Beproef dié koskombinasies om meer voedingstowwe te absorbeer

EET SAAM: Jogurt + heuning
DIT HELP OM jou bene sterk te hou

Wanneer jy ’n bietjie heuning saam met ’n porsie jogurt eet, absorbeer jy tot 33% meer van die kalsium in die suiwel. Heuning bevat ’n unieke kombinasie koolhidrate, onder meer glukose en een genaamd raffinose, wat vermoedelik die dermmikroflora in die ingewande verander sodat dit kalsium beter absorbeer, sê navorsers.


EET SAAM: Rooivleis + roosmaryn
DIT HELP OM kanker te beveg

Rooivleis is ’n goeie bron van voedingstowwe soos yster, sink en vitamien B12. As die dier gras gevreet het, sal die vleis ook omega 3-vetsure verskaf. Maar as dit teen ’n hoë temperatuur gaargemaak word, kan verbindings vorm wat kanker veroorsaak. Die verbindings word heterosikliese sure (HSS’e) genoem.

Wanneer jy lamsvleis saam met roosmaryn braai, kan die vorming van HSS’e met 30 tot 100% verminder. Roosmaryn bevat verbindings wat keer dat HSS’e vorm.


EET SAAM: Eiers + spinasie
DIT HELP OM jou oë gesond te hou

Eiergeel en spinasie is bronne van luteïen en seaxantien, twee karotenoïede wat ’n rol in die gesondheid van jou oë se makula (die middel van die retina) speel.

Wanneer jy die twee saam eet, absorbeer jy agt keer soveel karotenoïede. Karotenoïede is vetoplosbaar en word baie makliker geabsorbeer wanneer jy dit saam met ’n gesonde vet, soos dié in eiers, eet.


EET SAAM: Tofoe + rooi soetrissie
DIT HELP OM jou risiko vir ’n hartaanval te verminder

Tofoe verskaf ’n skeut fito-estrogene, plantverbindings wat die werking van estrogeen kan naboots, en rooi soetrissies is ’n ryk bron van vitamien C. Op hul eie onderdruk fito-estrogene die oksidasie van LDL- of “slegte” cholesterol, maar die uitwerking is groter wanneer dit saam met ’n bron van vitamien C geëet word.

Dit is goeie nuus vir jou hart, want wanneer LDL-cholesterol geoksideer word, dra dit tot die verharding van die slagare by – ’n risikofaktor vir ’n hartaanval.


EET SAAM: Kerrie + swartpeper
DIT HELP OM diabetes te voorkom

As die kerriespesery borrie bevat, sal dit ’n dosis kurkumien verskaf. Dit is ’n antioksidant wat jou liggaam se insulienrespons ná ’n maaltyd met tot 20% kan verminder en so jou langtermynrisiko vir diabetes help verminder.

Maar kurkumien word nie baie goed geabsorbeer nie. Die oplossing?

Swartpeper bevat piperien, ’n verbinding wat kurkumien se absorpsie met tot 200% verhoog.


EET SAAM: Avokado + wortel
DIT HELP OM jou vitamien A ’n hupstoot te gee

Eet jy dié twee saam, absorbeer jy tot ses keer soveel van die wortel se betakaroteen. Jou liggaam skakel betakaroteen om in vitamien A, wat noodsaaklik is vir ’n gesonde vel en ’n sterk immuunstelsel.

Betakaroteen is ook ’n vetoplosbare voedingstof; daarom kan jou liggaam dit beter gebruik wanneer jy dit saam met ’n bron van gesonde vet, soos avokado, eet.


EET SAAM: Gaar broccoli + radyse
DIT HELP OM gewrigpyn te voorkom

Broccoli is ’n goeie bron van sulforafaan, ’n verbinding wat die vernietiging van kraakbeen in die gewrigte vertraag. Dié vernietiging is ’n deurslaggewende oorsaak van osteoartritis.

