Niks klop ’n skuimerige cappuccino om jou op te kikker wanneer ’n spertyd dreigend nader kom nie. En ná ’n lang dag voel dit goed om agteroor te sit met ’n glas wyn of bier. Vier jy saam met vriende iets, is ’n yskoue bottel vonkelwyn net die ding.

Maar watter uitwerking het dié drankies op jou gesondheid? ’n Nuwe boek – The Longevity List: Myth Busting the Top Ways to Live a Long and Healthy Life deur Merlin Thomas, ’n professor in geneeskunde aan die Monash-universiteit in Melbourne, Australië – werp lig op die fassinerende wetenskap agter party van ons sondetjies.

MOET JY DRANK DIE SKULD GEE VIR JOU BOEP?

Foto: Gallo Images/Getty Images

Alle alkoholiese drankies bevat kilojoules, wat gewoonlik amper almal oortollig vir ons liggaam se vereistes is.

Maar anders as ander voedingstowwe in ons dieet, kan die kilojoules wat in die alkoholiese deel van jou drankie voorkom (nie die mengdrankie wat jy daarby skink nie) nie in die menslike liggaam geberg word nie. Alkohol is giftig en moet daarom voorkeur kry om verbrand te word. En dit is wat ons lewer doen.

Maar terwyl ons lewer besig is om oortollige alkohol te verbrand wanneer ons drink, het dit nie tyd om die vet van ander bronne te verbrand nie. Dit verklaar dalk hoekom jy ’n boep ontwikkel. Die alkohol self is dalk net ’n klein deel van die gewigsprobleem, indien enigsins.

In een ondersoek het navorsers twee weke lank vir deelnemers ’n oormaat kilojoules laat inneem – óf in die vorm van melksjokolade óf as ’n ekwivalente hoeveelheid alkohol. Dit is nie verbasend dat die sjokolade-eters 3 kg aangesit het nie. Maar dit is wel verbasend dat die drinkers nie vetter geword het nie (ten minste nie op kort termyn nie), ten spyte daarvan dat hul kilojoule-inname baie soortgelyk was.

Maar as dit nie eintlik die drank is wat jou maag laat bult nie, is dit dalk wat daarmee saamgaan wat tel?

Terwyl bierdrinkers immers hul opsigtelike bierpens het, het wyndrinkers dit nie – selfs wanneer hulle dieselfde hoeveelheid alkohol inneem. ’n Waarskynlike rede is dat bier gewoonlik saam met die alkohol ook volop bygevoegde suiker bevat.

Bierliefhebbers drink oor die algemeen 'n groter volume as wyndrinkers

’n Deursneeglas bier bevat byvoorbeeld ewe veel kilojoules as ’n blikkie kola, en ons weet almal wat te veel gaskoeldrank aan ons middellyf doen. ’n Glas rooiwyn bevat ook ongeveer dieselfde hoeveelheid kilojoules as ’n glas bier. Witwyn het net effens minder. Maar ’n bierdrinker sal oor die algemeen ’n groter volume bier drink as wat ’n wyndrinker wyn sal drink. En dis die rede vir die berugte bierpens.

OPPAS VIR DAARDIE GLAS KOUE VONKELWYN

Foto: Gallo Images/Getty Images

Alkoholiese drankies maak jou vinniger dronk wanneer dit borrelend is as wanneer dit sonder vonkel voorgesit word. Dis deel van die sjarme van bier, jenewer-en-tonikum, rum-en-kola en baie ander bruisende kombinasies.

Maar die beroemdste en bedwelmendste borreldrankie van almal is sjampanje of vonkelwyn. Dit is omdat dit veel meer opgeloste gas as al die ander bevat. Dit is hoekom sjampanjebottels dikker as die deursnee-wynbottel gemaak word en die kurkprop versterk moet word.

Sjampanje sal eenvoudig ’n bierbottel uitmekaarskiet. Selfs sonder dat jy dit skud, is die druk van gas in ’n sjampanjebottel meer as drie keer so sterk as dié in motorbande. En dit verklaar sy borrels, asook sy reputasie om ons vinnig te laat omkantel.

Met die uitskiet van die kurkprop begin koolstofdioksied ontsnap wat in die sjampanje opgelos is. Dit verskyn deels as gasborrels en deels as wasem wat net van die oppervlak van die drankie af wegsweef.

