Die dag toe sy huis met al sy besittings voor sy oë afgebrand het, het Immanuel van Tonder se lewe verander. Nie omdat hy toe hoop verloor het nie, maar juis omdat hy daardie dag geleer het presies hoe waardevol ’n optimistiese ingesteldheid kan wees.

Op ’n Woensdagmiddag in Oktober 2018 was dié leraar van die NG gemeente Lynnwood in sy studeerkamer toe hy ruik iets brand. Toe hy na buite stap, sien hy rook by sy dak uitborrel. “Ek het vir my vrou, Monika, en my seun, Bernard, wat binne was, geskree die huis brand. ‘Gryp die fotoalbums’, het Monika teruggeskree. Ek het die albums, my belangrike dokumente en my rekenaar gegryp en by die deur uitgegooi.”

Binne ’n uur was daar van hul eens ruim huis net puin en as oor. Die meeste mense sal in sak en as gaan sit as so iets hulle sou tref, maar Immanuel het na sy gesin gedraai en voorgestel hulle kyk wat gebeur as hulle optimisties bly. En deur net hul ingesteldheid te verander was hul oë meteens oop vir die goeie en bemoedigende dinge wat terselfdertyd rondom hulle gebeur het.

Immanuel van Tonder het sy huis met al sy besittin
Immanuel van Tonder het sy huis met al sy besittings verloor maar het homself herinner daar is meer aan die lewe as ney sy probleme. Foto: Verskaf

“Natuurlik was dit verskriklik sleg toe ons huis afgebrand het; ons het nie eens tandeborsels by ons gehad nie. Maar daar was soveel mense wat ons bygestaan het. My ouers het onmiddellik Pretoria toe gekom en familielede het vir ons slaapplek aangebied. As ek net op die brand gefokus het, sou ek nie die liefde en omgee van mense ervaar het nie.”

Immanuel was in daardie stadium besig met nagraadse studie oor mindfulness en het ’n meditasie onthou wat hy eens op ’n tyd geleer het.

“’n Mens noem dit die ‘bergmeditasie’. Jy verbeel jou jy is ’n berg – dag en nag kom, seisoene verander, brande woed, groenigheid groei. Deur al die veranderings bly die berg staande.

“Op daardie oomblik het ek besef jy kan letterlik deur ’n brand getref word en nogtans staande bly.”

Immanuel en sy gesin se afgebrande huis
Immanuel en sy gesin se afgebrande huis. Foto: Verskaf

Immanuel vertel hy bly optimisties deur nie sy probleme te ignoreer nie; hy herinner homself eerder daaraan dat daar meer is aan die lewe as net sy probleme.

“As jy met ’n rooi pen ’n kol op ’n groot wit vel papier krabbel en dit vir mense wys, sal die meeste antwoord hulle sien ’n rooi kol. Maar eintlik sien hulle nie net ’n rooi kol nie; daar is ook ’n groot wit blad rondom die kol. ’n Mens moet net wyer kyk. In die lewe sien baie mense net die kol, die brand, die probleme. Die wit blad is die groter prentjie.”

Hoe skep jy by jouself ’n optimistiese ingesteldheid?

Nie almal is van nature geneig om die blinker kant in situasies te soek of raak te sien nie, en daar is uiteenlopende faktore wat ’n rol in elke mens se lewensuitkyk speel, sê ’n sielkundige van Roodepoort, Reinette Engelbrecht. Maar al is jy geneig om die glas gewoonlik halfleeg pleks van halfvol te sien, kan jy jouself leer om optimistieser te wees.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons het by kenners vir ’n paar wenke aangeklop: 

Neem kennis van jou denkpatrone – en oefen jou brein

Dis belangrik om op te let na hoe jy met jouself praat, vertel Anerene Rossouw, ’n lewensafrigter van Kaapstad. As jy ’n dagboek hou, kan jy swart op wit sien watter soort gedagtes in jou kop oorheers. Is dit net ’n klaery, of is jy soms ook positief?

Deur daarvan kennis te neem neem jy klaar die eerste tree om jou denkpatrone te verbeter. Jou dagboek kan die plek wees waar jy oefen om positiewer te wees. Sluit elke aand af deur drie dinge in jou boek te skryf waarvoor jy dankbaar is, sê dr. Mariki Smith, ’n sielkundige van Bloemfontein.

So kry jou brein aan die einde van elke dag die geleentheid om te oefen om positief en dankbaar te wees. 

Neem ’n blaaskans om jou te oriënteer

’n Mens se lyf gee vir jou ’n boodskap nog voor jy negatiewe emosies ervaar, sê Immanuel. Jou handpalms kan byvoorbeeld sweet wanneer jy gespanne is, of dit kan voel of jou hart vinniger klop. As jy in jou lyf voel die negatiwiteit en spanning neem toe, moet jy iets doen wat jou help ontspan voor ’n swart kolk van negatiewe gedagtes jou insluk.

