Groente
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer laas het jy behoorlik jou gesig bekyk? Wanneer jou 30’s en 40’s eers verby is, kan dit ’n ontstellende ervaring wees. En as jy in jou menopouse is en alles van veltoon en plooidiepte tot die toestand van jou lippe bekyk, raak jy dalk sommer emosioneel oor al die tekens van veroudering.

Dit gebeur te gereeld dat vroue die tekens sien, paniekerig raak en botoks, vullers en hormoonvervangingsterapie kies. Maar dit is nie noodwendig die enigste oplossing nie.

Jou gesig is ’n uitstekende maatstaf vir jou algemene gesondheid. As jou gesig oud en moeg lyk, is dit heel waarskynlik omdat jou middeljarige lyf ook so voel.

Min vroue kry in hul middel 40’s die regte voedingstowwe in, en dit is dikwels deel van die probleem. Sedert die middel van jou 30’s, wanneer hormoonvlakke gewoonlik ’n hoogtepunt bereik, is dit belangrik om jou gesig gereeld te ondersoek en noukeurig te kyk hoe dit verander.

Moeder Natuur het jou met ’n klomp visuele leidrade toegerus, en wanneer jy dit ontsyfer het, kan jy die vitamiene, minerale en voedingstowwe begin terugsit wat deur die verouderingsproses uitgeput is.

Die meeste hiervan is maklik bekombaar in dit wat ons eet. Gee dus aandag aan wat jou gesig verklap.

Krake in die vel aan die hoeke van die mond of oë, wat boonop seer kan wees, kan deur ’n swak inname van yster en vitamiene B2 en B6 veroorsaak word.

Vegetariërs en vroue met swaar maandstondes is ook vir die toestand vatbaar. Oplossing Biefstuk of meer neute en sade sal ystervlakke help opstoot.

Pistachioneute bevat besonder baie yster, en lensies ook. Jy kry B-vitamiene hoofsaaklik in volgrane, eiers, vleis en suiwel. ’n Goeie multivitamien-en-mineraalaanvulling wat yster en B-vitamiene bevat, is ’n goeie idee.

GEE VOLUME MET LEMOEN

Groente
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haarverlies word dikwels met mans verbind, maar vroue ervaar dit ook, veral tydens die menopouse wanneer estrogeen- en progesteroonvlakke daal.

Party vroue se hare word oral yler, terwyl ander alopecia areata kry wat tot meer kollerige verlies lei. Dit word dikwels veroorsaak deur lae vlakke van ferritien, ’n bloedproteïen wat yster bevat.

’n Gebrek aan die B-vitamien biotien en vitamien C kan ook ’n probleem wees.

Oplossing

Eet sitrusvrugte wat propvol vitamien C is en boonop ysteropname bevorder. Eiergeel, neutbotters en volgrane verskaf biotien. Of drink ’n multivitamien van goeie gehalte wat yster, biotien en vitamien C insluit.

GROEN BLAARGROENTE VIR ’N ROSIGE GELAAT

Groente
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bleek vel kan weens anemie (bloedarmoede) voorkom. Dit kan gebeur wanneer vroue swaar maandstonde het terwyl hulle menopouse ingaan.

Vegetariërs is ook vatbaar as hul dieet min yster en vitamien B12 bevat.

Oplossing

Yster en vitamien B12 is volop in vleisprodukte en suiwelkosse, maar vegetariërs kan hul ystervlakke versterk deur baie groen blaargroente, neute en sade te eet.

Yster en foliensuur word ook dikwels by sommige ontbytpap gevoeg. Maer vleis, eiers en in ’n mindere mate vis is goeie bronne van vitamien B12.

OLIERIGE VIS VIR MOOI LIPPE

Salm
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy kan in warm en koue weer gebarste lippe kry, maar dit kan ook ’n teken van ’n B12-tekort wees. Geheueprobleme kan ’n ernstige saak vir vroue in hul menopouse wees en word dikwels deur ’n tekort aan hierdie belangrike voedingstof veroorsaak.

As jy dus verstrooid is en ook gebarste lippe kry, is dit dalk die rede. ’n Seer, rooi tong is nog ’n teken van dié tekort.

Oplossing

Vitamiene B12 word die beste deur vleis, salm, melk, kaas en eiers verkry.

Veganiste en vegetariërs moet ’n goeie aanvulling soek.

PATATS VIR ’N DROË VEL

Patat
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy baie tyd in die buitelug deurbring sonder dat jy vogroom aansmeer, of as jy ’n dieet volg wat min noodsaaklike vetsure bevat, kan jy dalk met ’n droë vel sukkel.

