Jy het jou die vakansie voorgeneem: Vanjaar gaan ek gesonder eet, meer oefen, en ja, daai ekstra kilo’s afskud. Maar wat dalk aanvanklik maklik klink, voel gou soos ’n onmoontlike taak.

Werk en die kinders hou jou besig en dis darem net te moeilik om hééltyd dop te hou wat jy eet.

Daar is ’n paar algemene foute wat mense maak wanneer hulle ’n nuwe, ­gesonde leefstyl probeer vestig, sê twee Kaapse kenners, die fiksheidsinstrukteur Aneeka Buys en die dieetkundige Carey Anne Seady.

Hierdie foute kelder dikwels jou planne nog voor jy regtig kon begin. Volg hul raad om dié struikelblokke te systap.

Jy stel uit

Jy wóú op Maandag al begin het, maar toe het dit net nie gebeur nie. En nou wag jy maar vir volgende Maandag, of dalk die een daarna . . .

Nee, sê Carey Anne, daar is nooit so ’n goeie tyd soos nóú nie.

“Die beste tyd om te ­begin is onmiddellik,” sê sy.

“Maandag of die nuwe jaar of ná jou verjaardag gaan geensins anders wees as enige ander dag nie.”

Doen dit net. Spring weg!

Jou begroting knyp

Die gebrek aan geld om gesonde of dieetkos te koop is dikwels vir mense ’n groot uitdaging, sê Ca-rey Anne. “Maar dit hoef nie duur te wees om gesonde koskeuses te maak nie.”

Bêre groente en vrugte in lugdigte houers om hul raklewe te verleng en meer waarde vir geld te kry, stel sy voor. “Om in groot maat te kook en maaltye te vries kan help om die koste laer te hou.”

Jou oefenprogram is nie deel van jou roetine nie

Wanneer jou lewe bedrywig is – en jy ’n klomp aktiwiteite moet bywoon waarop jy nie altyd voorbereid is nie – gebeur dit maklik dat jou oefenplanne die eerste ding is wat waai.

Stel ’n mikpunt om oefening vir ’n sekere tydperk ’n ononderhandelbare deel van jou dag te maak.

“Dit neem 21 dae om ’n gewoonte te verander,” sê Aneeka. “As jy net by jou oefenprogram kan hou, sal dit in ’n japtrap deel van jou roetine word.”

Gimlidmaatskap is te duur

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

“Oefening hoef nie in ’n gimnasium te gebeur nie,” sê Carey Anne. “Jy kan in die buurt of ’n park gaan stap. Daar is talle gratis apps vir oefening met video’s en oefen­programme wat jy daagliks by jou huis kan doen.”

Sy sê jy kan selfs kalorieë verbrand deur jou gunstelingmusiek aan te sit en 45 minute lank in die huis rond te dans . . . ­sonder dat dit jou ’n sent kos.

Jy wil te veel te vinnig doen

Mense probeer dikwels uit die staan-spoor baie hard oefen, verduidelik Aneeka. “Dit kan jou ontmoedig wanneer jou liggaam ongelooflik seer is.”

Sy stel voor dat jy stelselmatig met ’n nuwe ­oefenroetine begin en dit intensiewer maak namate jy vorder.

Jy is te moeg ná werk

Baie mense sukkel om ná werk tyd te kry vir hul nuwe oefenroetine – daar val dikwels iets voor by die werk, die kinders het jou hulp nodig met huiswerk of jy is eenvoudig pootuit.

Daarom is dit die beste om jou oefensessie soggens voor werk al af te handel, sê Carey Anne.

“Jy gee jou metabolisme dan ’n hupstoot vir die hele dag.”

Jy slaap te min

Jy moet genoeg slaap as jy ’n nuwe eet- en oefenroetine wil baasraak. Jou liggaam herstel en verwerk gebeure wanneer jy slaap, verduidelik Aneeka.

“Wanneer jy nie genoeg slaap nie, sal jy uitgeput word en begin smag na kos wat vinnig energie vrystel.”

Dit word dan ’n bose siklus, want as dié energie verdwyn, is jy weer van voor af moeg.

Jy klim te gereeld op die skaal

Dis normaal as jy ’n leefstylverandering maak om gewig te verloor: Jy wil hê die skaal se naald moet week ná week op ’n laer syfer tot stilstand kom. Maar moet liefs nie so gereeld op die skaal klim nie, waarsku Aneeka.

“Dit neem jou liggaam drie weke om by ’n nuwe dieet- en oefenprogram aan te pas. Dit sal jou onnodig negatief maak as jy te gereeld op die skaal klim en verwag om ­resultate te sien.

“Wees goed vir jouself en vertrou die verloop van die proses.”

Jy soek ’n kitsoplossing

Daar is ongelukkig geen vinnige manier om gewig te verloor nie, sê Aneeka. “Jy kan ook nie verwag om gewig te verloor en dan weer soos voorheen te eet nie.

“Dit moet ’n leefstylverandering wees en ’n manier waarop jy permanent jou lewe gaan lei.”

Carey Anne stem saam en sê die hoeveelheid gesonde gewigsverlies wissel ­tussen 0,5 en 1 kg per week.

“Die beste ­manier om op die duur ’n gesonde gewig te behou is as jy daagliks oefen en gesonde koskeuses maak.”

Jy is oorweldig deur al die verskillende opsies

Dit is soms moeilik om te weet watter dieet om te volg met die talle moontlikhede en beloftes wat in die media geadverteer word. Maak seker jy doen jou navorsing ordentlik, en moenie net enige Instagram-­“kenner” se woord as wet vat nie.

Maak ’n afspraak met ’n dieetkundige om bruikbare raad te kry. Carey Anne stel die Mediter­reense dieet voor as ’n goeie gebalanseerde opsie wat al meer as 60 jaar lank nagevors word.

Jy drink te veel dieetkoeldrank

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Daar is deesdae hope suikervrye opsies om uit te kies wanneer jy ’n koeldrank soek. Dit lyk, ruik en smaak byna nes die ware jakob, maar wees versigtig vir dié koeldranke, maan Aneeka.

“Dit het miskien min suiker, maar die versoeters is nie noodwendig goed vir jou nie. Probeer drinkgoed inneem wat natuurlik is.”

Water bly die beste opsie om jou dors te les. Gee dit meer geur met komkommer, mentblare en suurlemoen.

Jy beplan nie

Dis die doodskoot vir enige dieetvoorneme – jy besluit om dit “te vat soos dit kom”, en voor jy jou kom kry, staan jy in die ry by die werk se kafeteria met ’n pakkie slaptjips in jou hand.

Stel ’n maaltydplan op vir jou week, sê Carey Anne. Sy stel voor jy maak op groot maat kos oor naweke en verpak dit vooraf. Jy spaar tyd en geld en sal baie moeiliker in die versoeking gelei word.

Jy drink jou kalorieë

Jy eet dalk gesond, maar geniet naweke ’n mengeldrankie of drie. Wees versigtig vir daardie “mooi drankies”, sê Aneeka.

“Dit bevat baie versteekte kalorieë wat ?jy dikwels nie by jou daaglikse kalorie-inname intel nie. Probeer om meestal water te drink.”

Huisgenoot kan jou help verslank!
Sluit aan by Klop die skaal.
Sluit aan by Klop die skaal.

Huisgenoot se Klop die Skaal-program is ’n volledige aanlyn eet- en oefenplan van 12 weke vir vroue.

As jy dit reg volg, kan jy tot 1 kg per week afskud – op ’n volhoubare manier. Dit is saamgestel met behulp van die fiksheidsinstrukteur Aneeka Buys en die dieetkundige Carey Anne Seady.

Wat kos dit?

Die program kos R495. Dit is ’n eenmalige betaling – geen maandelikse lidmaatskaptariewe nie. Jy kry toegang tot die webblad met die aanlyn eet- en oefenplan wat ons kenners ontwerp het. Jy het net ’n rekenaar of selfoon met internettoegang nodig.

Hoe werk die oefenplan?

Die oefenplan is vir vroue ontwerp sodat jy vet kan verbrand én gedefi­nieerde spiere kan kry. Dit bestaan uit drie fases van vier weke elk, en elke oefenbeweging word deur ’n nuttige video gedemonstreer.

Jy het net basiese toerusting nodig en kan die ­oefeninge in die gerief van jou eie huis doen – dis soos om ’n persoonlike afrigter in jou woonkamer te hê.

Hoe werk die eetplan?

Die eetplan is deur Carey Anne saamgestel en werk met ’n spesifieke kilojouletelling wat verseker dat jy genoeg energie het. Boonop is dit aanpasbaar en propvol gesonde kos wat goedkoop en maklik is om in die hande te kry.

Die eetplan strek oor vier weke en word drie keer herhaal. Jy kan dus niebederfbare produkte in groot maat aankoop.

Skryf so in

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.