Skep asem, neem ’n oomblik om die gebeure en moontlike emosies wat dit kan veroorsaak te identifiseer vir wat dit is, en dink aan hoe jy dit moontlik kan benader. 

Neem jouself waar in die oomblik

Die meeste van die dinge wat ons negatief maak, lê iewers in ons verlede of in die toekoms. Die huidige oomblik is meestal veel draagliker. Leer om met jou sintuie bewus te wees van wat jy hier en nou beleef – na binne (gevoelens, gedrag, liggaamsensasies, asemhaling) en na buite (dit wat jy sien, ruik, hoor, proe en tas).

Moenie dit beoordeel of jouself lang stories daaroor vertel nie; neem dit net rustig waar, sê Mariki.

Sy beveel ’n paar wenke aan oor hoe ’n mens in die teenwoordige oomblik kan rus:

  • Maak en geniet jou eerste koppie tee of koffie in die oggend stadig, slukkie vir slukkie, met al jou sintuie. Voel die warm koppie of beker in jou hande; proe en geniet dit asof jy dit vir die eerste keer doen. Moenie aan jou probleme sit en dink nie; fokus op jou drankie.
  • Wanneer jy ná ’n lang dag tuiskom, sit alles neer, gaan sit by jou geliefdes of troeteldiere en kyk hulle in die oë met volle aandag.
  • As daar ’n geluid in jou lewe is wat jou irriteer, probeer dit eerder sien as ’n wekker wat jou herinner om teenwoordig te wees. As ’n selfoon dus lui, die bure se hond blaf of ’n alarm in die buurt afgaan, sien dit as ’n herinnering om drie keer baie bewustelik asem te haal.

Maar wat van al die negatiewe dinge?

Ja, dit is nou maar eenmaal so dat daar dinge oor jou pad gaan kom wat jou optimisme sal steel. Die eerste stap is om nie onnadenkend met elke negatiewe emosie op hol te gaan nie. Raak bewus van watter dinge jou negatief maak sodat jy voorbereid kan wees voor hulle jou beetpak. Daarvoor moet jy jou eie gevoelens mooi dophou, sê Joshua Lutchman, ’n sielkundige by die Family Life-sentrum in Randburg.

Immanuel en sy gesin se afgebrande huis.
Foto: Verskaf

So moet jy byvoorbeeld oplet na watter blaaie en persone in die sosiale media jou altyd negatief en hopeloos oor die lewe laat voel. As jy besef watter impak hulle op jou het, kan jy ophou om hulle te volg. Dit is ongelukkig so dat sommige mense jou blydskap steel. Dan moet jy dit sterk oorweeg om minder tyd saam met hulle deur te bring, sê Mariki.

“Hanteer negatiewe mense deur eerder ’n spieël te wees, en nie ’n spons nie. As jy ’n spons is, neem jy als ter harte en jy dra hul negatiwiteit saam met jou. As jy ’n spieël is, besef jy hul optrede sê meer van hulle as van jou.”

Sy stel voor jy maak ’n lys van die vyf mense wat jou positiewer oor die lewe laat voel en dat jy dan meer tyd in dié mense se geselskap deurbring.

Immanuel en sy gesin se afgebrande huis.
Foto: Verskaf

Wanneer is negatiwiteit eintlik depressie?

Dis normaal vir mense om negatiewe denke te ervaar. Maar dis belangrik om te weet dat in sekere gevalle aanhoudende negatiewe gedagtes eintlik depressie is, sê dr. Rosa Bredenkamp, ’n Kaapse sielkundige, en dat dit behandel moet word.

As jy onseker is of negatiewe gedagtes ’n simptoom van depressie is, veral as dit elke dag teenwoordig is en jy min vreugde in die lewe beleef, is dit tyd om ’n sielkundige te sien. Die sielkundige sal saam met jou die negatiewe gedagtes ondersoek, en as dit nodig is, sal hulle jou na ’n psigiater verwys sodat jy vir depressie getoets kan word, sê Rosa.

Is optimisme altyd goed?

Te veel van ’n goeie ding is nie altyd ideaal nie; vandaar die term “toksiese optimisme”. Toksiese optimisme is wanneer jy maak of al jou probleme nie bestaan nie omdat jy nie lus het om hulle te probeer oplos nie. Dan kan jy maklik in ’n slegte verhouding of lewensituasie vasval omdat jy jou probleme doelbewus miskyk.

Om ’n optimis te wees beteken nie dat jy in ’n fantasiewêreld leef nie, waarsku Immanuel. Dit beteken juis dat jy ’n realistiese self- en wêreldbeskouing het. Maar moenie dat die probleme jou hele lewensingesteldheid voorskryf nie. Erken jou probleme, maar bly optimisties oor die moontlikheid dat dinge kan verander of dat jy kan kies hoe jy dit gaan hanteer