Swart burgerrolletjies en inkagtige roomys sorg vir treffende foto’s in die sosiale media. 

Maar wat is die donker stof wat kos dié kleur gee, en hoekom is party mense so gaande daaroor? 

Dit word geaktiveerde houtskool genoem en het die gesonde-leefstyl-toneel behoorlik oorrompel. 

Dié stof is swart en sanderig met die tekstuur van versiersuiker.

En dit kom nie net in kos voor nie; dis ook op jou plaaslike gesondheidswinkel se rakke en duik in die toiletware-afdeling op in produkte soos tandepasta en gesigmaskers. 

tandepasta,gesondheid,geaktiveerde houtskool
Tandepasta met geaktiveerde houtskool word gebruik om tande wit te maak. Foto:Gallo Images/Getty Images

Of jy nou kies om dit in ’n burger te eet of aan jou gesig te smeer, die idee is dieselfde: Die houtskool bind aan gifstowwe in die derms of aan die liggaam en help sodoende om daarvan ontslae te raak. 

Dit help dus met jou lyf se natuurlike suiweringsprosesse. Jou liggaam absorbeer nie die houtskool nie; dit word dus uitgeskei of afgewas. 

Geaktiveerde houtskool word gewoonlik gemaak van klapperdoppe, bamboes of ander materiaal wat koolstof bevat. 

Dit word teen ’n hoë temperatuur verhit om dit in houtskool te omskep en dan met suurstof behandel om dit te oksideer of “aktiveer”. 

geaktiveerde houtskool,gesigmasker,gesondheid
Gesigmasker. Foto: Gallo Images/Getty Images

In sy rou vorm, voor dit tot die poeier gemaal word wat ons in die winkel sien, het geaktiveerde houtskool ’n poreuse, sponsagtige tekstuur. 

Dis dié piepklein gaatjies wat die stof se filtrasievermoë vermoedelik verbeter. 

Die gebruik van geaktiveerde houtskool as ’n gesondheidshulpmiddel is nie juis nuut nie – dit word lankal in die mediese veld gebruik om dwelm­oordosisse en vergiftiging te behandel omdat die bindingskenmerke van die houtskool keer dat sekere gif­stowwe in die ingewande opgeneem word. 

Maar in sy nuwe gedaante as ’n produk vir ’n gesonde leefstyl lok dit kritiek uit. Ons kyk na albei kante van die storie. 

’N GESONDHEIDSWONDER... 

Daar is min wetenskaplike studies oor die voordele van geaktiveerde houtskool in kos. 

Aanhangers sê die feit dat dit so goed kan filtreer en met ander stowwe kan bind, maak dit ’n goeie teenverouderingsmiddel. 

Hulle sê dit help om cholesterol te verlaag en die gifstowwe te verminder wat tot maagaandoenings en opgeblaasdheid lei. 

Die middel was ook gewild in die Indiese ajoerveda-praktyk en tradisionele Oosterse medisyne, waar dit gebruik is om tande wit te maak en die liggaam van swamspore te reinig. 

geaktiveerde houtskool,hamburger,gesondheid
Hamburgerrolletjies. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bekendes soos Gwyneth Paltrow, Kim Kardashian en Kate Hudson besing die swart poeier se lof; dít het veroorsaak dat dit onder ander mense ook gewild geraak het. 

Maar ondanks die ophef is dit moeilik om wetenskaplike bewyse te vind dat geaktiveerde houtskool regtig werk.

In ’n klein studie uit 2012 is ’n groepie vrywilligers, almal met ’n geskiedenis van dermprobleme, gevra om twee dae agtereenvolgens drie keer per dag geaktiveerde houtskoolpille te drink. 

Navorsers het toe ’n ultraklank geneem, wat gewys het elke vrywilliger se dermkanaal was inderdaad skoner as voor hulle die houtskool gedrink het, met minder van die ensieme wat winderigheid en opgeblaasdheid veroorsaak. 


geaktiveerde houtskool,yslolies,gesondheid
Jogurt-yslollies. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Studie uit 2017, wat in die mediese joernaal PLOS One gepubliseer is, noem ook die potensiaal vir geaktiveerde houtskool om opgeblaasdheid te help verminder. 

In dié 10 dae lange studie het vrywilligers wat drie keer per dag geaktiveerde houtskool gedrink het almal gesê hulle ervaar minder ongemak in die buik. 

Die navorsers het gesê die resultate is “belowend”. 

...OF ’N FOEFIE EN BLOOT ’N GIER? 

Tot dusver is daar geen bewyse dat die inname van geaktiveerde houtskool (buiten vir professionele mediese gebruik) gifstowwe absorbeer nie. 

En baie kenners sê die klein hoeveelheid wat gebruik word om skommels, roomys en brood mee te kleur sal waarskynlik nie ’n uitwerking op gifstowwe in die liggaam hê nie. 

In mediese omgewings het geaktiveerde houtskool wel ’n uitwerking in die ingewande, maar dit bind net met sekere gifstowwe en medisynes eerder as met ’n groot verskeidenheid gifstowwe. 

Dit is al as ’n kuur vir babbelas voor­gehou. Maar weer is dit te goed om waar te wees. 

geaktiveerde houtskool,roomys,gesondheid
Swart roomys. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar’s ’n rede dat dokters in die noodeenheid nie alkoholvergiftiging met houtskool behandel nie – dit is nutteloos wat alkohol betref. 

Al kan geaktiveerde houtskool sekere molekules in sy pad “opsuig”, kan dit nie tussen “goeie” en “slegte” verbindings onderskei nie – nog ’n probleem. 

Bewyse dui daarop dat geaktiveerde houtskool ook aan sekere voeding­stowwe soos kalsium en kalium kan bind en hul doeltreffendheid in die liggaam verminder. 

Jy het dalk gedink daardie duur houtskoolvrugtesap wat jy gedrink het, is propvol vitamien C, maar dis nader aan gekleurde water as wat dit ’n wondermiddel vol voedingstowwe is. 

geaktiveerde houtskool,sap,smoothies,gesondheid
Swart geaktiveerde-houtskool-produkte soos sappe en smoothies is gewild op Instagram. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dieselfde geld vir sekere medisynes. Geaktiveerde houtskool kan die doeltreffendheid van ibuprofeen verminder, asook dié van party voorbehoedpille, teen-inflammatoriese middels en asma-medikasie. 

Wat die eet van geaktiveerde houtskool saam met jou middagete betref: Dit lyk asof die swartgetinte kos nie sleg vir jou sal wees nie, maar dis waarskynlik ook nie die antwoord op jou gesondheids­probleme nie.

Soos met baie selfdoensuiweringskure stem die mediese wêreld oor die algemeen saam: Die lyf suiwer homself reeds goed genoeg van gif­stowwe – geen swart vrugtedrankies word benodig nie. 

© BAUERSYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA