Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Klink dit bekend? Heel moontlik.

Talle vroue – en ja, “multitasking” is grootliks iets waarop vroue hulle roem – glo immers hulle is uitstekend daarin. En die inperking het dit nog belangriker laat lyk om ’n dosyn dinge gelyktydig te kan doen: werk van die huis af, tuisonderrig saam met die kroos, aanlyn inkopies en pligte in en om die huis – dit was ’n warboel van take wat dikwels byna gelyk afgehandel moes word.

Natuurlik het jy trots gevoel op jou vermoë om ’n klomp dinge gelyk te doen.

Maar raai wat? Jy kán dit nie eintlik doen nie – niemand kan werklik gelyk ’n klomp take doeltreffend afhandel nie.

Om te “multitask” ontwrig jou brein, laat jou minder helder dink en maak dit vir jou onmoontlik om een ding na die beste van jou vermoë te doen. Dit verhoog ook jou stres- en angsvlakke.

Dít is die mening van iemand wat weet waarvan sy praat wat die brein betref – en self ’n vrou is. Caroline Leaf is ’n kommunikasiepatoloog en kognitiewe neurowetenskaplike wat in neuropsigologie spesialiseer. Sy ken haar storie.

Caroline is in Zimbabwe gebore, het in Suid-Afrika grootgeword en verdeel nou haar tyd tussen Suid-Afrika en Amerika. Sy is ook die topverkoperskrywer van die boeke Switch On Your Brain, Think, Learn, Succeed en Think and Eat Yourself Smart.

Sy het haar gedagtes oor multitasking onlangs in ’n artikel vir die leefstyl-en- welstandwebtuiste Mindbodygreen gedeel – die titel is: “I’m a Cognitive Neuroscientist and Here’s Why You Need to Stop Multitasking.

Dít is wat sy te sê gehad het oor hierdie uitdaging, en sy het ook haar kennersraad gegee vir hoe jy doeltreffend kan dink en optree.

Melkskommeldenke

Wanneer ons talle take gelyk aanpak, sit ons met “melkskommeldenke” – presies die teenoorgestelde van aandagtigheid. Elke vinnige, onvoltooide gedagtegang van ’n swak gehalte maak ’n melkskommel van ons breinselle en neurochemikalieë.

As jy bewustelik jou brein dwing om op verskillende take gelyk te fokus, versteur jy die gebalanseerde energievloei in jou brein se stroombane. Wanneer ons bewustelik vinnig probeer spring van een taak na ’n ander, maak ons dit vir onsself moeiliker om te fokus en diep te dink.

Dit maak ons in daardie oomblik minder intelligent en beïnvloed ons vermoë om iets goed te doen – wat tot onnodige angs- en stresvlakke lei.

Hoewel ons goed is met bedrywig wees, moet ons leer om dit slim te doen. Ons moet maniere vind om ons denke te organiseer en te kompartementaliseer. Hier is metodes wat hiermee kan help.

Leer nee sê

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sê vir mense wat jou aandag benodig om jou tyd te gee om klaar te maak waarmee jy besig is.

Moenie net ja sê vir alles nie. Om duidelike grense in jou verhoudings by die werk en tuis te hê sal jou help om jou take te kompartementaliseer, jou gedagtes netjies georden te hou en jou te help prioritiseer tussen wat aandag benodig en wat kan wag.

Ons lê dikwels nie grense neer nie omdat ons bang is dit beïnvloed ’n verhouding of hoe iemand ons sien. Dan sê ons eindelik ja vir dinge wat ons nie wil doen nie, wat ons vasgekeer, depressief, ongemaklik, wrewelrig of angstig laat.

Dit is ook nie net jou geestelike welstand wat daaronder ly nie, maar ook jou fisieke gesondheid en denkvermoë, want ons gevoelens verander die manier hoe ons brein en liggaam funksioneer.

Hierdie grense moet, nes dié rondom ’n erf, duidelik wees sodat ander mense weet wanneer hulle dit oorsteek en wanneer hul optrede geestesprobleme veroorsaak. Wanneer jy verstaan hoekom jy die geestelike ruimte benodig om ’n taak af te handel én verstaan hoe belangrik die ruimte is, kan jy ander mense rustig inlig wat jy benodig.

Kies om op een ding te fokus

’n Besige skedule kan jou gespanne laat voel. Foto
’n Besige skedule kan jou gespanne laat voel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Waarop jy besluit om te fokus, is ’n keuse – een wat jou op ’n positiewe of negatiewe manier kan beïnvloed.

Dit is veral die geval met multitasking. Daardie gevoel wanneer die magdom keuses waardeur ons elke dag in die gesig gestaar word jou oorweldig, lei dit tot angstigheid.

Jy kan dié angs verminder deur in die oomblik te besluit om op ’n taak gefokus te bly en enige eise wat minder dringend is te ignoreer. Wanneer jy dit doen, bou jy jou geestelike krag en uithouvermoë – wat jou sal help om teleurstelling, mislukking en die lewe se daaglikse uitdagings beter te hanteer.

Maak notas

Herinner jouself in die oomblik jy kan nie alles gelyktydig doen nie.

Sê vir jouself iets soos: “Ek kan nie hierdie taak nou klaarmaak nie, maar sal dit doen sodra ek hierdie probleem kon uitpluis” of “Ek sal ’n nota maak van tot waar ek in die dokument gevorder en wat ek gedink het sodat ek later van hier af verder kan werk”.

Dalk moet jy dit neerskryf op ’n paar plaknotas en dit naby jou lessenaar of yskas hou, of selfs as notas op jou foon

Sit dit af

Beperk die tyd wat jy aanlyn deurbring.

Tegnologie het talle voordele, maar om gedurig met inligting en stimulering gebombardeer te word kan jou aandag aflei. Probeer dus die tyd beperk wat jy aanlyn deurbring, veral wat die sosiale media betref.

Om duidelike grense in jou verhoudings by die werk en tuis te hê sal jou help om jou take te kompartementaliseer

Lei jou brein op

Oefen diep denke en mindfulness

Staan tyd daaraan af om te fokus en diep oor ’n taak na te dink. Meditasie is ’n uitstekende manier om dit te doen, nes om iets nuuts te leer deur diep te fokus op die inligting wat jy probeer inneem, of dit nou ’n boek, artikel, podsending of klas is.

Hierdie diep, intellektuele denke aktiveer die prefrontale korteks op ’n positiewe manier. Dié soort denke leer ook die brein om geheue op te bou.

In 2012 het ’n navorsingsgroep aan die Universiteit van Washington ’n studie voltooi oor die gevolge van meditasieopleiding op multitasking.

Ek het hulle geleer hoe belangrik dit is om dieper te dink en gewys hoe hulle dit op hul lewe kan toepas.

Hulle het bevind die deelnemers aan die studie het minder negatiewe emosies gehad, kon langer aan ’n taak werk en kon beter konsentreer. Die deelnemers het ook doeltreffender – op ’n gefokusde en georganiseerde manier – tussen take gewissel (in teenstelling daarmee om sonder patroon heen en weer tussen take rond te spring) en was veel doeltreffender in hul tydsbestuur.

Ek het iets soortgelyks gesien in my eie navorsing onder pasiënte wat traumatiese breinbeserings het en studente en volwassenes met leer- en emosionele gestremdhede. Ek het hulle geleer hoe belangrik dit is om dieper te dink en gewys hoe hulle dit op hul lewe kan toepas.

Die veranderings was byna onmiddellik: beter fokus, begrip, doeltreffende wisseling tussen take en algehele doeltreffendheid in die lewer van goeie werk.

Danksy hierdie ekstra voue kan die brein inligting vinniger verwerk en vinniger besluite neem en is jou geheue beter.

Daar was selfs positiewe veranderings op ’n emosionele vlak, spesifiek wat selfmotivering en selfbeeld betref. Met die verloop van tyd het hul kognitiewe en emosionele funksionering aanhou verbeter.

As mense in die oomblik bewustelik en doelbewus daarop fokus om hul gedagtes te bestuur, doen hulle nie meer as een taak op ’n slag nie; daarom voel hulle minder angstig en depressief en is hulle meer bemagtig om uitdagings te oorkom.

Diep denke lei boonop tot meer voue wat ontstaan in die korteks van die brein – en meer voue vergroot die oppervlak van jou brein eksponensieel. Danksy hierdie ekstra voue kan die brein inligting vinniger verwerk en vinniger besluite neem en is jou geheue beter.

Kortom: Diep, aandagtige denke beteken ’n gesonde brein. Die lewe kan natuurlik ons aandag aftrek, en dis soms moeilik om die versoeking te weerstaan om ’n klomp dinge gelyktydig te doen, maar hoe en waar jy kies om jou aandag te vestig, is jou eie keuse.

Onthou, jy kan kies om nie ’n klomp take terselfdertyd te verrig nie. Jy beheer die afleidings – die afleidings beheer jou nie. 

Kitsfeite

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.