Wanneer ons vonkelwyn drink, is dit steeds vol opgeloste gas, en die gas hou aan om in ons maag vrygestel te word – maar nou teen ’n vinniger koers namate dit tot liggaamstemperatuur verhit en rondgeskud word. Dít is wanneer die vonkelwyn regtig borrel, ons maag vinniger vul en die alkohol in ons derms en tot in ons bloed aanstoot.

Yskoue vonkelwyn maak jou 'n bietjie vinniger dronk.

Die regte temperatuur is ook belangrik as jy wil hê vonkelwyn moet sy wonder verrig. Hoe warmer die vonkelwyn is, hoe meer skuim en borrel dit in jou glas. Wanneer jy dit dan drink, is daar minder opgeloste gas en dus minder bedwelming. Maar wanneer jy yskoue vonkelwyn drink, is daar veel meer opgeloste gas; daarom sal dit jou ’n bietjie vinniger dronk maak.

Daar is nog iets om te oorweeg: Wanneer ’n bottel eers oop is, begin die gas ontsnap. Die eerste glas wat uit die bottel geskink word, is meer bedwelmend as die laaste.

KAFEÏENSKOP

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die uitwerking van kafeïen op die brein begin kort nadat jy jou eerste koppie gedrink het. Dit neem sowat 15 tot 20 minute vir die kafeïen wat jou maag binnegaan om jou brein te bereik.

Die uitwerking van kafeïen is sterker by mense wat nie gereeld koffie of tee drink nie – hulle kan dit bloot gebruik as ’n dwelmmiddel wat prestasie verbeter wanneer dit nodig is. Die meeste mense drink minstens ’n koppie of twee elke dag. Dit laat hul liggaam ’n aanpassing maak en kafeïen teen ’n vinniger koers afbreek. Vir dieselfde koppie koffie sal gereelde drinkers die helfte soveel kafeïen as geleentheidsdrinkers in hul brein kry.

Kafeïen se opkikkervermoë werk die beste wanneer die afstompingsreseptore in ons brein baie besig is, soos wanneer ons baie moeg of van slaap ontneem voel, tydens lang en veeleisende take of soggens terwyl ons nog wakker word.

Maar die voordele van ’n koppie tee of koffie het dalk glad niks met die drankie te doen nie. Dit kan wees dat net die blaaskans vir ’n koppie of twee deur die dag ons gelukkig, beloon en ontspanne, of ten minste vir ’n rukkie ongefokus, laat voel. Statistieke toon trouens depressie is laer onder diegene wat koffie of tee geniet.

DIE DONKER KANT VAN KAFEÏEN

Foto: Gallo Images/Getty Images

Terselfdertyd is kafeïen ongetwyfeld ook ’n dodelike gif. Gelukkig het mense ’n merkwaardige weerstand daarteen. Dit is omdat elkeen van ons ensieme in ons lewer het wat kafeïen vinnig onaktief maak en dit in skadelose metaboliete afbreek.

Om onsself met koffie dood te maak, sal ons ’n halwe kilogram kitskoffie moet eet of amper 50 dubbele espresso’s op een slag moet drink. Die beskermende ensieme is effens minder aktief by vroue, wat beteken vroue kry oor die algemeen meer kafeïen uit ’n koppie koffie of tee as mans.

Die geslagsverskil is nog opmerkliker tydens ’n vrou se swangerskap, waar ’n enkele koppie koffie lei tot hoër en meer volgehoue kafeïenvlakke as andersins.

Daarenteen het katte, honde en voëls geen beskermende ensieme nie. Dit beteken ’n baie klein hoeveelheid kafeïen kan dié diere maklik doodmaak.

HOKAAI MET DIE SUIKER?

Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir gesondheidsbewustes klink die idee van twee teelepels wit suiker per koppie tee of koffie afstootlik. In werklikheid is 63 kilojoules per teelepel nie veel vergeleke met die sowat 8 000 wat ons elke dag elders in ons dieet inkry nie.

As jy jou koffie met twee lepels suiker geniet, is dit nie regtig iets wat jy om gesondheidsredes moet laat vaar nie. Die meegaande muffin met honderde kilojoules is waarskynlik veel gevaarliker as die lepel suiker wat die warm drankie help afgaan.

’n Geredigeerde uittreksel uit The Longevity List: Myth Busting the Top Ways to Live a Long and Healthy Life deur Merlin Thomas (Exisle, R279). Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.