Blou are wat dik en onaansienlik op hul bene bult, is vir baie vroue ’n verleentheid.

Dit lyk nie mooi nie. Maar spatare is meer as ’n kosmetiese probleem. Dit kan pyn en ongemak veroorsaak en versuur ook die lewe van talle mans.

Die goeie nuus is dit kan behandel word, al is dit soms moeilik om die toestand te diagnoseer. Julia Coetzee (69)* het in Desember 2006 agtergekom haar bene voel swaar en is gevoelig.

Dit was pas nadat sy verhuis het en haar werkplek se kantore geskuif het, en sy het gedink dis weens die ronddra van swaar bokse. Toe haar enkels later begin swel, het dié administrateur van ’n prokureursfirma in Kaapstad by haar huisdokter gaan aanklop.

Omdat daar nie groot, verhewe are op haar bene was nie, het sy glad nie vermoed sy het spatare nie. Maar die huisdokter het haar na ’n vaskulêre ­spesialis verwys, wat spatare gediagnoseer en ’n operasie aanbeveel het.

’n Paar maande later, in April 2007, is sy in die hospitaal opgeneem vir ’n prosedure waar insnydings aan die agterkant van haar bene gemaak is en die spatare afgebind is.

Dit is onder epidurale verdowing gedoen en sy moes een aand in die hospitaal oornag. “Ná die operasie was my bene steeds gevoelig en my enkels geswel. Ek het aangeneem die genesingsproses sal tyd neem, maar naderhand het ek pynpille nodig gehad.”

Julia is terug na die spesialis en het selfs ’n tweede mening gekry, maar niemand kon haar help nie. Sy het die ongemak verduur en jare lank met pynpille en nievoorskrifmedikasie bestuur. ’n Ortopeed wat haar vir ’n voetprobleem behandel het, het voorgestel sy probeer drukkouse.

“Die kouse het gehelp om die pyn te verlig.”

Sowat twee jaar gelede het ’n ander algemene praktisyn Julia na ’n spesialis in die Vascular Centre in Kaapstad verwys. Dié het vasgestel sy het steeds spatare. Ná ’n binneaarse ablasieprosedure om die are met ’n kateter te seël het sy nou geen ongemak of pyn meer in haar bene nie.

Die behandeling was pynloos en is sonder narkose in die dokter se spreekkamer gedoen. Julia sê sy dra nog daagliks haar drukkouse en gaan gereeld vir ondersoeke om die toestand te bestuur. Ons het by kenners gaan hoor wat spatare is en hoe dié onooglike en soms pynlike toestand behandel kan word.

Wat is spatare?

Daar is verskillende soorte spatare, en die verskil lê hoofsaaklik in hul grootte. Dun spinnekopaartjies onder die vel verskyn dikwels agter jou knieë, maar kan op enige plek op jou liggaam voorkom.

“Dis eintlik net ’n kosmetiese probleem,” sê dr. Laura Redman, ’n vaskulêre spesialis van die Vascular Centre. Oor die algemeen verwys spatare na dik, verhewe are aan ’n mens se bene, maar dis nie noodwendig pynlik nie, sê dr. Ariel Eyal, ’n vaskulêre chirurg van Boksburg.

“Die sigbare are is gewoonlik vertakkings van are dieper in die been. Dit is nie net ’n kosmetiese probleem nie; dit hou ook ’n gesondheidsrisiko in,” sê Laura.

“Een van die gevorderdste stadiums van spatare is wanneer wonde of sere aan bene en enkels vorm. Dan is dit moeilik om die toestand te bestuur, want die sere vat lank om gesond te raak.”

Verhewe are is maar een van die simptome. Velirritasies, -uitslag, -verkleuring, jeukerigheid, swelling en sere wat sukkel om gesond te raak is ook algemeen, sê Ariel.

“Bene kan teen die einde van die dag swaar, moeg en seer voel. Gewoonlik voel die been piekfyn terwyl jy stap, maar vererger die simptome deur die dag.” Die toestand tas jou lewensgehalte aan, maar is oor die algemeen nie lewensgevaarlik nie, sê Laura.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wat is die oorsake?

Jou hart pomp vars suurstofryke bloed na die verskillende liggaamsdele, en vir die suurstofarm bloed om uit jou bene na die hart terug te keer, werk jou kuitspiere soos pompe en is daar eenrigtingkleppe in die beenare wat keer dat die bloed weens gravitasiekrag na jou voete terugvloei, verduidelik dr. Johan Blignault, ’n vaskulêre spesialis van die Vein Centre in Durban.

