As een van die basiesste liggaamsfunksies behoort dit so moeiteloos en natuurlik soos asemhaal te wees, sou ’n mens dink.

Maar soms gaan dit so druk dat jy skaars tyd het om toilet toe te gaan, en nog minder tyd om aandag te skenk aan wat daar gebeur, of nie gebeur nie.

Dit is hoog tyd dat ons op ons stoelgang begin let, sê die Britse voedings­terapeut Eve Kalinik in ’n nuwe boek.

Al is die kleur en vorm van jou ontlasting waarskynlik die laaste ding waaraan jy wil aandag skenk, kan dit baie oor jou algemene gesondheid verklap.

Abnormale uitskeiding kan ’n vroeë simptoom van ernstige kwale soos Crohn se siekte of ingewandskanker wees, sê wetenskaplikes.

En hulle maan ’n kwart van ons het stoelgange wat nie as “medies gesond” beskou word nie.

In dié uittreksel uit Eve se boek, Be Good to Your Gut, verduidelik sy hoekom jou maag soms sy ritme kwytraak en presies waarop ons moet let om gevaar­tekens betyds raak te sien.

Maar wees gewaarsku: Sit liewer daardie snoepgoed weg terwyl jy dié inligting probeer verteer.

Ek sou enigeen bevraagteken wat sê hulle het die volmaakte spysvertering.

Ons werk ook belaglik lang ure en eet vinnig, dikwels op ’n drafstap.

In ’n wêreld van verfynde en verwerkte kitskos, ’n hoë inname van suiker, ’n oorvloed kunsmatige bestanddele en chemiese bymiddels moet ons spysverteringstelsel voortdurend ’n aanslag verduur.

Om alles te vererger, eet ons nie genoeg kosse wat ’n gesonde ingewande en sy triljoene inwonende bakterieë help steun nie.

Ons werk ook belaglik lang ure en eet vinnig, dikwels op ’n drafstap. Daardeur plaas ons ons spysvertering onder nog groter druk. Dit is geen wonder ons in­gewande kan bloot nie byhou nie.

Soos julle seker al self ervaar het, laat die ingewande jou wel deeglik weet wanneer dit ontevrede is.

Ongelukkig ­ignoreer mense dikwels voortdurende verteringsimptome of aanvaar dit as “die norm”. Maar met die verloop van jare kan dié skynbaar “mindere” probleme ophoop en tot veel erger wanbalanse lei.

Talle verteringsimptome het geen ­duidelike oorsaak nie. Maar dit het altyd ’n rede (of redes). Die uitdaging is om uit te pluis waar die wortel van die ­probleem lê.

Of jou dermkanaal gesond funksioneer, hang af van die balans van die bakterieë daarin en van die meganiese prosesse van vertering. Die regte soorte kos is nodig om te sorg dat alles glad verloop.

Maar eers moet ons verstaan wat ’n gesonde stoelgang nou eintlik is en hoeveel dit ons oor die gesondheid van ons in­gewande kan vertel.

DIE VOLMAAKTE STOELGANG

Anders as wat baie mense glo, is ontlasting nie bloot die oorblyfsels van die kos wat ons geëet het nie. Dit is veel interessanter.

Ons stoelgang bestaan meestal uit water (daarom is hardlywigheid dikwels bloot die gevolg van ontwatering) en ’n kombinasie van onverteerbare vesel, gifstowwe waarvan die liggaam moet ontslae raak (soos medisyne of cholesterol) en ingewandsbakterieë wat die einde van hul lewe bereik het.

Trouens, net 1 g stoelgang bevat vermoedelik meer bakterieë as wat daar sterre in die heelal is.

Ou bloedselle word ook deur die stoelgang uitgewerp, wat die natuurlike bruin kleur daarvan verklaar.

Kleur is ’n baie belangrike merker.
  • ’n Geel skakering of kleikleur kan ’n teken wees van ’n mikrobiese wanbalans in die dermkanaal of van lewer- of galblaas­probleme.

  • Helderrooi spatsels kleur kan deur aambeie veroorsaak word, terwyl ’n donkerder rooi of swart stoelgang simptome is wat die gevaarligte moet laat flikker en waaroor jy jou dokter moet spreek.

As jy tydens ontlasting pyn ervaar of dikwels ingewandspyne het, is ’n mediese ondersoek ook nodig.

Wat ontlasting betref, moet jy vier sleutelfaktore dophou: gereeldheid, tekstuur, doeltreffendheid en bevrediging.

TRAE GANG

Hardlywigheid verwys na ongereelde en/of moeilike bewegings in die dermkanaal en raak gemiddeld een uit sewe mense. Dit kan verskeie oorsake hê, maar basies is dit die senustelsel se werk om die proses van ontlasting op tou te sit.

As dit nie harmonieus met die ander stelsels in die ingewande saamwerk nie, kan die hele “orkes” van stryk raak.

Baie van ons vind stresvolle situasies en lang reise laat ons tydelik hardlywig word.

In die geval van stres is die ingewande geneig om alles in te hou terwyl die liggaam die onwillekeurige stresreaksie toon van veg of vlug.

Reis en hardlywigheid

Reisverwante hardlywigheid kan dikwels toegeskryf word aan opgewondenheid oor die reis en aan ontwatering.

