Of jy nou 13 of 31 is, die natuurlike impuls wat die meeste mense kry wanneer hulle puisies sien, is om hulle uit te druk. 

Maar volgens dr. Dorothy Meintjies, 'n dermatoloog van Centurion, is daar sekere puisies waarvan jy jou hande moet afhou om onder meer ontsteking en permanente merke te vermy. 

Dermatoloë meen ’n mens moet die volgende vyf soorte puisies nooit uitdruk nie

Ingroeihare

Foto: Gallo Images/Getty Images

'n Ingroeihaar is baie maklik om mee te speel of uit te druk. Maar los dit uit. 

“Dit kan lei tot inflammasie en merke wat gevorm kan word,” waarsku dr. Meintjies. 

Indien die haar baie diep onder die vel lê, moet die dermatoloog die haar met 'n steriele naald verwyder. 

Koorsblaar

Foto: Gallo Images/Getty Images

'n Koorsblaar is nie soos ’n gewone puisie nie.

Dit word veroorsaak deur ’n virus en is hoogs aansteeklik. Jy kan ’n koorsblaar gewoonlik vooraf aanvoel deur ’n sensitiewe sensasie op die plek waar die koorsblaar gaan wees, voor dit vorm. Voor ’n koorsblaar begin vorm, lyk dit soos ’n groep klein, helder blasies. Puisies vertoon rooi of geel. 

Milia

Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is die klein wit puisies wat af en toe aan jou gesig kom wat jy wil uitdruk, maar nie kan nie. Volgens dr. Natasha Cook, 'n dermatoloog, het hierdie soort geen opening op die vel nie en is dit gevorm soos 'n sist. 

“Jy kan ’n professionele persoon kry wat ’n fyn naald kan gebruik om die oppervlakte en die sist te breek."

Sandpapier/Hoendervel

Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie toestand kom gereeld by kinders voor en mense is geneig om dit te ontgroei. Volgens dr. Cook is hierdie toestand, waar klein knoppies op die vel uitbreek, heeltemal skadeloos. 

“Die beste manier om dit te behandel is met ’n room wat die selle skoonmaak. Vitamien A kan ook heelwat help,” is haar raad. 

Sistiese aknee

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Van dié soort aknee moet jy ook jou hande afhou – dit kan duidelike merke aan jou gesig laat,” sê dr. Cook. 

Watter soort puisies mag ’n mens dan uitdruk?

“Swart- en witkoppies,” meen dr. Meintjies.

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Maar hulle moet reg op die oppervlakte van jou vel lê en jy moet altyd ’n sneesdoekie (tussen jou vingers en vel) gebruik.”

Bronne: Womenshealthmag.com; Thisisinsider