Die winter is hier – virustyd. Met die koms van covid-19 is ’n gesonde immuunstelsel belangriker as ooit. Hoe kan jy dié belangrike wapenrusting ’n hupstoot gee sodat jy jou gesondheid kan beskerm? Ons het by kenners gaan uitvind.

Wat is die immuunstelsel?

Die immuunstelsel is ’n ingewikkelde netwerk van selle en proteïene in die liggaam wat saamwerk om jou teen infeksie te beskerm, verduidelik dr. Tshegofatso Mabelane, ’n immunoloog van Pretoria.

Dr. Adrian Morris, ’n allergie- en immuniteitskenner van Kaapstad, sê jou immuunstelsel is hoofsaaklik in jou bloed gesetel. “Jou witbloedselle vorm deel daarvan en dié selle is soos polisiebeamptes wat deur die liggaam beweeg. Wanneer hulle iets sien wat ’n potensiële gevaar inhou, sal die witbloedselle hulself daaraan heg en daarvan ontslae probeer raak.”

Volgens Tshegofatso kan die immuunstelsel in die natuurlike en die aangeleerde stelsel verdeel word.

“Die natuurlike stelsel is die deel waarmee jy gebore word. Dit lewer die eerste reaksie wat plaasvind om jou teen kieme te beskerm. Dié stelsel kan binne enkele ure reageer.“

Aan die ander kant het jy die aangeleerde stelsel wat baie ingewikkelder is.

”Sy verduidelik dat jy jou hele lewe lank immuniteit “aanleer” en dat dit net gebeur wanneer jy aan infeksies blootgestel word. ’n Bepaalde kiem moet eers deur die liggaam verwerk en herken word voor jou immuunstelsel ’n linie van immuunselle kan ontwikkel wat dit aanval. “Die aangeleerde immuunstelsel het ’n ‘geheue’ wat seker maak daar is ’n reaksie is wanneer dit volgende keer aan die kiem blootgestel word.

“Inenting is ’n voorbeeld van aangeleerde immuniteit.” 

Hoekom word mense in die winter vinniger siek?

Die immuunselle in slymvliesoppervlakke raak in koue weer minder aktief, daarom is ons dan vatbaarder vir virusinfeksies, verduidelik prof. Patrick Bouic, ’n immunoloog van Kaapstad. “Ons bring ook meer tyd binnenshuis deur en dit lei daartoe dat virusse makliker tussen mense wat in dieselfde ruimte woon, versprei word.”

Leefstylveranderinge

Tshegofatso sê daar is nie bewyse dat ’n goeie leefstyl jou immuunstelsel noodwendig beter maak nie, maar dat jy jou immuniteit wel op daardie manier gesond kan hou. “Eet gesond, oefen gereeld, beheer jou stres, moenie rook nie en gebruik alkohol matig.”

Sy maan mense ook om genoeg slaap in te kry en hul gewig in toom te hou. “Vetsug word met chroniese inflammasie verbind, daarom is dit baie belangrik dat jy jou gewig beheer. Jy moet ook goeie higiëne handhaaf, soos om jou hande gereeld te was.”

Vitamien C

Glo jy ook dat lemoene en sitrusvrugte jou in die winter gesond hou? O nee, sê die kenners, dit is nie ’n waarborg wat sal keer dat jy met ’n virus besmet word nie, sê kenners.  “Navorsers het bevind 1000 mg tot 2000 mg vitamien C per dag kan die duur van ’n verkoue tot 18 persent by kinders en 8 persent in volwassenes verminder,” verduidelik Tshegofatso. “Dit ondersteun die funksie van die immuunselle in jou natuurlike en aangebore immuunstelsel. Maar dit kan nie voorkom dat jy ’n infeksie kry nie.”

Die liggaam kan nie sy eie vitamien C vervaardig nie en soos met ander vitamiene is die aanbeveling dat jy dit met behulp van die regte kosse moet inkry.

Goeie voedselbronne van vitamien C is onder meer soetrissies, lemoene, kiwivrugte, broccoli en aarbeie. Sy waarsku egter dat te veel vitamien C tot diarree kan lei. 

Wat van aanvullings?

Loop lig vir produkte wat net goed bemark word, maar nie noodwendig ’n bydrae lewer tot jou gesondheid nie, maan kenners.Die meeste mense het nie noodwendig ’n tekort aan vitamiene nie, maar word eerder siek as gevolg van ’n swak leefstyl, verduidelik Adrian.

Patrick meen ons het nie ’n waarborg dat die gehalte van ons kos goed genoeg is nie, daarom kan ’n multivitamienaanvulling help om seker te maak ons immuunstelsel funksioneer optimaal.   

Hy stel voor jy neem iets met omega 3-vetsure, wat anti-inflammatoriese eienskappe bevat, vitamien C, wat as ’n antioksidant optree, en vitamien D3, wat kan help om kanker en virusse te beveg. Tshegofatso maan dit kan gevaarlik wees om te veel aanvullings in te neem. Gesels met jou dokter as jy onseker is. 

