As jou hond se asem stink, is dit dalk ’n teken dat alles nie wel is met hul tande nie. Gereelde tandskoonmaak en -ondersoeke behoort ’n integrale deel van die versorging van jou vierpootvriende te wees.

Ons het met dr. Ingrid de Wet van die EberVet’s Country-­dierekliniek op Somerset-Wes naby Kaapstad gepraat oor wat die beste manier is om die welstand van jou troeteldier se tande te verseker.

Hoe algemeen is tandsiektes?

“Sowat twee derdes van honde en katte ouer as drie jaar het ’n tandsiekte in die een of ander vorm. Die algemeenste probleme is plaak en tandsteenopbou op die tande en ontsteking van die tandvleis (gingivitis).

“Ons sien ook baie gebreekte tande en tandabsesse. Party honde en katte met ernstige inflammasie in hul mond ontwikkel ook outo-immuunsiektes.”

Moet jy hul tande borsel?

“Ja, en boonop gereeld omdat dit plaakopbou voorkom en die aantal bakterieë in die mond verminder wat tot tandsiektes lei. Dit kan moeilik wees om te doen as jou troeteldier ouer is of nie daaraan gewoond is nie.

“Party diere sal nie borsel verdra nie of aggressief word. As jy sukkel, kan jou veearts jou raad gee. Ons beveel aan alle troeteldiere ondergaan ’n jaarlikse ondersoek waartydens die veearts die tande en tandvleis ondersoek.”

hond
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat is die beste manier om hul tande skoon te maak?

“ ’n Kindergrootte-tandeborsel met sagte hare sal goed werk. Troeteldierspesifieke tandeborsels is beskikbaar wat oor jou vinger glip en makliker is om te gebruik. Dis noodsaaklik om troeteldierspesifieke tandepasta, wat soms ’n vleisgeur bevat, te gebruik.

Die fluoried in tandepasta vir mense kan ’n gevaar vir diere inhou as dit geabsorbeer word.

“Tandekoustokkies is ’n wonderlike byvoeging om tande te help skoonmaak. Bene is ’n groot taboe: Dit het geen reinigingsuitwerking nie en is die hoofoorsaak van gebreekte tande.”

Beveel jy droë of nat kos aan?

“Droë kos is gewoonlik beter. Baie kosse, veral ?veeartskosse, is spesifiek geformuleer om tandsiektes te voorkom. Sagte kosse, veral tafelkos, is taamlik klewerig en verhoog die hoeveelheid plaakopbou.” 

Simptome van tandemoeilikheid
  • Slegte asem.
  • Vuil of gebreekte tande.
  • Rooi of bloederige tandvleis.
  • Verandering in eetgedrag –sukkel om te eet of eet minder.
  • Bloederige of draderige speeksel.
  • Wil nie hê die kop moet gekrap word nie.
  • ’n Genies of loopneus.

Honde met tandvleisontsteking het ’n groter risiko om hart-, nier- en lewersiektes op te doen.


Liefde in ’n dop

Hoe’s dié vir ’n ongewone troeteldier?

Magdalena Dusza van Pole is die trotse eienaar van ’n reuse-Afrika-slak.

slak
Foto: Magazine Features

Magdalena het die asemrowende weekdier genaamd Misiek ses jaar gelede uit ’n troeteldierwinkel gered waar hy in hag­like omstandighede aangehou is.

“Hulle het hom gehou in ’n baie klein kis met ’n lae humiditeit, wat dodelik is vir slakke, en hy het parasiete en ’n beskadigde dop gehad,” sê sy.

Magdalena sê sy het sedert haar laer­skooldae daarvan gedroom om ’n reuseslak te besit.

slak
Misiek ontmoet een van Magdalena se ander slakke, Okruszek (Pools vir krummel). Foto: Magazine Features

“Ons het ’n soortgelyke slak in ons biologieklaskamer as ’n skooltroeteldier gehad, en ek het op die wonderlike diere verlief geraak.”

Misiek, wat Pools vir teddiebeer is, is maklik om te versorg en eet meestal groente, vrugte en visvlokkies.

“Om Misiek te besit is ’n baie ongewone maar lonende passie,” sê sy.

“Omdat die diere so stadig en majestueus is, werk dit goed om spanning te verlig wanneer jy hulle waarneem. Dit maak jou kalm en ontspanne. Ek sou almal aanraai om ’n reuseslak te kry.”

Bronne: ladbible.com, magazine features, pets.webmd
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.