Ek klim die eerste Januarie op die waterkar. Oukei, oukei, die tweede, want dis darem net te droewig om dit op Nuwejaarsdag te doen.

Dit is die laaste dag van die vakansie en ons kuier oor middagete op ’n wynplaas saam met vriende. En, wel, as ek vir die res van die maand my lippe nie aan drank gaan sit nie, kan ek netsowel ’n laaste sluk vat.

Veral aangesien Januarie so lank is. En ’n bietjie mistroostig, want dis gewoonlik ’n maand vol skuld.

Ek is, om die waarheid te sê, ’n bietjie bekommerd oor of ek dit sal kan volhou. Drank is vir my ’n onlosmaaklike deel van so baie dinge in die lewe: ’n glas wyn ná ’n stresvolle dag op kantoor; drankies saam met vriende oor die naweek; aandpartytjies; laat middagetes met vonkelwyn; wynproeë; of om in die aand ná ’n stappie met die hond vinnig in die buurt se kroeg in te glip. 

Maar ek kan dit mos regkry, of hoe? Dis nie asof ek ’n swaar drinker is nie. 

Ek drink meestal een glas per aand. Soms twee. Af en toe drie. Hoe moeilik kan dit nou wees? 

Dit help dat daar aanhoudend artikels verskyn wat die deugde van Droë Januarie besing.

’n Britse ondersoek toon mense wat ná die feestyd drank laat staan, verloor gemiddeld 1,5 kg, slaap beter, verbeter hul konsentrasie en verminder die hoeveelheid vet in hul lewer met tot 15%.

Nog een toon mense wat Januarie droog bly, drink in die daaropvolgende maande minder dae per week as voorheen – 3,3 dae per week in plaas van 4,4. 

Hulle meld ook hulle word “minder dronk”: van 3,4 keer per maand tot 2,1 keer. Dis mos in alle opsigte ’n wen-wen-situasie.

Jare lank het ek gedink ek sluimer teen negeuur saans voor die televisie in omdat ek moeg en die lewe woes is, maar nee – dit was die wyn se skuld.

Ek besluit om die artikel met die titel “Droë Januarie laat mense sonder drankprobleem skuldig voel” te ignoreer wat ’n vriendin vir my stuur, want ek is bang dit plant ’n saadjie van twyfel. 

En ek is vasbeslote: Ek kan dit doen. Ek sal dit doen. 

Die eerste paar dae is maklik. Ek loop oor van die soort geesdrif waarmee jy ’n nuwe dieet of oefenprogram aanpak. Vuur en vlam en gretig om aan die gang te kom en die resultate te sien . . . Teen 31 Januarie sal ek skraler, skoner, gesonder en skerper wees, kom wat wil. 

Tog tref ek ’n paar voorsorgmaatreëls, net ingeval. Omdat ek bang is ek sal my glasie wyn aan die einde van die dag te veel mis, koop ek ’n voorraad suikervrye gemmerlimonade en gooi daarvan in ’n wynglas wanneer ek saans tuiskom. Dit lyk soos wyn en sorg vir daardie vertroostende hand-tot-mond-beweging.

Saam met aandete is dit ’n glas vonkelwater en voor slaaptyd probeer ek hard om aan ’n koppie kamilletee te teug, maar ek moet erken dis nie juis my idee van lekker nie. 

Teen die einde van die eerste week voel ek wonderlik. My vel lyk varser en glansend en my klere sit ’n klein bietjie losser, los genoeg sodat ek my weeg.

Die resultaat is teleurstellend – net ’n paar gram minder – en ek skop die skaal terug onder die bed in.

Die naweek is ook nie ’n te groot uitdaging nie. Januarie is gewoonlik ’n stil maand met min kuiers; daar is dus nie ’n groot gevaar dat ek “uit” gaan voel terwyl my vriende hoenderkop en luidrugtig raak nie.

Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Om alles te kroon kom ek agter wyn maak my vaak! Jare lank het ek gedink ek sluimer teen negeuur saans voor die televisie in omdat ek moeg en die lewe woes is, maar nee – dit was die wyn se skuld.

Ek haal TV-reekse in wat ek maande lank al wou kyk en lees verskeie hoofstukke van my boek in die bed pleks daarvan dat my ooglede ná die eerste bladsy toeval en ek dit die volgende dag wéér moet lees.

Trouens, ek moet myself dikwels dwing om die lig af te skakel. En my verstand is soggens veel helderder.

Wanneer ek in ’n vertrek instap, onthou ek wat ek gaan haal het pleks van skielik daar staan en my kop breek oor hoekom ek nou eintlik daar is.

Dis so ’n verligting: Ek is nie besig om seniel te raak nie; dit was alles die wyn se skuld.

Alles verloop klopdisselboom sonder drank tot die middel van die maand. Ek is steeds gemotiveer, maar die storie begin nou vervelig raak.

Ek stuur vir ’n vriendin ’n boodskap en vra morele ondersteuning. “Ek doen Droë Januarie, maar het aanmoediging nodig.”

“Hoekom doen jy Droë Januarie?” vra sy.

“Want ek wou vir ’n maand ’n blaaskans van alkohol neem,” antwoord ek.

“Wel,” sê sy, “as jy goed slaap, jonger voel en gewig verloor, is ons vriendskap verby.”

Ek doen Droë Januarie, maar het aanmoediging nodig.

Duidelik is ek op myself aangewese. Ek oorkom my insinking in die middel van die maand met ses bottels bier met 0,0% alkohol.

Dit smaak oukei, maar teen die einde van die week (ek beperk my tot ’n bottel per aand) het ek daaraan ook nie meer erg nie.

Byt net vas tot die einde van die maand, sê ek vir myself. Tel die voordele en druk deur.

In een van die nagte wat ek wawyd wakker lê, google ek Droë Januarie en kom af op ’n artikel deur die Britse komediant Lee Mack, wat dit in 2017 aangepak en daarna sommer op die water- kar gebly het.

Soos ek het hy nie op 1 Januarie begin nie. Hy het op die derde begin, want hy moes op 2 Januarie ’n veerpylkampioenskapsbyeenkoms bywoon, en “om nie by die veerpyltjies te drink nie is soos om in die koekiefabriek met jou dieet te begin. Toe het ek ’n laaste drinksessie en besluit om vir ’n kort ruk op te hou.”

Omdat hy “gekul” het deur nie op die eerste op te hou nie, het hy besluit om in Februarie ’n paar ekstra dae daarmee vol te hou.

“En toe dink ek: ‘Ag wat, ek het Februarie begin en kan dit net- sowel enduit voer.’

En voor ek my kom kry, het Februarie Maart geword, en Maart het April geword, en April het Mei geword . . .”

Lee dink die hele drinkkultuur is ’n truuk deur drankvervaardigers wat ons wil wysmaak die lewe is meer ontspanne en lekkerder as jy alkohol gebruik.

Maar die lewe kan inderwaarheid daarsonder baie beter wees. Sal ek soos Lee wees en aanhou?

Ek twyfel. Toe ek op 1 Februarie ná werk by die huis kom, het ek dadelik vir my ’n glas yskoue chardonnay geskink. Maar Droë Januarie het my anders na die lewe laat kyk en na die rol wat drank daarin speel.

Ek is vasbeslote om soos die mense in die ondersoek te wees en oor die algemeen minder te drink.

Hou in alles matigheid voor oë, het my ma my geleer. Dit lyk of sy dalk reg was.

NOG VOORDELE VAN DROË JANUARIE

1. Dit is goed vir jou beursie. Ek het sowat R300 per week (vyf R60-bottels wyn) gespaar, wat uitgewerk het op ’n volle R1 200 vir die maand. 

2. My dieet was ook gesonder. Alkohol verlaag jou inhibisies; daarom is jy geneig om dinge in meer as een opsig te oordoen. Nugter wees het beteken ek was veel meer van porsiegrootte en koolhidrate bewus. Op die ou end het ek sowat 1 kg verloor. 

3. My balans was veel beter. Ek gaan al jare lank Saterdagoggende om agtuur na ’n jogaklas en het nogal gesukkel met ’n paar van die staanposisies. Maar Droë Januarie het my liggaam so stewig soos ’n boom in die grond geanker.

DIT HET EK GELEER
  • Hou op om alkohol as ’n beloning of vertroosting te sien. Indien jy ’n slegte dag gehad het, het jy dit nie “nodig” om beter te voel nie.
  • Jy kan pret hê daarsonder. Jy dink dalk jy is pittiger wanneer jy ’n paar sopies in het, maar jy is waarskynlik glad nie.
  • Wat is die punt van drink wanneer dit die volgende dag moeilik is om te onthou wat gebeur het?