Ja, ons wil dit dalk nie hoor nie, maar die gesondheidsgevare van suiker is goed bekend en strek wyd: van tandbederf en middellywe wat uitsit tot angswekkender siektes, soos dat dit ’n rol kan speel by kanker.

Hoe dan gemaak wanneer jy na ’n soet bederfie smag?

Die maklikste is om geraffineerde wit suiker te verruil vir ’n alternatief, en klappersuiker klim vinnig die gewildheidsleer uit as die gewildste plaasvervanger.

Wat is klappersuiker?

Klappersuiker word vervaardig uit die vloeibare sap van die blomknopstam van die klapperplant, wat gedroog kan word om ’n suiker te vorm.

Is dit regtig ’n voedsame plaasvervanger? 

Klappersuiker bevat, volgens die Filippynse departement van landbou, verskeie nutriënte, insluitende die minerale yster, kalsium, sink en kalium.

Dis ook propvol kortkettingvetsure, polifenole, antioksidante en vesel.

Maar is dit werklik goed vir ons?

Hoewel geen suiker of stroop, natuurlik of verfynd, ooit goed is vir ons nie, is klappersuiker genadiger met ons liggaam.

Dit is belangrik om nie te veel suiker in te neem nie, maar as jy na iets soets smag, kan jy ’n baksel onskuldige brownies of koekies met klappersuiker aanmekaarslaan vir ’n minder ongesonde suikertreffer.

Ander plaasvervangers vir suiker.

Benewens klappersuiker is daar nog ’n klompie alternatiewe vir suiker, soos heuning, esdoringstroop, dadels en stevia. Voeg dit by pap en gebak om jou suikerinname te verlaag.