Meer as ’n jaar het verloop, maar die geluid van ’n hoes of nies saai steeds paniek in winkelgange en by taxi-staanplekke soos mense sosiale distansiëring probeer handhaaf. Teen hierdie tyd is die meeste van ons bewus van die gevare van die coronavirus.

Dis egter ook belangrik om nie te vergeet van nog ’n virus wat op pad is nie: griep. Griep-epidemies lei jaarliks tot ’n geraamde drie tot vyf miljoen ernstige gevalle en tussen 290 000 en 650 000 sterftes wêreldwyd. 

Gedurende die griepseisoen in Suid-Afrika, gewoonlik tussen Mei en September, is daar jaarliks sowat 11 800 griepverwante sterftes, volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD).

Daarbenewens is daar ’n geraamde 47 000 voorvalle van ernstige akute asemhalingsnood wat met griep verbind word, waarvan 22 481 tot hospitalisasie lei.

Daar is geen twyfel nie, griep is ’n ernstige saak. En met die bedreiging van covid-19 wat nog skuil, is dit die beste om in hierdie stadium dit te probeer vermy om enige vorm van griep op te doen. 

Voorkoming

Nes die coronavirus versprei griepvirusse van mens tot mens. Dit kan oorgedra word deur blootstelling aan aansteeklike druppels wat deur hoes of nies uitgeskei en dan ingeasem word. Hierdie druppels kan ook hande of oppervlakte wat baie gebruik word, besmet. 

En nes die coronavirus is dit moeilik om oordrag na ander mense te voorkom.

Sekere maatreëls – waarvan sommige danksy covid-19 baie bekend behoort te wees – kan help om die kanse te verminder dat jy die kieme aan enigeen sal oordra: 

  • Bly tuis tot jou simptome weg is (minstens 24 uur).
  • Vermy nabye kontak met ander, veral diegene wat hoërisiko is.
  • Geen aanraking, soengroet of drankies deel nie.
  • Bedek jou mond wanneer jy hoes of nies. Doen dit in jou elmboog, nie jou hande nie.
  • Was jou hande deeglik en gereeld. 
  • Maak enige oppervlakke skoon wat met ander gedeel word, soos deurhandvatsels. 

Die gevaartekens

Griep is ernstiger as ’n verkoue en moet gemonitor word. Jy moet ’n dokter raadpleeg as jou toestand nie binne vier tot sewe dae verbeter nie, of as jy enige van die volgende simptome ontwikkel: 

  • Kortasemheid
  • Bors wat fluit
  • Borspyne
  • ’n Chroniese nat of droë hoes
  • Sinuspyn
  • Oorpyn
  • Temperatuur bo 40 °C
  • Chroniese moegheid en lusteloosheid.
Vrou met verkoue
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat kan jy doen?

As jy begin voel asof jy dalk griep of selfs ’n verkoue het, beveel dokters aan dat jy ’n parasetamol of aspirien-tablet neem, baie vloeistowwe drink, oefening vermy en baie rus. 

Daar is geen bewyse dat vitamiene sal help nie, en moet ook nie na antibiotika reik nie.

“Dokters skryf gewoonlik antibiotika voor om siektes te behandel wat met griep en verkoue verbind word, soos sinus- en oorinfeksies of brongitis, maar antibiotika beveg bakterieë, nie die virus nie,” sê dr. Elijah Nkosi van Soweto. 

Daar is geen kuur vir griep nie, maar die doeltreffendste metode vir voorkoming en beheer van die infeksie is die griepinspuiting. “Die griep-entstof is baie belangrik vir mense wat die hoogste risiko loop om griep te kry,” sê Elijah.

“Dit sluit in bejaardes, babas en mense met verswakte immuunstelsels omdat hulle met MIV of kanker leef.”

Elijah sê die beste is om jou inspuiting so vroeg moontlik te kry omdat dit tyd verg vir die liggaam om teenliggaampies teen die virus te ontwikkel. Hy stel egter voor dat jy nie die inspuiting kry as jy nie goed voel nie. 

“Dis nie raadsaam om die entstof te kry wanneer jy verkoue/griep het of nie goed voel nie, want jou immuunstelsel is dalk swak en die virus in die entstof kan jou besmet omdat jou liggaam nie homself kan verdedig nie.”

Die entstof

Vanweë hul veranderende aard, monitor die Wêreldgesondheidsorganisasie die epidemiologie (voorkoms, verspreiding en beheer) van griepvirusse reg oor die wêreld.

Daar word jaarliks aanbevelings gemaak oor stamme wat in die entstof vir die volgende griepseisoen opgeneem moet word, met afsonderlike stowwe vir die suidelike en noordelike halfrond.

Vanjaar, met die voortdurende aanwesigheid van covid-19, beveel die NICD die griepinspuiting sterk aan, want dit kan help om die aantal mense wat in die hospitaal opgeneem moet word, te verminder.

“Dit is veral belangrik om gesondheidswerkers te beskerm en te verseker dat hulle in staat is om te werk en om ekstra las op die gesondheidstelsel te verminder,” sê hulle.

Benewens gesondheidswerkers, noem die NICD die volgende as prioriteitsgroepe vir die entstof:

  • Mense ouer as 65
  • Mense met kardiovaskulêre siektes (insluitend chroniese hartsiektes, hoë bloeddruk en beroerte) en chroniese longsiektes (insluitend asma en chroniese obstruktiewe longsiekte)
  • Swanger vroue op alle stadiums van swangerskap, insluitend die tydperk ná geboorte.
  • Diegene wat MIV-positief is. 
Die verskille tussen verkoue en griep

Verkoue

“Verkoues is die resultaat van waarskynlik duisende virusse,” sê dr. Dina de Bruyn van Kaapstad. “En hierdie virusse is nie lewensbedreigend nie.”

Die volgende simptome dui op ’n verkoue:

  • Seer keel
  • Loopneus met deurskynende, wit of grys slymafskeiding
  • ’n Droë of nat hoes.

Griep

  • “Griep is ernstiger en word veroorsaak deur die griep A- en B-virusse,” sê Dina.
  • “Hierdie virusse lyk elke seisoen anders en moet elke jaar met nuwe medikasie beveg word.”

As jy griep het, sal jy die volgende simptome tesame met die verkoue-simptome hierbo gelys, ervaar: 

  • Temperatuur bo 38 °C
  • Seer gewrigte en spiere
  • Hoofpyn
  • Naarheid en braking
  • Matige diarree aan die begin van die siekte. 


EKSTRA BRONNE: CDC.GOV, NHS.UK, NICD.AC.ZA