Die gimnasium kan 'n intimiderende plek wees vir nuwelinge. Waar begin 'n mens, en wat doen jy met al die masjiene?

Die belangrikste is om die bal aan die rol te sit! Hier is ses wenke van Rudolf van Zyl, ’n persoonlike afrigter aan die Virgin Active-gimnasium op Stellenbosch.

1. Gaan besoek die fasiliteit vooraf

"Dis belangrik dat jy die gim voor die tyd gaan besoek sodat jy kan sien waar al die toerusting is," verduidelik Rudolf. "Dit sal jou net soveel meer op jou gemak stel as jy weet waar als is." 

2. Ontspan, die gespierde lywe byt nie

Volgens Rudolf is die ouens met die groot spiere in die meeste gevalle baie gretig om jou te help. "Hulle het heel waarskynlik ook aan die begin by iemand gaan kers opsteek. Gim is hul passie en hulle sal diwels oop wees om te gesels oor hul oefenprogramme, wat hul dieet bevat en so meer."

3. Kry ’n persoonlike afrigter as jy kan

Indien jy ’n persoonlike afrigter kan bekostig, moedig Rudolf aan dat jy vir vyf oefensessies aansluit. "Dis ’n goeie manier om die toerusting te leer ken. Jy sal meer leer oor wat jy daarmee kan en wil doen. Dit gee jou oefensessies ook ’n bietjie meer struktuur – jy sal byvoorbeeld sien watter oefeninge jy in 45 minute kan doen." 

4. Identifiseer ’n vriend wat gereeld oefen en gaan saam met hulle

"Dit sal jou ’n ander perspektief gee, sodat jy ook hulle oefenroetine beleef. Jy sal ook meer op jou gemak wees as jy saam met iemand gaan wat jy reeds ken. Julle kan mekaar ook aanspreeklik hou vir die dae wanneer jy nie lus voel vir oefen nie," verduidelik Rudolf. 

5. Sluit by 'n paar klasse aan

Die klasse wat deur die gimnasium aangebied word, gee jou die geleentheid om nuwe mense te ontmoet en jou selfvertroue 'n hupstoot te gee

6. Doen jou eie navorsing 

Doen jou eie navorsing oor die verskeie oefenprogramme, maan Rudolf. "Sommige mense verkies oefenfietse om gewig te verloor; ander wil weet hoeveel heralings hulle moet doen om meer spierkrag te kry, gewig te verloor of beter spiertonus te kry. As jy reeds vooraf aanlyn hieroor nalees, kry jy 'n idee van in watter soort oefeninge jy belangstel." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.