Dit kan ook dui op tekorte aan vitamien A, wat vir gesonde selmembrane nodig is, en vitamien E, wat velselle teen skade van vrye radikale beskerm. In die middeljare, wanneer die eierstokke ingee, raak die vel droog weens ’n gebrek aan estrogeen.

Oplossing

Eet groen blaargroente, neute, sade en olierige vis om gesonde selle te help om natuurlike olie te vervaardig.

Ekstra omega-3-vetsure is dikwels nodig, asook ’n aanvulling met baie biotien, sink, seleen en vitamiene E en C, wat die gehalte van jou vel, hare en naels kan verbeter.

Jy kan ook vitamien E-olie aan jou vel smeer. Vitamien A (retinol) is belangrik om die vel veerkragtig te hou en jonk te laat lyk. Lewer, patats en kaas is uitstekende bronne hiervan.

Probeer ook om minstens ses glase water per dag te drink om ’n uitgedroogde vel te voorkom.

STRYK PLOOIE MET ’N MISO-BAK UIT

Misosop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dalende vlakke van estrogeen sal dit vir jou liggaam moeiliker maak om sonskade aan jou vel te herstel. Seleen en sink is belangrike antioksidante, en plooie kan aandui jy het min daarvan.

Oplossing

Navorsing in Japan toon die inname van isoflavoon kan plooidiepte verminder.

Isoflavone is deel van ’n groep plantgegronde chemikalieë wat fitoestrogene genoem word en die vroulike hormoon estrogeen naboots. Sojaprodukte bevat baie daarvan.

Edamame- (groen sojabone in die peul) en misosop is goeie bronne.

TOT SIENS, SUIKER; TOT SIENS, ROOIHEID

Soetrissies
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Rooi, olierige vel – veral aan die kante van die neus – is gewoonlik hormoonverwant. Tydens premenopouse vererger dit dikwels in die aanloop tot ’n maandstonde. Puisies aan die ken is ook algemeen.

Oplossing

Hoe minder verfynde kos jou liggaam moet verwerk, hoe beter. Beperk verfynde koolhidrate soos suiker en witbrood en -meel en verhoog jou inname van vars vrugte en groente tot ses porsies per dag.

PEUSEL AAN LEMOENSKIL VIR ’N STRALENDE VEL

lemoenskil
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Fyn rooi aartjies aan die wange en ander dele van die lyf is dikwels oorerflik.

Oplossing

Vitamien C en bioflavonoïede help om haarvaatjies te versterk. Eet vars vrugte en groente en peusel aan lemoenskil, wat ’n goeie bioflavonoïede-bron is.

VERSLANK JOU GESIG MET SOJA

Sojabone
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Namate ons ouer word, kan dit vir ons liggaam moeiliker raak om verwerkte kosse te hanteer en dit kan tot opgeblasenheid en gewigstoename lei. Jou vel se spiertonus kan ook afneem.

Oplossing

’n Voedsame dieet en kosse wat baie isoflavoon bevat, soos soja, help die brein om te glo dat daar normale hormoonvlakke deur ons lyf sirkuleer en dit help met gewigsbestuur. Gereelde gesigoefeninge kan jou spiertonus help behou en tot ’n jeugdiger voorkoms lei.

BESTRY PUISIES MET NEUTE

Neute
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is ’n mite dat puisies net tieners raak. Hormoonveranderings, spanning en lae sinkvlakke in die middeljare kan dit ook veroorsaak. By volwassenes tas dit gewoonlik die laer dele van die gesig soos die kaak, nek en ken aan.

Oplossing

’n Daaglikse aanvulling van 15 mg sink kan help. Hoër dosisse kan maagongemak veroorsaak en moet net onder mediese toesig geskied. Amandels en Brasiliaanse neute bevat heelwat sink en noodsaaklike vetsure wat die gehalte van jou vel, naels en hare verbeter.

  • Bestel Huisgenoot se tydskrif Huisgenoot Vuurwarm, met topraad oor alle aspekte van menopouse, by 021-406-4962, stuur ’n e-pos na koop@huisgenoot.com of besoek huisgenootwinkel.com.
Bestel Huisgenoot se tydskrif Huisgenoot Vuurwarm,
Bestel Huisgenoot se tydskrif Huisgenoot Vuurwarm, met topraad oor alle ­aspekte van menopouse.

Deur Maryon Stewart; Aangepas deur Rachel Halliwell © Mail Online
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe