Hoe de hel het ek hier beland? wonder ek toe ek tussen die kraakwit hospitaallinne inkruip en vir my dokters wag.

Ek is in bed 18 van saal G in ’n privaat hospitaal, die deel vir psigiatriese pasiënte – soos ek.

Drie dae tevore het ek dit voel aankom, soos verkoue. ’n Onsigbare vuis klem om my hart; my bors trek toe. Ek word wakker van ’n paniekaanval en dit voel asof ek nie kan asem kry nie.

Vir die eerste keer in my lewe oorweeg ek selfdood. Ek voel desperaat.

In die gim kap ek amper om en ek voel duiselig in die stort en op pad werk toe.

Gelukkig het ek die volgende dag ’n afspraak met my psigiater. Ek huil onverwags en onophoudelik. ’n Ontroosbare hartseer en hopeloosheid is diep binne my genestel.

Vir die eerste keer in my lewe oorweeg ek selfdood. Ek voel desperaat.

Die laaste ruk was depressie juis weer in die nuus met die skielike selfdood van die Amerikaanse modeontwerper Kate Spade (55) en, kort daarna, die Amerikaanse sjef en TV-persoonlikheid Anthony Bourdain (61).

Albei was suksesvol, maar albei het glo ’n stryd teen depressie gevoer.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) eis selfdood jaarliks sowat ’n miljoen lewens, waarvan die meeste weens ongediagnoseerde of onbehandelde depressie is.

Statistieke gegrond op die inligting op doodsertifikate wys tot 500 mense in Suid-Afrika neem jaarliks hul eie lewe, sê Statistieke Suid-Afrika.

Maar volgens navorsers van Africa Check is dié syfer veel hoër: In 2012 het hulle bereken was daar 6 133 gevalle van selfdood in ons land.

Daar wás voor die tyd tekens. Hy het daaroor gepraat.

Ek dink aan ’n vriend wat homself ’n paar maande gelede in ’n hotel op Beaufort-Wes opgehang het. Sy suster het vir my beeldmateriaal van veiligheidskameras gewys van hom wat met ’n sak vol drank opstap na sy kamer toe, vir die laaste keer.

Daar wás voor die tyd tekens. Hy het daaroor gepraat. Hy het sy Facebook-profiel uitgevee. As hy net soos ek betyds hier kon beland het . . .

"Jy is op die beste plek waar jy kan wees,” sê een van my vier kamermaats, ’n politiekewetenskapstudent, asof hy my gedagtes lees.

“Wil jy jouself seermaak?” stel die studenteverpleër een van talle vrae op my innamevorm.

“Nee,” antwoord ek, “ek wil leef.”

“Hoekom het dit gebeur?” vra sy oor hoekom ek hier is.

“Want ek’t depressie en angssteuring oorgeërf.”

Nou sit ek, met ’n kalmeerpil wat begin werk, in ’n spreekkamer saam met my psigiater, wat ’n sakkie met al die pille in my besit deurkyk.

Ek sou eers later uitvind daar was dié keer sekere snellers vir die depressie en angssteuring wat my lewe soos ’n sneeustorm omvergegooi het. Die ernstigste een was die verkeerde antidepressant wat ek sowat drie maande tevore begin gebruik het.

Ek wou toe ophou rook en dit sou my met die onttrekkingsimptome help.

Al is my geestesgesondheid nou belangriker, is dit ’n goeie tyd om te probeer ophou, want toetse wys my longfunksie is nog goed. Nou moet ek bloot wilskrag inspan terwyl die meeste van die psigiatriese pasiënte om my stook.

My psigiater skryf vir my ’n ander antidepressant voor wat ook met chroniese pyn help. Ek het neurofibromatose: niekwaadaardige gewasse wat uit die senuwees groei met pynlike gevolge.

Al die kundiges bly ons groep herinner ons moet die een of ander tyd weer die wêreld trotseer en daarheen terugkeer.

’n Sielkundige is deel van die span wat ek byna daagliks spreek. Ek en sy praat oor verhoudings en hoe om bande te verstewig, veral met vriende hier in die Kaap om my steunnetwerk te versterk.

Die koswaentjie drie keer per dag met ’n heilsame dieet help met die genesing.

Al die kundiges bly ons groep herinner ons moet die een of ander tyd weer die wêreld trotseer en daarheen terugkeer: ek, ’n juwelier, ’n verpleër by ’n daghospitaal, ’n afgetrede ouditeur, ’n dramastudent en ’n strukturele ingenieur.

  • Die ingenieur se sneller vir sy ernstige angs is dat sy werk so stresvol is. Mense se lewe is in sy hande.
  • Die student het kwessies met haar gewig en om haar “eie stem te vind”.
  • Die ouditeur is eensaam; 
  • En die juwelier is ná ’n huwelik van 20 jaar van sy vrou vervreem.

Dit ontgaan my nie dat ek bevoorreg is nie. My mediese fonds dek my behandeling hier. Die uitsig uit my bed is op die Kompanjiestuin en Vlaeberg.