Watter kos kan jou immuunstelsel help?

’n Gebalanseerde dieet met ’n verskeidenheid kos is die beste benadering, sê Irene Labuschagne, 'n dieetkundige van Nicus, die voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch. “Geen wonderpil kan ’n gesonde dieet, sinvolle eetpatrone en goeie voeding vervang nie.”Volgens haar is ’n dieet met minder verwerkte kosse, suiker en sout ideaal, en ’n tekort aan makro- en mikronutriënte is beslis skadelik vir die immuunstelsel.“

Probeer om baie groente, vrugte en peulgewasse te eet. Dit sal jou help om ’n gesonde gewig te handhaaf en sorg dat jy genoeg voedingstowwe inkry.”

Eet daagliks minstens tussen vyf en ses porsies groente en vrugte, beveel sy aan.

Volgens Patrick vernietig suiker die immuunstelsel, daarom is die belangrik om kos met ’n hoë suikerinhoud te vermy.

Gesonde ingewande

Die mikrobakterieë in jou ingewande word toenemend beskou as een van die grootste faktore wat jou gesondheid beïnvloed, verduidelik Irene. “Jou ingewande is ’n belangrike plek waar immuunselle ontwikkel word, selle wat nie net die immuniteit van die jou ingewande beheer nie, maar ook immuniteit buite jou ingewande.”

Volgens haar het onlangse studies die rol wat ingewandsmikrobiota speel om inflammasie in die longe te beheer, beklemtoon. Sy stel voor jy maak jogurt, gefermenteerde melkprodukte soos maas en karringmelk, kefir en kombucha deel van jou dieet. 

Adrian sê al is die gesondheid van die ingewande van groter belang by kinders, kan dit ’n volwassene nie skade doen om gereeld ’n probiotika te drink nie.

Ek sukkel met sinus!

Sinusitis verwys na ’n bakteriële infeksie van jou sinusse, met simptome soos hoofpyn, pyn in jou gesig en ’n toe en loopneus. Hooikoors is ’n allergiese reaksie op skadelose stowwe in die omgewing, verduidelik Tshegofatso. Simptome sluit in nies, ’n toe of loopneus, en oë wat jeuk.

 Sinusitis kom dikwels voor as ’n simptoom van verkoue en griep, terwyl hooikoors dwarsdeur die hele jaar kan voorkom.Patrick meen indien jy sukkel met hooikoors, is dit wys om kosse te vermy waarvoor jy allergies is en antihistamiene te drink om ander allergiese reaksies te voorkom.

Volgens Tshegofatso is dit vir sinusitis sowel as hooikoors voordelig om jou neusholtes te spoel.

Jy kan ’n tuismengsel maak: Meng ’n halwe teelepel sout en ’n kwart teelepel koeksoda met 250 ml lou water wat gekook en afgekoel het. Gebruik ’n spuitbottel of inspuitingbuis en spuit die oplossing in die een neusgat terwyl jy deur jou mond asemhaal. Doen dit in albei neusgate. Jy kan dit tot vier keer ’n dag herhaal. Indien jou dokter ’n neusspuit voorgeskryf het, moet jy steeds met die voorskrifmiddel voortgaan.

Wat van die griepinspuiting?

Hoekom is die griepinspuiting belangrik?

Die griepinspuiting is veral vanjaar ’n goeie idee in die lig van die coronavirus, omdat daar dan een virus minder is wat jou dié winter bedreig, sê Adrian.

“Jy kan enige tyd deur die loop van die winter teen griep ingeënt word,” se dr. Jantjie Taljaard, hoof van die afdeling infeksiesiektes by die Universiteit Stellenbosch. Die entstof bestaan uit dele van gedeaktiveerde griepvirusse en word in die armspier ingespuit. Dit ontlok ’n immuunreaksie van jou liggaam, verduidelik Jantjie. Die liggaam vervaardig dan teenliggaampies om hom teen ’n moontlike virusinfeksie te beskerm. 

Die beste tyd om dit te doen is sodra die entstof beskikbaar is, gewoonlik in April of begin Mei, maar jy kan dit steeds kry.

Volgens hom is mense wat die meeste by die inenting baat diegene met long- en hartsiektes, pasiënte wat medikasie soos kortisoon neem of kankerchemoterapie ontvang wat die immuunstelsel onderdruk, mense bo 65, veral swanger vroue en MIV-positiewe mense.

Ook kantoorwerkers kan maklik griep opdoen. “Griep versprei van mens na mens deur druppels wat uitgehoes of genies word en te lande kom op hande en kontakoppervlakke, soos deurknoppe, tafels en rekenaars. Die kantoor is daarom ’n ideale omgewing vir verspreiding.”