddels vir inflammatoriese siektes van die gewrigte te ontwikkel, en ook om osteoporose, wat dikwels vroue ná menopouse tref, te behandel.

Voedsel wat baie vesel bevat, help om jou langer versadig te laat voel.

Dit is ’n bewese feit dat vesel ’n onontbeerlike deel vorm van ’n gesonde dieet, aangesien dit kan help om hartsiektes, diabetes en gewigstoename te voorkom, en dit kan ook spysvertering aanhelp.

Voedsel wat baie vesel bevat, help om jou langer versadig te laat voel. Ander keuses sluit volgraanbrood, semels, graankosse, neute, sade, vrugte, soos byvoorbeeld piesangs en appels, sowel as wortelgroente, waaronder wortels en aartappels, in.

Gesondheidskenners raai mense aan om hul veselinname geleidelik te verhoog, aangesien ’n skielike verhoging dan lei tot maagkrampe en buikopsetting.

Die volledige studieresultate is in die tydskrif Nature Communications gepubliseer.