1. Mite: As jy ’n olierige vel het, hoef jy dit nie te bevog nie, want dit is reeds olierig.

Feit

Olierige vel is taamlik algemeen, veral in die warm maande.

Jou vel het egter nie ’n gelyke hoeveelheid water en olie nie. As dit olierig is, beteken dit jou vel vervaardig meer olie as wat nodig is en moet met ’n waterbasisproduk gebalanseer word.

Pleks van bevogtiger heeltemal oorslaan (wat jou vel meer olie sal laat vervaardig), kies ’n ligter bevogtiger met ’n waterbasis wat die olievervaardiging van die vel sal balanseer.

velsorg
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

2. Mite: Dit is sleg vir jou vel om elke dag grimering te dra.

Feit

Dit behoort nie ’n probleem te wees om daagliks gewone grimering te dra nie mits jy dit behoorlik verwyder voor jy gaan slaap en ’n goeie velsorgroetine onderhou.

Die meeste grimering bevat niks skadeliks wat die voorkoms of welstand van jou vel sal laat versleg of benadeel nie.

3. Mite: Slaap met grimering laat jou plooie kry en gouer oud lyk.

Feit

Plooie word deur ’n verskeidenheid dinge veroorsaak, waaronder die son, gene en ouderdom. Grimering veroorsaak nie veroudering of plooie nie.

Dit beteken egter nie jy kan gesig was oorslaan voor jy gaan slaap nie.

Om met grimering aan te slaap kan verstopte porieë en puisies veroorsaak.

4. Mite: Jy hoef nie sonskerm te dra wanneer dit buite bewolk is nie.

Feit

Die rede dat daar bedags lig is, is danksy die son. Dit beteken selfs op ’n bewolkte dag gee die son lig af – 80% van die son se strale dring trouens deur die wolke.

Dieselfde geld in die winter wanneer die son minder warm voel.

Die strale van die son is steeds skadelik. As jy nie jou vel beskerm nie, sal die son voortydige velveroudering en plooie aan jou vel veroorsaak.

velsorg
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

5. Mite: Warm water en stoom help porieë oopmaak.

Feit

Die blote feit dat jou porieë altyd oop is, beteken daar is niks wat jy kan doen om jou porieë “oop te maak” nie. Porieë is nie temperatuursensitief nie.

Warm water en stoom laat die oppervlak van die vel swel en laat porieë oop lyk.

Dit is nie raadsaam om warm water aan jou vel te gebruik nie, want dit sal noodsaaklike olie afstroop en jou vel dehidreer.

Om jou vel te stoom het wel bevogtigende voordele vir jou vel, maar dit moet met matigheid gedoen word.

6. Mite: Jy kan elke dag jou vel eksfolieer, want jou vel skilfer in elk geval daagliks af.

Feit

Die wanopvatting hier is dat jy jou vel deeglik skoonmaak wanneer jy dit in werklikheid stroop en gevoelig maak. Jou gesig was en dit eksfolieer, is twee verskillende dinge.

Met was maak jy op seep staat om dit skoon te maak, maar met eksfoliëring maak jy op afskuring staat.

Ja, jou vel skilfer af, maar dis net nodig wanneer dooie velselle ophoop – so elke drie dae of so. En doen dit dan sagkens.

velsorg
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

7. Mite: As jy serum gebruik, hoef jy nie bevogtiger te gebruik nie, en omgekeerd.

Feit

Serum en bevogtiger verrig twee verskillende funksies aan die vel. Die vel het ’n aantal lae, en serum kan beter as bevogtiger deur die lae dring.

Maar bevogtiger dring ook tot ’n sekere vlak deur die vel en sluit vog en serum in. Serums het aktiewe bestanddele wat kan reageer as dit nie deur bevogtiger binne die vel gehou word nie.

Bevogtiger alleen sal jou nie al die voordele kan gee wat serums bied nie.

Al is albei dus ewe belangrik, moet dit saam gebruik word vir ’n mooi vel.

8. Mite: Jy hoef net oogroom te gebruik wanneer plooie om jou oë begin wys – en dit is in jou 30’s.

Feit

Voorsorg is beter as nasorg, lui die spreekwoord, en dieselfde geld hier. Die vel om die oë is baie dun en boonop beweeg dit gedurig as gevolg van jou oë wat beweeg.

Dit is hoekom die oogarea eerste moegheid wys. Al sal plooie eindelik verskyn, kan jy dit help uitstel deur van jou middel- tot laat 20’s af oog­room en -plakkers te gebruik. 

velsorg
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

9. Mite: As jy nie grimering dra nie, hoef jy nie saans jou gesig te was nie.

Feit

Ons vel is voortdurend aktief. Dit sweet, vervaardig olie en skilfer af. Boonop word dit blootgestel aan die omgewing, waar daar besoedeling en allerhande soorte bakterieë is.

Dit beteken dit moet gereinig word – of jy nou grimering dra of nie.

As jy sekere velsorgdoelwitte wil bereik, soos ’n meer gehidreerde of minder olierige vel, moet jy jou vel soggens én saans skoonmaak en dit aanvul met produkte wat jou jou velsorgdoelwitte sal help bereik.

10. Mite: As ’n produk jou vel brand, beteken dit dit werk.

Feit

As jy ’n produk aanwend en dit brand jou vel, beteken dit jou vel stuur ’n boodskap dat dit nie gemaklik is of akkordeer met die produk wat aangewend word nie.

Die konsep “skoonheid is pyn” is oeroud – maar dis net in enkele omstandighede waar jy pyn gaan voel wanneer iets aan die vel gedoen of aangewend word.

Meestal is dit produkte soos verfrissers wat alkohol bevat wat ’n brandgevoel veroorsaak wanneer dit aangewend word. Gewoonlik as dit brand, moet jy dit eerder probeer weghou van jou vel.

velsorg
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Bronne: CNN.com, Dermstore.comLorealparisusa.com, Oprah.com 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.