Op vliegtuie is die liggaam geneig om vog te verloor en die ingewande het baie water nodig vir die eenvoudige daad van uit­skeiding.

Langdurige hardlywigheid verg nadere ondersoek.

Wees met die hulp van jou huisdokter op die uitkyk vir ’n moontlike wanbalans in die dermkanaal of vir ’n ongediagnoseerde skildklierprobleem.

Probeer altyd lakseermiddels vermy, want op lang termyn kan dit die proses van vertering en absorpsie ontwrig.

As jy die proses sagkens wil aanhelp, moet jy die volgende drie eenvoudige dinge in jou lysie afmerk:

1. Drink jy genoeg vloeistof?

Ons het sowat 2 L per dag nodig en die ingewande gebruik baie daarvan. Dit kan dinge vergemaklik as jy meer water drink.

2. Eet jy genoeg vesel?

Ons het dit in ’n onoplosbare sowel as ’n oplosbare vorm nodig, want dit hou verskillende voordele vir die steun van die ingewande in.

Gelukkig het die natuur baie vrugte en groente gemaak met oorgenoeg van albei soorte vesel. Probeer daarom ’n groot ver­skeidenheid eet.  

Fyn lyn- of vlassaad kan besonder doeltreffend vir “stadige bewegers” wees. En liggies gestoofde appels, wat pektien bevat, kan ook ’n goeie dermreguleerder wees.

Maar moenie skielik hope vesel begin eet nie, veral nie as jou liggaam nie daaraan gewoond is nie, want dit kan ander onaangename simptome soos winderigheid veroorsaak.

Die riglyn is dat ons daagliks sowat 30 g voedselvesel moet inneem. As jy vyf tot 10 porsies vrugte en groente eet, met ’n paar uitgeloopte of gefermenteerde grane asook neute en groente daarby, behoort jy jou kwota te haal.

3. Is jy gestres?

As jou lyf gespanne is, is jou ingewande ook. Sluit oefening soos joga en meditasie by jou daaglikse roe­tine in om jou te help ontspan.

Vinkeltee kan ook die ingewande laat ontspan. Laat ’n paar sade in warm water trek en kyk of dit vir jou help.

IN VOLLE VAART

Dringendheid en/of diarree is vir baie mense ’n probleem. Soms het ’n mens ’n spesifieke rede waarom jy blitsvinnig ’n toilet moet vind.

Dit sluit in ernstige bakte­riële of para­sitiese infeksies, dikwels in die vorm van voedsel- of watervergiftiging; te veel alkohol; misbruik van lakseermiddels en sekere medi­synes; en ’n ingewandsiekte soos Crohn se siekte of seervormende kolitis (inflammasie van die dikderm) wat skielik vererger.

Ongediagnoseerde sensitiwiteit of onverdraagsaamheid vir sekere kosse kan ’n ander rede vir vinnige, wisselvallige ingewandsbewegings wees.

Wanbalanse van die mikroflora in die ingewande kan ook dié dringendheid veroorsaak.

Die belangrikste is: Ken jou liggaam en behandel dit goed.

Foto: takealot.com
© Eve Kalinik 2017. ’n Uittreksel uit Be Good To Your Gut deur Eve Kalinik (Piatkus, R589*) * Teen dié prys beskikbaar by takealot.comDie prys was korrek met druktyd en is onderwerpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.  
Die vier sleutelfaktore
  1. Gereeldheid: Een of twee keer per dag op die troon is ideaal. Enig­iets meer of minder kan beteken dinge beweeg nie deur die dermkanaal soos dit moet nie.
  2. Tekstuur: Dis ’n goeie aan­duiding van die gesondheid van die ingewande. Ideaal ­gesproke moet jou ontlasting soos ’n lang, sagte staaf met die tekstuur van roomys lyk. Dit moet ­volledig gevorm wees sonder krake daarin en nie te pap wees nie. Harde klontjies en waterige vloeistof is ­uiterste vorme.
  3. Doeltreffendheid: Die bewegings van die dermkanaal moet glad, vinnig en sonder pyn wees. Dit behoort onnodig te wees om ’n boek saam te neem.
  4. Bevrediging: Wanneer alles uitgewerp is, behoort jy ’n gevoel van verligting of selfs euforie te ervaar.
Wenke vir 'n gesonde stoelgang
Eet meer vesel
Vesel help afvalstowwe uit die derm­kanaal verwyder en is goed vir ingewandsbakterieë. Goeie bronne sluit in vars vrugte en groente soos broccoli en bone, volgrane, neute en veselryke ontbytpap.
Drink water
Water help afvalstowe uit jou dikderm verwyder. As jy hardlywig is, is jou dikderm dalk ontwater. Sorg dat jy baie water drink. Dit sal jou stoel sagter hou.
Stadig met die lakseermiddels
Gebruik lakskeermiddels met omsigtigheid. Sommige van dié middels veroorsaak opgeblasenheid en diarree en kan selfs die simptome van hardlywigheid vererger.
Verminder spanning
Stres kan die dikderm laat saamtrek en tot pyn en harde stoelgange lei. Joga, meditasie en oefening kan stres help verminder.
Ekstra Bronne: dailymail.com, webmd.com, mindbodygreen.com; FOTO: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES