Selfs hartseerder was dat Boo, die skattige pommer wat ’n sosialemedia­sensasie geword het, blykbaar aan ’n gebroke hart dood is. 

Volgens sy eienaars is die piepklein brakkie “van hartseer” dood nadat hy nooit van die dood van sy hondemaat, Buddy, in 2017 herstel het nie.

“Boo is in sy slaap dood en het ons verlaat om by sy beste vriend, Buddy, aan te sluit,” sê sy eienaars in ’n roerende huldeblyk op Facebook.

“Boo het tekens van hartprobleme getoon. Ons dink sy hart het letterlik gebreek toe Buddy ons verlaat. Hy het vasgeklou en ons langer as ’n jaar gegee.” 

Ons het Karin Pienaar, ’n dieregedrags­kenner en lektor van Centurion, Gauteng, gevra om te verduidelik hoe smart diere raak.

’n Universele hartseer

Ons weet mense ervaar smart en rou, maar ervaar diere dit ook? “Vir seker,” sê Karin.

“Wat die soogdierbrein betref, het alle spesies sewe basiese emosionele toestande. Terwyl diere dalk nie die emosies op dieselfde kognitiewe vlak as mense verstaan nie, ervaar hulle dit wel. 

“Wanneer ’n sterk band verbreek of ­onderbreek word, word ’n toestand van paniek veroorsaak, wat gevoelens van verlies en smart opwek.”

Wat is die simptome waarna ’n mens op die uitkyk moet wees?

Die algemeenste aanduiding dat jou hond of kat depressief is, is as hulle belangstelling verloor in alledaagse aktiwiteite wat hulle voorheen plesier verskaf het, sê Karin. 

“Hulle lyk dalk afgetrokke en lusteloos, en party hou selfs op eet. Ander raak ­onrustig of geïrriteerd, en party sal on­gewoon klouerig en behoeftig raak.”

Hoe lank kan die rouproses duur?

“Nes met mense is daar geen spesifieke tydperk aan die rouproses nie – elke hond of kat is uniek.

“Dit hang van die sterkte van die band af. Party diere treur ’n dag; ander jare. Party kan dalk selfs medikasie nodig hê om te herstel, tesame met gedrags­aanpassing om hulle die verlies te help verwerk.” 

“Wanneer ’n sterk band verbreek of ­onderbreek word, word ’n toestand van paniek veroorsaak."

Wat kan jy doen?

“Die belangrikste ding vir troeteldier­eienaars is om geduldig te wees. Verstaan dat die dier ’n maat verloor het en nie dadelik sy ou self sal wees nie. Deur vir jou troeteldier die ruimte te gee om te treur help jy reeds baie.”

Ander maniere om te help:

  • Hou by jou roetine. Byvoorbeeld, as jy en jou hond elke dag om 10:00 gaan stap het, hou aan om dit te doen. “Roetine bied vir hulle vertroosting,” sê Karin. 
  • Gee vir jou dier eksta liefdevolle aandag. “Net om saggies en in ’n opgewekte toon met hulle te praat kan help.”
  • Speel hul gunstelingspeletjies. “Al lyk hy of sy dalk nie geïnteresseerd nie, hou aan probeer om jou hond oor te haal om te speel. Dis nie nou ’n goeie tyd om met gehoorsaamheidsafrigting te begin of van hom te verwag om nuwe goed te leer nie – hou eerder by ou gunstelinge tot sy gemoed lig.”
  • Kos is iets wat jou dier se gemoed goed kan doen. “Voer jou hond sy daaglikse maaltye met die hand of plaas dit in spesiale speelgoed wat die kos laat uitval wanneer hulle daarmee speel.”
  • Besoek die veearts of ’n dieregedrags­kenner as jou troeteldier geen tekens van verbetering toon nie of heeltemal ophou eet. “Net jou veearts kan medikasie voor­skryf, en hulle sal dikwels met jou gedrags­kenner oor behandelings­programme beraadslaag. Moet dus nie skaam wees om hulp te vra nie.” 
Moet ons ’n nuwe diertjie kry?
Moet ’n mens dadelik ’n nuwe troeteldier kry om die gestorwe troeteldier te vervang?

“Beslis nie. As ’n hond of kat oor die verlies van ’n maat treur, is die ergste ding om te doen om ’n ander hondjie of katjie te kry,” sê Karin.

“Verhoudings kan nie vervang word nie en dikwels is al wat gebeur dat die honde nie oor die weg kom nie. As ’n ouer hond treur en jy stel hom bekend aan ’n uitbundige hondjie wat net wil speel, stel jy nie ’n goeie toon vir hul toekomstige verhouding nie. Konsentreer eerder op jou hond of kat se emosionele behoeftes voor jy ’n ander troeteldier kry.” 

Jy kan dit ook oorweeg om ’n ouer hond by jou plaaslike diereskuiling aan te neem; baie nuwe vriendskappe het al op dié manier tot stand gekom. 

Ekstra bron: dailymail.co.uk