Deur die pillenewel dink ek aan die psigiatriese pasiënte van die Life Esidimeni-klinieke in Gauteng.

Weens ’n tekort aan staatsgeld is meer as 1 700 van hulle in 2016 uitgeplaas na haglike plekke onder beheer van nieregeringsorganisasies. Tot 144 psigiatriese pasiënte is dood omdat hulle nie goeie sorg gekry het nie.

Gevaartekens van selfdoodgedagtes

Spreek ’n dokter as jy langer as twee weke enige van hierdie simptome ervaar:

  • voortdurende hartseer, angstigheid en ’n gevoel van leegheid;
  • ’n gesukkel om te konsentreer, details te onthou of besluite te neem;
  • moegheid en minder energie;
  • skuldgevoelens, ’n gevoel van waardeloosheid, hulpeloosheid en/of pessimisme;
  • slapeloosheid, om soggens vroeg wakker te skrik of uitermate lank te slaap;
  • geïrriteerdheid of rusteloosheid;
  • ’n verlies aan belangstelling in aktiwiteite of stokperdjies wat vroeër genotvol was; of
  • ’n verlies aan aptyt of oormatige eetlus.

Bel Sadag se hulplyn sewe dae per week tussen agtuur soggens en agtuur saans by 011-234-4837.

Met die hulp van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) het ek oor die tragiese gebeure verslag gedoen en van die plekke besoek. Ek onthou mense wat doelloos ronddwaal, party kaal en sonder enige medikasie.

Nadat die krisis oopgevlek is en ’n ondersoek gevolg het, moet die staat nou R1,2 miljoen aan die familie van elke gestorwe pasiënt betaal. Die owerheid sal meer as R150 miljoen opdok, maar dit bring nie lewens terug nie.

Suid-Afrikaanse staatshospitale gaan steeds gebuk onder ’n tekort aan beddens in psigiatriese sale.

Volgens ramings soos dié van die WGO wag tot vyf pasiënte op ’n slag op dieselfde bed.

In my tyd van heling begin ek weer brei, maak armbandjies en kleur ’n mandala in. Dit alles help jou jou vertroue herwin dat jy ’n produktiewe mens kan wees.

Ons fotograaf Misha Jordaan het Pieter onwetend dieselfde blomme gegee as waarmee sy pa ná sy geboorte die kraam­saalkamer gevul het. Foto: Verskaf.
Armbandjies maak was deel van sy terapie. Foto: Verskaf.

Saam met die arbeidsterapeut beraam ek en die ander pasiënte planne oor hoe om voluit te leef, soms net die oomblik te waardeer en ons emosies in toom te hou.

“Emosies is soos kinders. Jy wil nie dat hulle die kar bestuur nie, maar jy wil hulle ook nie in die kattebak toesluit nie,” was van haar raad.

Toe my psigiater en die span besluit ek is weer myself, word ek ná 12 dae ontslaan.

Die eerste twee dae is ek soos een van daardie wesens in Day of the Living Dead. Ek loop sleepvoet rond en struikel van die min oefening.

Dit voel asof mense . . . wel, na my kyk asof ek mal is. Dit laat my van balans af voel, maar ’n paar dae later, terug op kantoor, sê my kollegas ek lyk goed. Met elke drukkie van ondersteuning en “welkom terug” vind ek my ewewig.

Ja, ek was op die regte tyd op die regte plek. En ook nou is ek op die regte plek. Ek is nog hier. Ek het weer hoop.

Help 'n depressielyer só die donker tye oorleef

Kenners* het dié raad vir die geliefdes van ’n depressielyer:

  • Moedig hulle aan om hulp te kry voor hul simptome vererger.
  • Bied hulp aan met hul werklas terwyl hulle behandeling vir depressie ontvang.
  • Te veel empatie kan ’n depressielyer se gedrag versterk. Handhaaf ’n goeie balans.
  • Help sover moontlik keer dat lyers hulle aan drank vergryp. Drank kan hul depressie vererger. Wees veral versigtig as hulle medikasie gebruik.
  • Kom voor ’n geselligheid ooreen hoe lank julle sal bly en hou daarby. Dit kan angstigheid verminder.
  • Omdat lyers geneig is om hulle te onttrek, betrek hulle by aktiwiteite.
  • Probeer by ’n roetine hou en sien toe dat lyers nie te veel of te min slaap nie.
  • Los die familierusies, sluimerende vetes en ongelukkige verhoudings, veral wanneer iemand met behandeling begin. Deernis en vergifnis help met genesing.
  • “Nee” is nie ’n vloekwoord nie. Lyers gebruik dit moontlik omdat hulle nie die energie het om aan jou versoek te voldoen nie.

* Bronne: Dr. Hannes Swart, bedryfsielkundige van Bellville; dr. Rosa Bredenkamp, Kaapse sielkundige; Cassey Chambers, bedryfsdirekteur van Sadag; dr. Ajesh Janki, psigiater by die Akeso-psigiatriese kliniek in Umhlanga