Glo dit of nie, ’n hele klomp dinge wat jy oor jou lyf dink, is ouvroustories. Gedink jou blindederm is ’n nuttelose orgaan, hare groei vinniger nadat dit geskeer is en mans met groot voete is, um, wel, ja . . . Dink weer. Dis alles sommer bog.

In hierdie uittreksel uit sy nuwe boek, Everything You Know about the Human Body Is Wrong, speel die wetenskapjoernalis Matt Brown klaar met ’n hele boel “feite” wat eintlik mites is.

Jou maag sit agter jou naeltjie

Toe nie: Dit sit soos ’n grootbaas bo-op die res van jou ingewande. Dis veel hoër in die buik as wat ’n mens dink.

Soek die plek waar jou onderste ribbes in die middel bymekaarkom, beweeg dan drie vingerbreedtes af en drie na links. Nou is jy regoor die middel van jou maag.

Dit sit nader aan die tepel as aan die naeltjie.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

’n Hart wat gaan staan het, kan aan die gang geskok word

Vergeet maar van al die mediese sepies wat jy al gekyk het – jou hart kan nie met ’n elektriese skok deur ’n defibrillator weer aan die gang geskok word nie.

Werk dit dan nie soos ’n motor met ’n pap battery wat met kabels van ’n ander motor weer aan die gang gesit kan word nie? Nee, wanneer ’n hart gaan staan, beteken dit geen aktiwiteit kan meer in die hart opgespoor word nie.

Die ingewikkelde dans van die elektroliete het ophou werk of tot onwaarneembare vlakke gedaal. Die toepassing van ’n elektriese skok kan niks doen om te help nie.

Elektriese skokke werk net as daar nog ’n mate van aktiwiteit in die hart is

Dis soos om ’n motor wat sonder petrol gaan staan het met kabels aan die loop te probeer kry. Elektriese skokke werk net as daar nog ’n mate van aktiwiteit in die hart is – ’n “skokbare ritme”.

Die individuele selle pomp nog elektroliete, maar nie op ’n gekoördineerde manier nie. Dis net soos ’n groot skare waar elkeen sy eie liedjie sing. Wanneer die hart met ’n defibrillator geskok word, word al die selle as’t ware gedwing om weer tegelykertyd saam te trek.

As dit suksesvol is, hervat die hart sy normale ritme.

Die blindederm beteken niks

Die arme blindederm het ’n swak reputasie as ’n nuttelose orgaan. Die “wurmpie” steek by die grootderm uit, bloot ’n buisie op pad na nêrens. Sy enigste rol is om andersins gesonde mense te laat gil van die pyn wanneer iets skielik met hom verkeerd loop.

Dit kan verwyder word sonder dat dit enige uitwerking op die funksionering van jou liggaam het. Of so het mense nog altyd gedink.

Nou blyk dit die blindederm is ’n opvangplek van nuttige bakterieë. Mikrobes wat ons help om siektes te beveg word hier geberg.

Hulle wag daar om ingespan te word as hul broers elders in die ingewande deur siekte uitgewis word. Die blindederm speel ook ’n rol in die liggaam se immuunstelsel.

In ons jong jare help dit met die vorming van witbloedselle en sekere soorte teenliggaampies. In die fetus vervaardig die blindederm peptiedhormone wat betrokke is by homeostase, die proses waarvolgens die liggaam se inwendige omgewing in balans gehou word.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Mans met groot voete is goed bedeel

Die idee dat ’n man met groot voete ook goed bedeel is, is ’n baie gewilde gerug. Maar die wetenskap wys die waarheid, naamlik daar is geen verband tussen die twee nie.

Dít is bevind in ’n studie wat in 2002 aan die Universiteitskollege van Londen gedoen is.

’n “Gerekte penis” se lengte is 13 cm en ’n deursneemanskoen is ’n nommer nege.

Dis gevaarlik om kougom te sluk

Dié mite het net soveel variasies as wat kougom kleure het. Sommige mense sê kougom kan nie verteer word nie en sit sewe jaar lank in jou ingewande.

Ander meen dit sal aan jou binnegoed vassit en ’n blokkasie veroorsaak.

Nee wat, daar is min gevaar verbonde aan die sluk van jou kouseltjie. Dis waar dat die liggaam min daarvan kan verteer, maar dis nie ’n probleem nie, behalwe as jy ’n hele spul pakkies kougom op een slag sluk.

Die kougom sal ’n paar dae nadat jy dit ingesluk het, uitgeskei word wanneer jy ’n draai loop.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Suiker maak kinders hiperaktief

In teenstelling met wat die meeste mense glo, is daar geen verband tussen die hoeveelheid suiker wat ’n kind inneem en hoe opgewonde hulle raak nie. Daar is uitstekende redes hoekom geen mens te veel suiker moet inkry nie, maar hiperaktiwiteit is nie een van hulle nie.

Die verband – of eerder die gebrek daaraan – tussen suiker en hiperaktiwiteit is al in minstens 12 studies nagevors.

Hiertydens is gekyk na suiker in lekkers, sjokolade, koeldrank en uit natuurlike bronne. In geen van die studies het die kinders op die suikervrye dieet anders opgetree as hul “soet” maatjies nie.

Een studie het selfs na die uitwerking op ouers gekyk. Dié wat gedink het hul kinders het suikerryke koeldrank gedrink (selfs al het hulle nie), het gemeen hul kinders is meer hiperaktief as gewoonlik.

Alkohol maak breinselle dood

’n Oormaat alkohol is nooit goed nie. Alkoholiste loop ’n verhoogde gevaar vir lewer- en hartsiektes, om net twee te noem.

As jy onder die invloed is, kan jy val, met iemand begin baklei of jou oor die algemeen vrot gedra. En dan is daar die babbelas . . .

Nogtans drink baie van ons soms te veel. Wat doen dit aan ons arme brein? Ons hoor dikwels alkohol verwoes breinselle, maar dit bevat net ’n greintjie waarheid.

Alle alkohol word in die lewer afgebreek. Die orgaan is doeltreffend, maar werk stadig.

Baie mense wat alkohol drink, doen dit vinniger as wat die lewer dit kan hanteer. Die oorskot alkohol sirkuleer in jou bloed, ook deur die brein.

Dit vernietig nie die breinselle nie, maar onderbreek wel die oordra van boodskappe. Dit tas jou spraak aan, lei tot duiseligheid en al die ander gevolge van dronkenskap.

Net soos ’n swaar storm jou televisiesein kan onderbreek, maar nie jou TV sal beskadig nie, sal ’n aand van matige drinkery jou brein net tydelik aantas. Maar as jy oor jare swaar drink, kan dit langs ander weë tot breinskade lei.

Die babbelas het niks te make met die dood van breinselle nie, maar wel met ontwatering. ’n Gereelde glas water tussen alkoholiese drankies deur kan help om die volgende oggend se kopseer te verlig.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Vingernaels en hare groei nog ná die dood

As jy jou ooit in die land van die zombies bevind, moet jy seker maak jy het die regte voorkoms. Soos ons almal weet, het die tipiese fliekzombie lang hare, en zombies spog ook met lang naels – nog ’n teken dat hulle dood is.

Want wanneer ons sterf, hou ons hare en naels mos aan met groei. Maar dié stelling is net so ’n wolhaarstorie soos die bestaan van zombies.

Dis fisiologies nie moontlik dat weefsel ná die dood kan aanhou groei nie. Hare en naels bestaan hoofsaaklik uit harde bindweefsel genaamd keratien.

Die arme blindederm het ’n swak reputasie, maar nou weet ons dis die opvangplek van nuttige bakterieë.

Dit kan net groei as die selle waaruit hulle bestaan, verdeel. En dit kan net gebeur as daar ’n toevoer van rou materiaal en energie is, en hiervoor is suurstofryke bloedvloei nodig.

Wanneer die hart gaan staan, stop die bloedvloei ook. Daar is geen manier dat die selle dus kan aanhou verdeel nie. Tog is daar gevalle waar lyke wat opgegrawe is hariger lyk as wat verwag is.

Hiervoor is daar twee moontlike redes. Eerstens droog die liggaam uit in die dae ná die dood. Die vel trek saam en begin vergaan. Hare, en veral stoppels, kan opvallender lyk teen die ingekrimpte vlees.

Tweedens neem die keratien heelwat langer om te vergaan as ander weefsel in die menslike liggaam. Dis dus die opvallendste kenmerk van ’n uitgedroogde lyk.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hare groei vinniger en dikker terug as dit geskeer word.

Dit maak nie saak hoe kort jy jou hare skeer nie, jy raak nie aan lewende weefsel nie. Die deel van elke haar wat lewend is en groei, die follikel, is onderhuids, met ander woorde, onder die vel.

Wanneer ’n lem die hare teen die vel afskeer, skeer dit ’n pad oop tussen selle wat nie meer lewend is nie. Dooie hare praat nie.

Geen boodskap word teruggestuur na die haarwortel wat sê: “Hei, kyk, ek is pas onthoof” nie.

Wat die follikel betref, het jy die hele sigbare haar afgeskeer, net die puntjie of glad niks nie. Daar is dus geen verskil in die gehalte van die haar wat teruggroei nie. Dit skiet ook nie blitsig bo die vel uit nie.

Waar kom dié storie dan vandaan? Dit pas blykbaar by ons ervaring: Stoppels aan die ken of bene voel vir ons baie growwer as die langer hare op ons kop. Dis net omdat die haar nader aan sy wortel effens dikker is as die haar wat toegelaat is om te groei.

Stoppels is effens donkerder as langer hare. Blootstelling aan lig en chemikalieë kan hare bleik – hoe langer hare hieraan blootgestel is, hoe ligter kan hulle word.

As jy hare laat waks, kan dit dalk fyner word. Die hele haar word uitgepluk tesame met dosyne van sy bure. Wanneer dit teruggroei, is dit gewoonlik dieselfde dikte as tevore. Maar as jy gereeld waks, kan die wortelstruktuur beskadig word en tot fyner hare lei.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sommige mense laat nie winde nie

Selfs die koningin laat winde. Min mense sal dit ooit hoor, maar Haar Majesteit laat elke dag minstens ’n dosyn winde. En so ook die res van die mensdom.

Die meeste van die raserige gasse is ’n neweproduk wanneer bakterieë in die ingewande kos afbreek. Die res kom van lug wat jy gesluk het of koolstofdioksied van gaskoeldrank.

Jou tipiese daaglikse gasopbrengs sal ’n 2 L-koeldrankbottel vol maak. Geen mens spring dit vry nie. Ons almal vervaardig gasborrels.

Jy kan dit probeer inhou en jy dink dalk jy het dit reggekry, maar die walms sal die een of ander tyd ontsnap. Die gas kan stadig uitlek of dit kan met ’n gepaardgaande geluid ontsnap.

Winde word nie herabsorbeer nie en hulle gaan ook nie net weg nie. Die goeie nuus is dat winde hoofsaaklik uit reuklose gasse bestaan, onder meer metaan, waterstof, stikstof en koolstofdioksied.

Daardie aardige klankie kom van waterstofsulfied en ander swawelagtige verbindings, maar dit vorm net sowat 1% van jou uitlaatgas.

As jy dus nie onlangs kos geëet het wat baie swawel bevat nie (onder meer sekere groentes, eiers en vleis), sal niemand lont ruik nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Jy kry verkoue as jy in die reën loop

Miskien het ons die idee uit boeke gekry: Die geliefde vlug weg in die reën met ’n gebroke hart, word dodelik siek en bring die volgende 12 hoofstukke in die bed deur. Of sterf weens die nare verkoue.

Die melodrama is dalk goed vir die verloop van die verhaal, maar die idee dat ’n uitgerekte siekte deur ’n bui reën veroorsaak kan word, is ’n bietjie dik vir ’n daalder.

Jy moet aan iets of iemand met die virus blootgestel word voor jy dit self kan kry. Reëndruppels dra nie die virus rond nie. Ook nie ysige winde nie.

Geen boodskap word teruggestuur na die haarwortel wat sê: ‘Kyk, ek is pas onthoof’ nie

Jy kan nie griep kry omdat jy koud en nat is nie; ook nie omdat jy buitentoe gaan met nat hare nie. Daar is egter ’n “maar” wat veroorsaak dat mense dié ouvroustorie bly glo.

Lae temperature kan jou nie ’n verkoue gee nie, maar as jy reeds die virus het, kan koue maak dat die verkoue vinniger toeslaan.

Blootstelling aan koue veroorsaak dat die bloedvate in ons hande en voete saamtrek. Dit beperk bloedvloei hierheen en ook dalk na die neus en keel. Dit beteken minder immuunselle kan hierdie dele bereik.

Die koue kan dus die doeltreffendheid beperk van ’n immuunreaksie op ’n virus wat reeds in jou lugweë is. Dit is nog nie onteenseglik bewys nie, maar dit klink moontlik.

Nog ’n faktor is dat koue of nat weer ons binne hou. Die hitte, die nabyheid aan ander en die kieme wat hulle dra, is ideaal vir die oordra van die virus.

Foto: Gallo images/Getty Images.

Vitamien C voorkom verkoue

Wat doen die meeste mense die oomblik dat hulle begin snuif? Hulle gaan apteek toe en pantser hulle met hande vol vitamien C-pille of eet lemoene by die sakkie vol.

Vitamien C is vroeg in die 20ste eeu ontdek en byna onmiddellik voorgehou as die groot geneser van verkoue. Sedertdien is baie navorsing gedoen oor die verband tussen dié vitamien en siektes, verkoue ingesluit.

Die bewyse bly gebrekkig. Die grootste studie het die uitslae van 29 vorige studies bekyk waarby altesaam 11 000 mense betrokke was. Die navorsers kon geen verband kry nie.

Vitamien C het nie die duur of die ongemak verlig of die mense gepantser teen verkoue nie. Maar mense wat kort tye stres ondervind het, byvoorbeeld marathonhardlopers, het blykbaar by vitamien C baat gevind.

As jy wel meer vitamien C wil inneem, is lemoene nie noodwendig jou beste keuse nie: Broccoli bevat meer – en dit sonder die suiker van die vrugte. Soetrissies en blomkool is ook vol vitamien C.

Uittreksel

’n Uittreksel uit Everything You Know About the ­human Body Is Wrong deur Matt Brown (Pavilion Books, R191).

Verkrygbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.