Maar die groente se vermoë om sulforafaan te maak word gestroop wanneer dit effens oorgaar is of die kitsvriesproses ondergaan het.

Stel die probleem reg deur gaar broccoli met radyse te kombineer. Die sterk en spesery-agtige groente bevat mirosinase, ’n ensiem wat broccoli se sulforafaaninhoud help herstel.


EET SAAM: Appels + donkersjokolade
DIT HELP OM beroertes te voorkom

Appels bevat kwersetien, en donkersjokolade is ’n ryk bron van katesjien. Albei is kragtige antioksidante, en saam voorkom dit dat plaatjies in die bloed saamkleef.

Die sinergistiese uitwerking, wat jy ook van rooiwyn kan kry, is voordelig vir kardiovaskulêre gesondheid, want wanneer plaatjies te veel aan mekaar kleef, kan dit ’n klont vorm en die risiko vir ’n beroerte verhoog.


EET SAAM: Hoender + kaas
DIT HELP OM jou brein gesond te hou

Wanneer jy hoender en kaas saam eet, voorsien jy jou liggaam van drie van die agt B-vitamiene – folaat, B6 en B12. Hoër vlakke van dié B-vitamiene word met beter kognitiewe prestasie verbind, volgens navorsers.

Een verklaring vir die breinhupstoot is dat die aminosuur homosisteïen in die liggaam opbou as daar nie genoeg folaat, B6 en B12 is nie – en hoë homosisteïenvlakke word verbind met breinkrimping weens ouderdomverwante kognitiewe agteruitgang en demensie.


EET SAAM: Sardientjies + gaar tamaties
DIT HELP OM jou risiko vir hartsiektes te verlaag

Sardientjies en gaar tamaties bevat verskillende soorte hartvriendelike voedingstowwe – die vis is ryk aan omega 3-vetsure en die tamaties aan die antioksidant likopeen.

Eet dit saam en die uitwerking vir jou hart is nog beter. Vroue wat twee weke lank tamatiesap saam met omega 3-aanvullings gedrink het, het laer vlakke van kardiovaskulêre siektemerkers gehad as dié wat net die sap gedrink het.


EET SAAM: Gaar broccoli + radyse
DIT HELP OM gewrigpyn te voorkom

Broccoli is ’n goeie bron van sulforafaan, ’n verbinding wat die vernietiging van kraakbeen in die gewrigte vertraag. Dié vernietiging is ’n deurslaggewende oorsaak van osteoartritis.

Maar die groente se vermoë om sulforafaan te maak word gestroop wanneer dit effens oorgaar is of die kitsvriesproses ondergaan het. Stel die probleem reg deur gaar broccoli met radyse te kombineer.

Die sterk en spesery-agtige groente bevat mirosinase, ’n ensiem wat broccoli se sulforafaaninhoud help herstel.


EET SAAM: Uie + bruinrys
DIT HELP OM jou immuniteit te verbeter

Bruinrys is ’n goeie bron van sink, ’n noodsaaklike voedingstof vir ’n gesonde immuunstelsel, terwyl uie verbindings bevat wat organosulfurs genoem word.

Op hul eie help organosulfurs blykbaar kanker voorkom, maar dit maak ook voedingstowwe wat volop in bruinrys voorkom meer “beskikbaar” vir jou spysverteringstelsel.


EET SAAM: Kekerertjies + suurlemoensap
DIT HELP OM moegheid te bestry

Kekerertjies is ’n ryk bron van yster, ’n voedingstof wat moegheid bestry. Dit bevat dieselfde hoeveelheid yster per 100 g as lamsvleis.

Maar dit is ’n variëteit genaamd niehemiese yster, wat moeiliker geabsorbeer word as dié in vleis. Kombineer dit met ’n bron van vitamien C, soos suurlemoensap, en danksy ’n chemiese reaksie verdriedubbel dit die hoeveelheid yster wat uit die kekerertjies geabsorbeer word.

Foto's: Gallo Images/Getty Images