“By sommige mense rek die are en raak die kleppe mettertyd beskadig,” sê Ariel.

Die verhewe are wat jy kan sien, is are wat vergroot het omdat dit gerek het. “Enige toestand wat drukking in die aar verhoog, kan tot verrekking lei.

Die rek-aksie beskadig die kleppe, wat die drukking in are selfs meer kan verhoog en aarfunksie verder belemmer.

“Een van die algemeenste oorsake van skade aan aarkleppe is bloedklonte, ook bekend as diepaartrombose. Dit beteken ’n klont vorm in die aar, wat inflammasie veroorsaak en littekens aan die binnekant van die aar maak en so ook die delikate klepstruktuur beskadig,” sê Ariel.

“Chirurgie of ’n besering aan die been naby die are kan die bloedvloei deur ’n aar beperk, wat beteken die drukking in die aar verhoog. Vetsug of die bykomende gewig as vroue swanger is, kan ook die drukking verhoog,” sê hy.

“By mense wat werke doen waar hulle baie sit of staan, word die vloei van bloed uit die bene verminder. Die bloed dam op en lei tot meer druk in die are. Dié drukking veroorsaak simptome soos pynlike geswolle bene,” verduidelik Ariel. 

Spatare is dikwels oorerflik, sê Laura, en kan op enige ouderdom verskyn. Daar is selfs mense wat dit eers op 80 of 90 jaar ervaar.

Behandeling?

Hoewel spatare nie voorkom- of geneesbaar is nie, kan dit behandel en bestuur word, sê Laura.

“As jy spatare opmerk, is dit raadsaam om by ’n spesialis aan te klop om vas te stel hoe erg dit is en watter soort behandeling die beste sal werk,” sê Johan.

“Die prosedures is deesdae nie so indringend nie. Dit kan meestal onder plaaslike verdowing en in ’n dokter se spreekkamer gedoen word en duur tussen 30 en 45 minute. Jy kan die volgende dag weer jou normale gang gaan.

“Die algemeenste behandeling is ­binneaarse ablasie, waar ’n klein draadjie, oftewel ’n kateter, in die aar geplaas word. Die bopunt van die draadjie word deur radiofrekwensie- of laserenergie verhit om die aar te seël.”

Nadat ’n aar geseël is, kan die bloed nie meer daardeur vloei nie en vloei dit deur ander, gesonde are in die been. Skleroterapie, ’n binneaarse behandeling, maak gebruik van ’n kateter wat ’n dun draadjie het wat teen hoë spoed binne die aar roteer, waarna ’n chemiese middel ingespuit word om die aar te seël.

Dit kan ook klein spat­aartjies vernietig, sê Ariel. Spatare kan chirurgies verwyder word deur snytjies in die vel te maak waardeur die are uitgehaal word, verduidelik Laura.

Niechirurgiese behandelingsopsies kan soms help om simptome te verlig of wanneer iemand net ’n ligte vorm van spatare het, verduidelik Ariel. Dit sluit kuitoefeninge in of om dikwels op te staan en rond te loop as jy lang tye moet sit of staan.

Dit sal nie die spatare minder sigbaar maak nie, maar wel die drukking en swelling verminder, die bloedvloei laat toeneem en die ongemak verlig.

“Die eenvoudigste behandeling is kouse wat druk op die been uitoefen en so bloedvloei verbeter,” sê Ariel. Drukkouse verskil; daarom moet jy ’n kenner raadpleeg voor jy dit aanskaf.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Sal die mediese fonds betaal?

Dit hang af van die fonds waartoe jy behoort. Indien wel, moet daar eers met ’n sonar­skandering vasgestel word of die behandeling nodig is, sê Johan.

“Kosmetiese behandeling word gewoonlik nie deur die mediese fonds gedek nie.”

“Kateters vir binneaarse behandeling word ingevoer en is gewoonlik duur,” sê Laura. “Die koste van behandeling wissel na gelang van of die behandeling in ’n hospitaal of spreekkamer gedoen word.”

Binneaarse behandeling kan tussen R24 000 en R34 000 kos, sê Johan.

“As dit in ’n hospitaal gedoen word, kan dit min of meer dubbel soveel kos.”

Volgens ’n Pretoriase verskaffer van drukkouse wissel die prys van R750 tot R1 500, of selfs duurder. Die meeste mediese fondse dra die koste van drukkouse onder sekere voorwaardes. 

*Skuilnaam