Vetsug word verbind met ’n aantal gesondheidsprobleme, soos tipe 2-diabetes, koronêre hartsiekte en beroerte, asook potensiële geestesgesondheidsprobleme soos depressie en ‘n lae selfbeeld.

Hoewel ons geneig is om te aanvaar ekstra gewig is gelykstaande aan swakker gesondheid, is daar in ’n studie by York-universiteit se fakulteit van gesondheid bevind oefening kan die negatiewe gevolge van vetsug teenwerk, mits mense gereeld oefen.

Navorsers het ’n kliniese ondersoek, onder meer ’n vastende bloedtoets en ’n maksimale trapmeul-strestoets, op 853 individue gedoen.

Daar is in die studie bevind 41 persent van deelnemers met ligte vetsug het hoë fiksheidsvlakke, terwyl 25 persent en 11 persent van die deelnemers met onderskeidelik matige en erge vetsug hoë fiksheidsvlakke het.

Vetsug word slegs in onfikse individue met swak gesondheid verbind

Hierdie bevindings bewys dat daar nie altyd ’n verband is tussen fiksheid en liggaamsvet nie, sê dr. Jennifer Kuk, medeprofessor by York-universiteit se skool vir kinesiologie en gesondheidswetenskap.

“Vetsug word slegs in onfikse individue met swak gesondheid verbind,” het sy gesê. “Ons weet sodra jou LMI verby 40 is, verhoog die risiko vir kardiovaskulêre toestande aansienlik. Omdat hierdie studie toon dat hoë fiksheidsvlakke steeds voordelig is by vetsugtiges, versterk dit die belangrikheid van fikswees.”

Die resultate van die studie het ook aangedui die fiksheidsgraad wat nodig is om gesondheidsvoordele te behaal, is laer as wat ’n mens mag glo. Die navorsing het getoon individue met erge vetsug is meer geneig om met toestande soos hoë bloeddruk te sukkel as hulle in die laagste 20 persent van fiksheidsvlakke is, maar as hulle in die boonste 80 persent val het hulle nie die groter geneigdheid tot hierdie siektes nie. 

“Daar is sommige pasiënte wat hul gesondheid aansienlik wil verbeter en ander wat net mooier wil lyk,” het dr. Sean Wharton, ’n medewerker, gesê. “Wat gesondheid betref, versterk hierdie studie die idee dat mense nie nodig het om gewig te verloor om gesond te wees nie.”