KLEINTYD: LEER JOU KLEUTERS HOE GELD WERK

Hoe vroeër jy met jou kinders oor geld begin praat, hoe beter – nes met enigiets anders in die grondslagjare van hul lewe, verduidelik Casey Rousseau van 1st for Women.

  • Begin wanneer jou kinders so jonk as vier is. Laat jou kleuter kontant aan die winkelkassier oorhandig. Dit wys dat geld in ruil vir iets anders gegee word. En dat daar minder geld oor is nadat jy iets gekoop het. Hierdie basiese les is moeilik vir kleuters om te snap as jy net bankkaarte of elektroniese oorplasings gebruik.
  • Koop vir hulle spaarbussies en laat hulle munte daarin sit. Tel die geld een keer per week sodat hulle kan sien hoe die munte – en die spaarbedrag – vermeerder.
  • Gebruik bordspeletjies soos Monopoly of soortgelyke aanlyn speletjies wat hulle leer hoe ’n mens geld bestuur.
  • Laat hulle luister hoe julle as ouers finansiële planne maak, byvoorbeeld om te spaar vir vakansies of groot aankope. So leer hulle dat geldbestuur ’n deurlopende proses is.

LAERSKOOL: GEE HULLE VERANTWOORDELIKHEID

Sakgeld is ’n nuttige hulpmiddel om laerskoolkinders van finansies te leer, sê Ronald King van PSG Wealth. 

  • Besluit hoeveel sakgeld hulle kry en wanneer. Begin met ’n klein bedrag en maak reëls waarvoor dit gebruik word. Hulle moet byvoorbeeld self betaal vir fliekkaartjies, maar nie lewensbehoeftes soos klere of kos nie. As sakgeld te gou opraak, moet hulle wag tot die volgende geskeduleerde sakgeldbetaling. Bespreek vooraf moontlike uitsonderings op die reëls.
  • Dis belangrik dat hulle verstaan harde werk word beloon. Gee hulle dus ekstra geld vir ekstra takies wat hulle verrig – maar moenie ekstra geld gee vir hul gewone huistakies nie.
  • Maak ’n spaarrekening vir hulle oop. As hulle iets duurs wil koop, werk saam ’n spaarplan uit: Hoeveel van hul sakgeld moet hulle wegsit en hoe lank voor hulle dit kan koop?
Wenk

Moenie weier dat kinders hul spaargeld gebruik nie, want dit kan hulle ontmoedig om te spaar. Leer hulle liewer om eers pryse te vergelyk voor hulle koop.

HOËRSKOOL TOE: TYD VIR GELDKEUSES

Dis nou tyd om jou kinders vollediger by jul huishouding se geldsake te betrek, sê Danelle van Heerde van Sanlam.

  • Jul kinders moet weet dat julle as ouers nie alles kan bekostig nie. Praat openlik met hulle oor jul huishoudelike uitgawes en begroting. As jul inkomste beperk is, betrek hulle by planne en prioritisering. Die kind kan byvoorbeeld kies: óf ’n geskenk wat hulle begeer óf ’n partytjie.
  • Hulle moet verstaan sakgeld is ’n beperkte hulpbron. Julle kan praat oor hoeveel hul sakgeld is, wat hulle self dek en waarvoor jy verantwoordelik bly. Stel saam met hulle ’n maandelikse begroting op en wys hulle hoe om te prioritiseer tussen noodsaaklikhede (toiletware, data, lugtyd) en luukses (vermaak). 
  • Moedig hulle aan om te spaar vir duur toestelle deur ’n deel van die koste te betaal mits hulle spaardoelwitte haal.
  • Hersien saam aan die einde van die maand hul uitgawes. Klein bedraggies soos aankope op ’n selfoon-app kan ongemerk ophoop. Dit maak hulle bedag op hul bestedingsgewoontes.
  • Leer hulle hoe om veilige aanlyn transaksies met hul bankkaarte te doen; om nie hul kaartbesonderhede uit te gee of die kaart vir iemand te gee nie.

STUDENTEJARE: REG VIR DIE GROOTMENSWÊRELD

Die goue reël is om minder te bestee as wat jy inkry, sê Tamryn Lamb van Allan Gray. Jou studentekind moet leer om nie ’n kredietslaaf te word nie.

  • Studente wat deeltydse werk doen, moet probeer om ’n gedeelte opsy te sit, maak nie saak hoe klein nie. Hoe gouer hulle begin spaar, hoe beter. Help hulle om spaardoelwitte te stel.
  • Leer hulle om spaargeld vir hulle te laat werk deur dit te belê waar dit sal groei. Die groeikoers moet minstens met die inflasiekoers ooreenstem.
  • Baie beleggingsbestuursmaatskappye het bekostigbare beleggingsprodukte. Basiese effektetrusts en belastingvrye spaarplanne kan oorweeg word.
Kry hier nog raad

  • Banke se webtuistes het baie inligting oor hul spaarrekeninge vir kinders.
  • Google Play en die iStore het apps vir die bestuur van kinders se sakgeld. Kyk watter een gepas is vir jou kind se ouderdom.