Linda du Preez* was doodseker sy weet wat fout is toe sy by ’n hospitaal in Johannesburg opdaag. Sy het ’n droë, jeukerige kol aan haar regtertepel gehad wat al twee weke lank daar was. Sy het op die internet daaroor nagelees en lig die personeel toe in dat sy Paget se siekte van die tepel het – ’n skaars soort borskanker.

Die diagnose van die kliniese assistent aan diens, Annelise Ahir, het heeltemal daarvan verskil – en was boonop aansienlik minder ernstig. Dis ’n swaminfeksie, het sy gesê en teenswam­medikasie en ’n salf voorgeskryf om dit te behandel.

Maar Linda (23) wou niks weet nie. Sy wou chemoterapie ontvang vir die kanker wat sy oortuig was sy het, en sy het daarop aangedring dat ’n dokter haar spreek.

Annelise se ervaring is deesdae algemeen onder mediese personeel omdat ál meer mense hulle tot die internet wend om te hoor wat “dr. Google” sê en hul kwaal dan self diagnoseer.

“Pasiënte kom dikwels na dokters en ­ander gesondheidsorgverskaffers nadat hulle reeds self ’n gevolgtrekking oor hul toestand gemaak het en sê dan vir ons wat hulle dink moet gebeur,” sê dr. Thuthukile Goba, ’n huisdokter van Durban in KwaZulu-Natal.

“Jy kry soms baie teenstand as jy raad gee wat verskil van dit wat hulle verwag. Dit is algemener in die staatsdiens, waar pasiënte nie die dokter kies wat hulle behandel nie. Party beledig en dreig selfs dokters en verpleegsters wat nie aan hul eise wil toegee nie.”

DIE PROBLEEM MET DR. GOOGLE

Wanneer jy ’n gesondheidsprobleem ervaar, is die versoeking om met behulp van die internet te probeer uitpluis wat fout is groot en moeilik om te weerstaan – al weet jy die inligting wat jy op Google kry, behoort nie regte mediese raad te vervang nie.

Die meeste van ons het al iewers in ons lewe ’n vreemde merk of knoppie aan ons lyf gekry en nes Linda vir ’n diagnose na Google gehaas. Kort voor lank verander iets wat waarskynlik ’n insekbyt is sommer in ’n moontlike geval van velkanker.

“Dis belangrik om te onthou dat Google nie medies opgelei is nie en dus nie holisties na ’n pasiënt kyk nie,” sê Annelise.

“Google kry bloot inligting oor ’n simptoom en bied dit dan aan jou.”

Die probleem is dat dit jou óf kan laat glo iets is baie ernstig wanneer dit nie is nie óf kan laat dink daar is niks fout nie wanneer dit wel moontlik ’n ernstige gesondheidsprobleem kan wees.

PASOP VIR VERKEERDE INLIGTING

Volgens onlangse navorsing sê baie pa­siënte nou die internet is hul hoofbron van gesondheidsinligting.

Dis nie noodwendig sleg nie, maar die navorsing wys ook dat pasiënte met heelwat meer verkeerde inligting by dokters opdaag. Dit beteken daar is ’n akkuraatheidsprobleem weens die web­tuistes waar mense hul inligting kry.

Aanlyn inligting kan bloot verkeerd wees, of dit kan so geskryf wees dat die man op straat dit nie verstaan nie, wat verwarring kan veroorsaak.

“Verskeie toestande het dikwels soortgelyke simptome, en pasiënte bekommer hulle dan oor die moontlikheid van toestande waarvoor hulle nie eens ’n risiko loop nie,” sê Thuthukile.

Die Amerikaanse inligtingsmaatskappy IMS Institute for Healthcare Informatics het Wikipedia as die topbron vir gesondheidsinligting onder pasiënte geïdentifiseer. Maar enigeen met ’n rekenaar kan Wikipedia-artikels skep of herskryf; dus is die inligting nie noodwendig akkuraat nie.

Dokters en ander gesondheidswerkers het dit probeer aanpak deur Wiki­Project Medicine te skep – ’n groep wat hom daarop toespits om die gehalte van mediese inligting op Wikipedia te verbeter deur medies opgeleide personeel die inhoud op die blad te laat redigeer.

