Dis daar om jou te troos en te help ontspan as jy ’n slegte dag gehad het of heerlik vir ’n inhaal-kletssessie as ’n klompie vriendinne saamkuier – ’n koppie tee en in noodgevalle sommer ’n hele pot vol.

Dis die kafeïen in tee en koffie wat dit die gewildste drankies in die wêreld maak, sê prof. Zeno Apostolides van die Universiteit van Pretoria se departement biochemie.

“Tee is eeue gelede deur Boeddhistiese monnike in China gebruik om wakker te bly terwyl hulle studeer het. Koffie is om dieselfde rede deur Christelike monnike in Ethiopië gebruik. Ek noem kafeïen die enigste wettige stimulant.”

Boonop kan tee ook goed wees vir jou gesondheid, verduidelik hy. In Suid-Afrika is swarttee, groentee, kruietee en gegeurde tee veral gewild, sê prof. Jeanine Marnewick, voorsitter van die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie se Instituut vir Biomediese en Mikrobiese Biotegnologie.

Hier is jou teegids oor dié verskillende soorte en wat dit vir jou kan beteken:

1. Swarttee

Dit is die teesoort wat jy die volopste in die supermark kry.

Dit word gemaak van die ten volle gefermenteerde blare van die Camellia sinensis-struik wat hierdie tee sy kenmerkende donkerbruin of swart kleur gee.

Die geur is sterk en die tee het ’n hoër kafeïeninhoud as ander tee.

’n Voordeel van swart- en groentee is dat dit jou net so goed hidreer soos water.
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images


2. Groentee

Dit word gemaak van die ongefermenteerde blare van die Camellia sinensis wat kort ná oestyd gestoom word en daarom behou die blare baie van hul natuurlike gesondheidsvoordele.

Dit bevat die meeste antioksidante van alle tee, sê die teekenner Jonathan Kelsey van Joekels Tea Packers in Durban.

3. Kruietee

Kruietee bevat nie kafeïen nie en word gemaak van droëvrugte, blomme, speserye of kruie en sluit gunstelinge soos rooibos-, heuningbos-, gemmer- en kamilletee in.

4. Gegeurde tee

In dié lafenis word tee word as basis gebruik en dan word geurmiddels later bygevoeg.

“Earl Grey word byvoorbeeld gemaak van swarttee as basis en dan gegeur met bergamot-lemoenolie, terwyl chaitee swart- of rooibostee is wat gegeur word met speserye soos kaneel, kardamom en vanielje,” verduidelik Jonathan.

“Groentee word dikwels smaak gegee met vrugtegeure soos suurlemoen, appel of ment.”

GESONDHEIDSVOORDELE

Swart- en groentee

  • Swart- en groentee word van dieselfde plant gemaak, maar bevat elkeen sy eie verskeidenheid polifenole omdat dit op verskillende maniere voorberei (geprosesseer) word, verduidelik Jeanine. ’n Polifenol verwys na ’n groep chemiese verbindings wat in plante voorkom.
  • ’n Bykomende voordeel van hierdie tee is volgens ’n studie in Engeland dat dit jou net so goed hidreer soos water, sê Jeanine.
  • Dié tee is ryk aan antioksidante, wat skade aan jou liggaamselle bekamp.
  • Die teanien in die tee kan stres en angstigheid verlig, maar wees versigtig, waarsku Jeanine. Sy vertel Japannese navorsers het bevind studente se stres ná hul daaglikse praktiese klas in farmakologie is aansienlik verlig omdat hulle groentee gedrink het. Die geheim is egter dat hulle ’n groentee gekies het wat min kafeïen bevat.
  • As jy halfpad deur die werkdag begin voel of jou batterye pap raak, kan die kafeïen in tee jou verstandelike moegheid help verlig. “Maar te veel tee – meer as 12 koppies per dag – kan angstigheid veroorsaak,” waarsku Zeno.
  • Dit het ook probiotiese voordele, want dit help dat gunstige dermbakterieë floreer, sê Zeno. Dit beteken jou spysvertering vind makliker plaas.
  • Hierdie tee kan tandverrotting help keer (maar nie laat omkeer as dit reeds gebeur het nie). Jeanine sê egter jy sal dan jou tee sonder suiker moet drink.
  • Dit kan jou metabolisme laat versnel en dus help om vet vinniger te verbrand.
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Kruietee

Baie van die gesondheidsvoordele wat aan kruietee soos kamille, ment en gemmer toegedig word, is nie wetenskaplik bewys nie, maar dit hou tog voordele in.

“Kruietee bevat nie kafeïen nie en dis dalk waarom dit so kalmerend is. Elkeen het ook sy eie unieke geur en smaak,” sê Zeno. ’

'n Kruietee wat wel bewese gesondheidsvoordele inhou, is ons plaaslike teekroonjuweel, rooibos.

Wetenskaplikes beaam dié Suid-Afrikaanse uitvoerproduk hou dié voordele in:

  • Rooibos bevat unieke polifenole soos aspalatien, sê Jeanine en verduidelik dat dit inflammasie in jou ingewande teenwerk.
  • Dit onderdruk ook virusse en bekamp selskade in jou liggaam, voeg Ernest du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, by.
  • Een van die polifenole, kwersitien, word verbind met die voorkoming van hartaanvalle en beroertes en die agteruitgang van jou are. Dit bevorder ook goeie cholesterol (HDL) en onderdruk slegte cholesterol (LDL).
  • Navorsing wys dat aspalatien, ’n antioksidant wat net in rooibos aangetref word, die risiko vir diabetes help verminder. Dit balanseer bloedsuiker, verminder insulienweerstandigheid en verhoog glukose-absorpsie deur die spiere.
  • Die antioksidante in rooibos kan ook help om veroudering te vertraag en spiere te laat herstel ná oefening.

Gegeurde tee

Dit het dieselfde voordele as die tee wat as hul basis gebruik is.

So maak jy die lekkerste tee!
  • Swart- en kruietee moet gemaak word van water wat pas gekook het. Moenie die water te lank laat kook nie, want dit verlaag die suurstofinhoud, wat die tee dan smaakloos kan laat proe.
  • “Groentee moet liefs gemaak word van water wat nog nie kookpunt bereik het nie,” sê die teekenner Jonathan Kelsey. (Omdat hy proe vir ’n lewe, is sy tong verseker vir R5 miljoen.) As die water te warm is, sal die tee bitter proe en baie van sy delikate geur sal verlore gaan. As jy groentee teen ’n laer temperatuur maak, word sy effens soet geur nie deur bitterheid oordonder nie. Die ideale temperatuur is so 80 °C, maar jy het nie ’n termometer nodig nie. As jy ’n deursigtige ketel het, gooi die water in die teepot sodra jy borreltjies van die ketel se bodem af sien opstyg. Laat andersins die ketel kook en laat dit dan twee of drie minute afkoel voor jy dit op die blare gooi.
  • Maak eers die teepot of -koppie warm. As warm water in ’n koue houer gegooi word, daal die temperatuur van die water te vinnig en sal die volle geur van die tee nie ontsluit word nie.

Ekstra bronne: Thefragrantleaf.com, Healthline.com, Eunatural.com,TheSpruceeats.com, Developgoodhabits.com