Die kombuis is die plek waar sy koning kraai.

Enige kombuis is by uitstek haar gemaksone; daarom was die skok besonder groot toe ’n paniekaanval dié kosfoendi in haar eie kombuis tref.

“Ek het gedink dis ’n hartaanval,” onthou Anél Potgieter dié skrikwekkende dag in April vanjaar.

Sy is bekend vir Kostelik, haar rubriek in die Sondagkoerant Rapport, kooksessies soggens op Expresso op SABC3 en Bak of Brou, wat sy op VIA (DStv-kanaal 147) aangebied het.

Anél Potgieter het ná ’n paniekaanval medikasie begin gebruik en geniet nou haar lewe sonder angs. Foto: Noncedo Gxekwa.

Kenmerkend ook is die twee lang poniesterte weerskante van haar kop. Anél lag gemaklik en lekker diep uit haar maag. Dis moeilik om te glo dat sy aan kliniese angs (sien die kassie hieronder) ly en gevolglik ’n paniekaanval gehad het.

“Ek het gelukkig nog net die een aanval gehad, maar ek ly al my hele lewe lank aan angs,” vertel sy in haar warm huis vol kleur en karakter in Century City, Kaapstad.

“Ek was ’n angstige kind. Ek het gister met my ma hieroor gepraat. Dit was altyd deel van my om op my senuwees te wees. Ek was benoud oor alles.”

In die ses maande wat die aanval voorafgegaan het, was sy onder geweldige werkdruk met ’n nuwe TV-kosprojek.

En haar 84-jarige ma, Babs Potgieter, wat naby Anél woon, het twee maande voor die voorval longontsteking gekry en haar been gebreek. Dit alles het kort ná mekaar gebeur; Anél het nie meer tyd vir ontspan gehad nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het minder gaan stap en haar geliefde kunsklasse afgeskeep.

“Skielik het ek baie meer bewus geword van my hart se kloppe. Ek het soms na my asem gesnak.” Toe kom die aanval. Sy het die oggend reeds gevoel iets skort, maar het voortgegaan om resepte in die kombuis te toets. Gelukkig was haar man, Rick Robertson, ook tuis.

“Ek dink ek het steak gebak. Ek kon nie op een plek bly staan nie. Ek het op en af begin loop; kriewelrig geraak. My asemhaling het ál vinniger geraak. Ek wou nie hê Rick moes dit agterkom nie, want ek wou hom nie bekommer nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Toe word dit net erger. Ek het op die bad se rand gaan sit en stadiger probeer asemhaal. En skielik het golwe paniek my oorval. Ek het by die badkamerdeur uitgestrompel en vir Rick gegil, want ek dog ek kry ’n hartaanval. Ek het ál vinniger begin asemhaal. Hy het geroep: ‘Bly by my! Bly by my!’ ”

Rick het hul huisdokter gebel, en dié het vir hom gesê dis ’n paniekaanval, “want sy ken my baie goed”, vertel Anél.

Die dokter weet sy het nie hartprobleme nie, en dié besef het Rick laat kalmeer. Die dokter het oor die telefoon raad gegee: Rick moes Anél se aandag van die aanval probeer aflei deur weerskante van haar op verskillende plekke met sy vingers te klap.

Anél het op die bed gaan lê tot sy weer haarself gevoel het. Kliniese angssteuring is by haar gediagnoseer en medikasie is voorgeskryf. Haar angs is nou onder beheer danksy die medisyne en kognitiewe gedragsterapie wat sy by ’n sielkundige ondergaan.

Pasiënte moet nooit dink hulle is nie siek genoeg nie

Met dié terapie leer sy tegnieke aan om paniekaanvalle in bedwang te hou – en dit werk, want sy het nog nie weer ’n aanval gehad nie.

Sy besef nou in die aanloop tot die aanval was haar lewe soos ’n drukkoker waarin die stoom bly opbou tot die deksel later afskiet omdat die drukking nie ontlaai nie, verduidelik Anél.

“Ek dink hierdie onderliggende dinge – werkdruk en my ma se gesondheidsprobleme – het die angs laat opbou omdat ek nie meer ’n uitlaatklep, soos oefening, gebruik het nie. Dit het die paniekaanval veroorsaak.

“Wanneer ek nou angs en paniek om die deur sien loer, trek ek my tekkies aan en hardloop 20 keer om die blok. Dit help baie en werk soos ’n bom.”

Soorte kliniese angssteurings

  • Neurotiese angs of antisipasieangs is wanneer jy chronies bang is vir iets wat dalk in die toekoms kan skeefloop.
  • Algemene angs is om sonder ’n spesifieke rede voortdurend bekommerd te wees oor allerlei dinge.
  • Katastrofiseringsangs is om kort-kort ’n berg van ’n molshoop te maak en altyd die ergste te verwag.
  • Paniek is ’n akute voorval van skielike fisieke simptome soos hartkloppings, asemhalingsprobleme, bewerigheid en naarheid. Jy voel asof jy nie kan asem kry nie en selfs doodgaan, soos wat met Anél gebeur het.
  • Posttraumatiese stres is onder meer terugflitse of nagmerries ná ’n traumatiese ervaring of weens voortdurende probleme, soos geldprobleme.
  • Sosiale angstigheid is onder meer ’n vrees vir openbare optredes, om nuwe mense te ontmoet of voor ander te eet of drink.
  • ’n Fobie is ’n kwaai vrees vir iets baie spesifieks, soos slange, spinnekoppe of hoogtes. Die intensiteit van die ervaring van angs en die kliniese implikasies daarvan wissel in ’n spektrum ongeag die spesifieke aard van die steuring of die diagnose, sê dr. Kobus Roux, ’n psigiater van Benoni. “Dit is goed om ’n dokter of sielkundige te spreek om jou te help besluit oor die regte vorm van behandeling,” voeg hy by. Soms kan angs beheer word deur net psigoterapie of bloot aanpassing in jou leefstyl, soos meditasie of matige oefening. In ander gevalle is chroniese medikasie nodig. “Pasiënte moet nooit dink hulle is nie siek genoeg nie. As hulle enige ongemak weens angs verduur, moet hulle professionele hulp kry,” sê Kobus. “Die grootste gevaar is selfmedikasie met onder meer drank of dwelms.”

Wat is die simptome van kliniese angs?

Die uiteenlopende simptome sluit volgens Kobus hartkloppings, asemnood, ’n knop op die maag, sweterigheid, gloede, borskaspyn, duiseligheid en naarheid in.

Soms kan die angssimptome net van chroniese spanningsangs wees wat dan nie noodwendig op ’n paniekaanval uitloop nie, sê hy. Paniekaanvalle is baie intense angs wat die hele lyf in ’n veg-of-vlugmodus sit en fisiek ervaar word as lewensbedreigend.

Mense beland dikwels in ’n on- gevalleafdeling met die idee dat hulle ’n hartaanval kry – of hulle dink iets katastrofies gebeur met hul liggaam.

Kan angs tot depressie lei?

Daar is ’n sterk verband tussen angs en depressie; die een kan in die ander oorgaan, sê Kobus. Baie van die simptome kan oorvleuel, want ’n soortgelyke biochemiese steuring is onderliggend aan albei toestande, verduidelik dr. Rykie Liebenberg, ’n psigiater van Sandton.

Dit gebeur dikwels dat veral chroniese angs tot episodes van depressie lei.

Die behandeling vir angs sluit medikasie en sielkundige terapie in. “Praatterapie” is dikwels die beste strategie, maar om die toestand te bestuur, kan gereelde oefening, goeie slaappatrone en ’n gesonde dieet deurslaggewend wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat veroorsaak dit?

Angs en depressie het ’n genetiese grondslag, en ons leer ál meer oor wat dit presies behels, sê Rykie. “Dit lyk asof dit verband hou met stresweerloosheid, veral in die brein se serotonienstelsel.

“Ongelukkig kan stres, veral langdurig en intens, die neuroplastisiteit van die brein vertraag en die brein laat krimp. Die oorsaak van angssteuring is dus ’n interaksie tussen genetiese vatbaarheid en omgewingsfaktore.”

Hoe kan ek my angs bestuur?

Benewens mediese behandeling en terapie is ’n gebalanseerde leefstyl belangrik, sê Rykie. Dit sluit oefening, gesonde eetgewoontes met volop groente en genoeg proteïene asook ’n goeie slaaproetine in.

Drank en dwelms is gifstowwe vir die brein en dis beter om dit te vermy. Alle stimulante, soos kafeïen, dieetpille en sekere gimaanvullings, is geneig om angs te vererger, waarsku Rykie.

Onthou om nie die ­persoon se lewe te ­probeer ‘regmaak’ nie

Kry hulp by vriende, familie en kollegas, want ’n gesonde steunnetwerk is baie belangrik, sê Jacques Taylor, ’n voorligtingsielkundige van Durbanville.

Wat kan geliefdes doen?

Familie en vriende kan help deur kennis op te doen oor die toestand en praktiese en emosionele steun te bied. Gaan oefen saam met die angslyer; moenie oordeel nie; verstaan as hulle nie wil saamdrink nie; praat daaroor, indien nodig.

Onthou om nie die persoon se lewe te probeer “regmaak” nie, maan Rykie. Kobus sê angslyers wat paniekaanvalle kry, smeek dikwels: “Praat met my!” Dit help hulle kalmeer en hul gedagtes op iets anders toespits.

Volgens hom moet ’n mens sewe dinge nooit vir ’n lyer aan angssteuring sê nie:

1. Moenie jou oor kleinighede verknies nie.

2. Kalmeer tog.

3. Doen dit net.

4. Alles sal oukei wees.

5. Ek is ook gestres.

6. Drink ’n drankie; dit sal jou daarvan laat vergeet.

7. Het ek iets verkeerds gedoen?

Wat is kliniese angssteuring?

Die toestand raak tussen 16 en 23% van volwasse Suid-Afrikaners, volgens ’n ondersoek wat in die South African Journal of Psychiatry gepubliseer is.

Angs is ’n normale emosie en almal ervaar dit soms, maar in toepaslike omstandighede, soos wanneer jy in gevaar is of voor ’n eksamen of sportwedstryd of by ’n nuwe werk, sê die Sandtonse psigiater dr. Rykie Liebenberg.

Jou byniere stel in dié omstandighede streshormone soos adrenalien en kortisol vry sodat jy beter kan presteer.

Maar wanneer dié fisiologiese proses nie meer reg funksioneer nie, word dit ’n kliniese steuring, verduidelik Rykie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sodra angstigheid tot chroniese persoonlike ongemak lei en inmeng met iemand se persoonlike, sosiale en akademiese of werkfunksionering, word dit ’n kliniese toestand en moet dit behandel word, beaam dr. Helen Clark, ’n psigiater wat by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto met kinders en adolessente werk.

Die behandeling sluit in medikasie, sielkundige terapie en leefstylaanpassings. Volgens Rykie kan ’n psigiater medisyne voorskryf wat die angstigheid in toom hou terwyl ’n sielkundige jou kan help om insig in die oorsprong van jou angstigheid te kry.

Praatterapie en medikasie is dikwels die beste behandeling vir angs.