Stres het ’n slegte reputasie. En dit is geen wonder nie – wanneer ’n mens die woord hoor, dink jy dadelik aan gevoelens soos uitputting, irritasie en oorweldiging. 

Wanneer jy dus sê: “Ek voel nou so gestres,” kry jy gewoonlik ’n simpatieke reaksie. Maar kenners sê ’n mate van stres kan goed wees vir jou.  

Daar is ’n verband tussen tydelike sarsies stres en meer motivering en produktiwiteit, ’n beter geheue en algehele optimisme.

“Dit is waar dat mense se normale reaksie op stres veroorsaak dat hulle in stresvolle oomblikke ondoeltreffend is,” sê Lauren Moss, ’n voorligtingsielkundige van Sandton.

“Maar dink aan hoe stres ’n student voor ’n taak of eksamen motiveer – dis stres wat hulle druk om studeer bo ander lekkerder aktiwiteite te prioritiseer.”

Gebruik stres dus eerder as ’n hulpmiddel – pleks van daaraan dink as iets waarvan jy ontslae moet raak of iets wat jy moet oorwin.

“Matige vlakke van stres kan soos ’n inenting werk wat jou hoër weerstand en veerkragtigheid gee wanneer jy voor ’n nuwe probleem te staan kom,” sê Lisa Damour, ’n Amerikaanse sielkundige en die skrywer van Under Pressure.

Lees hier hoe stres ’n voordeel kan wees en hoe jy dit kan benut.

DIT BEVORDER MOTIVERING

“Stres kan ons fokus verskerp en die druk skep wat ons nodig het om spertye te haal en ’n sekere standaard in verskillende dele van ons lewe te bereik,” sê Lauren. Maar vir stres om voordelig te wees, moet dit nie konstant wees nie, voeg sy by.

“Dit is veronderstel om in seisoene te kom. Stres bou dalk op namate jy nader aan ’n spertyd kom, maar agterna moet daar ’n tydperk wees waarin jy kan rus en herstel. Wanneer ons geen rus van stres kry nie, soos met die voortdurende stres wat die hedendaagse lewe veroorsaak, word ons uitgeput, wat ons dan weer minder doeltreffend maak.”

’n Mens moet stresvolle situasies beskou as ’n uitdaging om aan te pak eerder as ’n oorweldigende struikelblok.

DIT HELP JOU BESLUITE NEEM

Wanneer ons stres ervaar en vindingryk voel om ’n sekere taak aan te pak, word dit makliker om vinnige besluite te neem.

“Wanneer die druk daar is, kan jy sien watter oplossing sal werk en het jy meer vertroue om die rigting te kies wat jy moet inslaan,” sê Lauren.

Dit maak nie saak deur watter uitdaging jy op enige gegewe tyd in die gesig gestaar word nie, jy kan die stres wat dit veroorsaak as jou mededinger hanteer, sê Sherrie Campbell, ’n Amerikaanse sielkundige en die skrywer van Loving Yourself: The Mastery of Being Your Own Person.

“Ons kan voor ons mededinger swig of ons kan hom oorwin. Wanneer ons na moontlikhede soek om dit te oorwin, word die pad vorentoe dadelik duidelik.”

DIS ’N HERINNERING OM ASEM TE SKEP

Wat doen jy wanneer jy gestres voel? Dalk gaan draf jy of woon jy ’n jogaklas by – of miskien bel jy ’n vriendin om stoom af te blaas.

Stres kan ’n goeie herinnering wees dat ons na onsself moet omsien, die pas moet verslap en na die mense om ons moet uitreik.

Dié optrede help jou nie net in die huidige situasie nie – dit kan ook toekom- stige stresvolle oomblikke hanteerbaarder maak.

“Die heersende idee in ons kultuur is dat stres sleg is; mense kla oor uitgestres wees. Maar ons leer dat matige hoeveelhede stres kragtige voordele het,” sê Daniela Kaufer, ’n medeprofesssor aan die Universiteit van Kalifornië wat die biologie van stres bestudeer.

“Die stresrespons is ontwerp om ons te help reageer wanneer iets potensieel bedreigends gebeur – dit help ons om dit te hanteer en daaruit te leer.”

Stres help jou ook om meer bewus te wees van jou eie gevoelens en reaksies, sê Sherrie. Ons moet ophou verwag dat stres sal weggaan en kies om daarmee te leer werk.

“Stres lê ons kwesbaarhede of die areas waar ons kennis en insig kort bloot. Dit is ’n geskenk – dit wys ons waar ons die meeste selfverbetering nodig het,” voeg sy by.

stres
Foto: Gallo Images/Getty Images

DIT VERHOOG PRODUKTIWITEIT

In stresvolle situasies, soos voor ’n belangrike voorlegging, klop jou hart vinniger, jou asemhaling versnel en jou spiere trek saam.

