Die middels word ingeneem om die voedingstowwe wat reeds in ons voedsel is, aan te vul, maar navorsers aan die St. Michael’s-hospitaal en die Universiteit van Toronto het in ’n onlangse studie in die Journal of American Cardiology te kenne gegee jy mors moontlik jou geld.

Die span het bestaande data en enkele lukrake studies van Januarie 2012 tot Oktober 2017 ontleed en gevind die algemeenste aanvullings (multivitamiene, kalsium en vitamien C) het geen uitwerking op die voorkoming van hartvatsiektes, hartaanvalle, beroerte of vroeë sterfte nie.

"Ons was verbaas om te sien dat die positiewe uitwerking van die algemeenste aanvullings wat mense inneem, so gering is,” het die hoofskrywer, dr. David Jenkins, opgemerk. 

“Ons oorsig het bevind dat dit geen skade doen om multivitamiene, vitamien D, kalsium of vitamien C te gebruik nie, maar dit hou ook geen merkbare voordele in nie.”

Die term “multivitamien” is in hierdie oorsig gebruik om aanvullings te beskryf wat die meeste vitamiene en minerale bevat, en die data het uitgestippel dat net foliensuur, asook B-vitamiene wat foliensuur bevat, moontlik hartvatsiektes en beroerte kan verminder.

Maar niasien (’n vorm van vitamien B3) en antioksidante, daarenteen, het weinig uitwerking gehad en kan trouens moontlik op ’n verhoogde sterfterisiko dui.

'Geen navorsing het tot dusver bewys dat enige aanvulling gesonder is as ’n voedsame dieet nie.'

Dr. Jenkins hoop dié bevindings sal verbruikers aanmoedig om net aanvullings te neem wat nodig is vir ’n spesifieke kwaal.

"Die bevindings dui daarop dat mense bedag moet wees op die aanvullings wat hulle inneem. Hulle moet seker maak dat die middels van toepassing is op die spesifieke gebrek aan vitamiene en/of minerale wat medies vir hulle aangedui is,” het hy beklemtoon. 

“In die afwesigheid van beduidende positiewe data, behalwe dat foliensuur moontlik die risiko van beroerte en hartsiektes verlaag, is dit die beste om al jou nodige vitamiene en minerale uit ’n gesonde dieet te kry.” 

Hy het bygevoeg dat “geen navorsing” tot dusver bewys het dat enige aanvulling gesonder is as ’n voedsame dieet wat baie vrugte, groente en neute insluit nie.