Maar selfs webtuistes en joernale vir mediese navorsing is nie onfeilbaar nie. Een van die beste voorbeelde hiervan is toe die Britse dokter Andrew Wakefield – wat sedertdien in oneer verval het – ’n artikel gepubliseer het waarin hy aanvoer dat hy ’n verband tussen kinderinentings en outisme gekry het.

Dit is later verkeerd bewys en sy navorsing is uit mediese joernale verwyder, maar nie voor dit baie skade aangerig het nie. Party mense is steeds bang om hul kinders te laat inent – dit als oor verkeerde mediese inligting.

KENNIS IS MAG

Maar dr. Google is nie nét sleg nie – hy hou ook voordele in. Met die regte kennis kan mense in beheer van hul siekte en behandeling bly. Party dokters vind dit nuttig om hul pasiënte na aanlyn gemeenskappe te verwys.

Onthou: Google gee jou ’n breë spektrum inligting. Maar dit kan nie holisties na jou kyk nie.

Ondersteuningsgroepe kan byvoorbeeld emosionele bystand bied aan mense met ’n verskeidenheid gesondheidskwessies, van diabetes tot depressie.

Maar hoe kan ons die kaf van die koring skei wanneer ons aanlyn na gesondheidsinligting soek?

“Gebruik Google as ’n inligtingsplatform en nie vir ’n diagnose nie,” sê Annelise.

“Onthou: Google gee jou ’n breë spektrum inligting. Maar dit kan nie holisties na jou kyk nie.

“Ek het geen probleem daarmee om Google aan te beveel as ’n manier waarop pasiënte inligting kan kry nie, maar my raad aan hulle is om dit nie toe te pas nie,” voeg sy by.

“Toegepaste en praktiese gesondheidsorg is iets heel anders.”

Thuthukile stem saam dat dit die beste is om nie aanlyn na ’n diagnose of ’n behandeling te soek nie. “Soek liewerer plekke waar jy hulp kan kry,” stel sy voor.

Dis ook belangrik om wyd te lees en nie jou soektogte te beperk nie, sê sy. “Dis belangrik om jou algemene kennis oor gesondheidskwessies te verbeter. Hoe meer bronne jy lees, hoe beter is die kans dat jy die beste inligting kry.”

Maar wees oordeelkundig.

“Gebruik bekende bronne wat nagegaan kan word. Kyk na die skrywers se kwalifikasies en gaan hul registrasie by regulerende owerhede na,” voeg sy by.

Dit sluit die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe en die Suid-­Afrikaanse Aptekersraad in.

Annelise beveel ook die volgende webtuistes aan: who.int, nih.gov, cdc.gov en medlineplus.gov. Beproef dié webtuistes vir algemene gesondheidsinligting: webmd.com, mayoclinic.org en nhs.uk.

Maar onthou altyd: Aanlyn gesondheidsoektogte is nie ’n plaasvervanger vir professionele mediese sorg nie.

* Skuilnaam.

EKSTRA BRONNE: BIZCOMMUNITY.COM, FT.COM, MSN.COM, WTOP.COM, HEALTH24.COM, ELSEVIER.COM
Kry hier inligting oor die coronavirus

Die wêreldwye COVID-19-pandemie laat ons almal halsoorkop aanlyn inligting soek – en daar is tans soveel nuus hieroor dat dit verwarrend kan wees om te weet waar jy betroubare inligting kan kry wat op datum is.

Die internet is ’n wonderlike hulpbron, maar dit maak dit ook moontlik vir die verkeerde inligting om vinniger as die virus self te versprei.

Hier is twee betroubare webtuistes waar jy die jongste inligting kan kry:

  • Health24.com – Kry hier die basiese beginsels oor hoe om jouself te beskerm, die kriteria vir ’n moontlik geval, die jongste getal bevestigde gevalle in Suid-Afrika en hoe om die verskil tussen griep, allergieë en Covid-19 uit te ken.
  • who.int – Die Wêreldgesondheidsorganisasie se afdeling oor die nuwe coronavirus is ’n betroubare bron van inligting. Kies “Advice for the public” en dan “Myth busters” om te lees watter van die inligting wat die rondte doen vals is.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.