“Laevlakstressors stimuleer die vervaardiging van breinchemikalieë genaamd neurotrofiene en versterk die verbindings tussen neurone in die brein,” sê Richard Shelton van die departement psigiatrie aan die Universiteit van Alabama.

“Trouens, dit is dalk die hoofmeganisme waardeur oefening (’n fisieke stressor) produktiwiteit en konsentrasie help verbeter.”

In 2013 het navorsers van die Universiteit van Cambridge en die Yale-universiteit in ’n gesamentlike ondersoek bevind party van die 400 deelnemers se ingesteldheid was dat stres verlammend is en ander s’n dat stres verbeterend is.

Navorsing het getoon die mense wat saamgestem het met die stelling

“Ervaring van stres bevorder my leer en groei”, het beter gesondheid, groter lewensbevrediging en uitsonderlike werkprestasie ervaar.

DIT VERBETER BREINKRAG EN VEERKRAGTIGHEID

Navorsers aan die Yale-universiteit het in ’n 2020-studie bevind die volgende gebeur in jou brein wanneer jy matige stres ervaar:

Senuweeverbindings in die brein bereik dan nie net die dele van die brein wat met stres verbind word nie; dit bereik ook die dorsale laterale frontale korteks, ’n area wat met kognitiewe werking en emosieregulering verbind word.

“Ons werk dui daarop dat breinnetwerke ingespan kan word om ’n veerkragtiger emosionele reaksie op stres te skep,” sê dr. Elizabeth Goldfarb van die Yale-stressentrum.

’n Studie in 2019 in die British Journal of Health Psychology oor hoe kinders stres hanteer, toon uiters veerkragtige kinders met meer ervaring van lewenstres het minder van die streshormoon kortisol vergeleke met uiters veerkragtige kinders met minder ervaring van vorige lewenstres. 

Hoe om stres tot jou voordeel in te span
  • Onthou jy beheer jou reaksie. “Terwyl dit dalk nie op die oomblik aangenaam is nie, duik geleenthede dikwels deur stres op,” sê Richard Sutton, skrywer van The Stress Code: From Surviving to Thriving. “Dit gaan oor die skuif van chroniese stres wat verlammend is na akute stres wat episodies en bevrydend is. Jou verstand is kragtig. Gebruik dit.” SReik uit na die mense om jou. Persoonlike interaksie bevorder die vrystelling van die hormoon oksitosien, wat ’n buffer teen stres verskaf deur die hartklop te vertraag, kortisol teen te werk, jou vreesloosheid ’n hupstoot te gee en ’n gevoel van positiwiteit te bevorder.
  • Prioritiseer jou welstand sodat jou brein en liggaam stres kan gebruik om jou konsentrasie, besluitneming en prestasie te verbeter, sê Lauren Moss, ’n voorligtingsielkundige van Sandton. “ ’n Ferrari sonder brandstof in die tenk is nutteloos.” Maak seker jy slaap goed, eet gesond, beweeg jou lyf, bestuur pyn en siekte en bring tyd saam met mense deur vir wie jy omgee en by wie jy veilig voel. “Navorsing het getoon wanneer ons nie ’n ‘vol tenk’ in dié areas het nie, kan ons stresvolle gebeurtenisse minder goed hanteer en word ons makliker deur stres oorweldig. “Selfs ’n goeie geestelike ingesteldheid kan ondoeltreffend wees as jy nie genoeg slaap en oefening inkry nie. As stres jou angstig maak, het jy dalk bloot ’n goeie nag se slaap nodig.”
  • Sien uitdagings pleks van bedreigings. Leer jou brein om iets stresvols as ’n uitdaging pleks van ’n bedreiging te beskou, en die vrees wat jy gewoonlik sou ervaar, verander dalk in opwinding, sê Elizabeth Scott, ’n Amerikaanse welstandsafrigter en gesondheidsopvoeder. Sy sê jy kan dié stappe volg om dit reg te kry: Verskuif jou fokus na die hulpbronne wat jy het om die uitdaging te oorkom; sien die voordele van die situasie raak; herinner jou aan jou eie sterkpunte; en soek iets positiefs vir elke negatiewe aspek. 
EKSTRA BRONNE: ENTREPRENEUR.COM, HEALTHLINE.COM, MEDICALNEWSTODAY.COM, NEWS24.COM, PSYCHCENTRAL.COM, PSYCHOLOGYTODAY.COM, SPARKNOTES.COM, VERYWELLMIND.COM