Wanneer jy saans jou voordeur oopmaak, dink jy al daaraan – daardie groot glas wyn wat wink. Met etenstyd skink jy die tweede een, of dalk kom dit eers nadat jou laaste spruit gebad en in die bed is.

Op ’n Vrydagaand skink jy sommer nog ’n diep glas (of selfs twee); dis mos naweek! Maar jy moet mooi dink voor jy jou glas weer vol skink, waarsku navorsers ná die bevindings van ’n omvattende nuwe studie.

25 ml
340 ml
125 ml

Navorsers van die Universiteit van Cambridge in Engeland het 83 studies in 19 lande bestudeer waarby byna 600 000 mense betrek is, en bevind: As jy gereeld of op lang termyn meer as 1 L wyn, oftewel ’n bottel en ’n derde, per week drink, kan dit jou gesondheid aantas en selfs jou lewensverwagting verkort.

Volgens die bevindings wat in die mediese vaktydskrif The Lancet gepubliseer is, kan jy vier tot vyf jaar korter leef as wat jy andersins moontlik sou as jy op 40 jaar meer as 350 g alkohol, oftewel 43,75 eenhede, per week drink. Die navorsers beveel aan mense moenie meer as 100 g alkohol, oftewel 12,5 eenhede, per week inneem nie. En dit geld vir vroue en mans.

Hoe gemaak as jy jouself ’n gereelde drankie gun?

“Kies iets wat vir jou lekker is, maar hou by die aanbevole porsiegrootte,” sê die Bloemfonteinse dieetkundige Sonelle van der Linde. Sy sê rooiwyn bevat ’n antioksidant wat die hart help beskerm en bevat ook minder suiker as soeter witwyn en ander drankies.

Sonelle sê ligte biere, wyne en appelwyn is inderdaad gesonder as gewone bier, wyn of appelwyn omdat dit minder kilojoules bevat.

Volgens die bevindings kan jy vier tot vyf jaar korter leef as wat jy andersins sou . . .

“As jou drankie minder kilojoules bevat, gaan dit die beste keuse wees, maak nie saak wat jy kies nie.”

Sy sê as jy hardehout drink, moet jy sorg dat jou keuse van wat jy daarby meng ook nie suiker bevat nie.

“Wat jy saam met die drankie meng, maak die verskil. Kies iets wat nie suiker bevat nie, byvoorbeeld water, sodawater of dieetkoeldrank.

“Tonikum bevat vreeslik baie suiker, maar suikervrye tonikum is deesdae beskikbaar.”

Hoeveel mag ek per week drink?

Die studie beskou 8 g alkohol as ’n eenheid. As jy jou gesondheid nie wil aantas nie, moet jy volgens die studie nie meer as 100 g alkohol, oftewel 12,5 eenhede, per week drink nie.

Ons kyk hier hoeveel drankies jy per week kan drink en watter skade dit kan berokken as jy nie matigheid voor oë hou nie.

Wyn

% alkohol (gemiddeld)

12%

Hoe lyk die 12,5 eenhede wat jy per week behoort te drink?

8 klein glase (125 ml elk), oftewel 1¹/3 bottel

Ligte wyn

% alkohol (gemiddeld)

7%

Hoe lyk die 12,5 eenhede wat jy per week behoort te drink?

16 klein glase (125 ml elk), sowat 2²/3 bottels

Bier en appelwyn (cider)

% alkohol (gemiddeld)

6%

Hoe lyk die 12,5 eenhede wat jy per week behoort te drink?

6¼ botteltjies (340 ml elk), dus sowat ’n sespak

Ligte bier of ligte appelwyn

% alkohol (gemiddeld)

4%

Hoe lyk die 12,5 eenhede wat jy per week behoort te drink?

Sowat 7 botteltjies (340 ml elk)

Hardehout

% alkohol (gemiddeld)

40%

Hoe lyk die 12,5 eenhede wat jy per week behoort te drink?

12½ sopies (25 ml elk), dus sowat ses sogenaamde “dubbels”

Wat kan die impak wees as ek te veel drink?

Dr. Owen Wiese, ’n algemene praktisyn van Kaapstad, sê dit kan ’n ingrypende uitwerking op jou gesondheid hê as jy twee maal soveel as die voorgestelde weeklikse kwota drink.

Blaas en Niere

Kort termyn   

  • Oormatige uitskeiding van vloeistof kan lei tot ontwatering en elektroliet-wanbalans.
  • Verlies aan blaasbeheer.

Lang termyn

  • Verswakking van blaasfunksie.
  • Gereelde blaas- en nierinfeksies wat kan lei tot chroniese nierskade.
  • Hoë bloeddruk.

Brein en senustelsel

Kort termyn

  • Verwarring, depressiewe gedagtes.
  • Hoofpyn.
  • Inkorting van senuweewerking.
  • Vertraagde reaksie op stimuli (daarom kan jy nie ordentlik motor bestuur nie).
  • Inkorting van korttermyngeheue.
  • Verloor inhibisie en kan onverantwoordelik optree.       

Lang termyn

  • Gemoedsteurings (depressie, angs).
  • Psigose.
  • Inkorting van geheue.
  • Demensie.

Lewer     

Kort termyn

  • Lae bloedsuiker.

Lang termyn

  • Sirrose.
  • Alkoholiese hepatitis.
  • Tipe 2-diabetes.

Vel 

Kort termyn

  • Veluitslag of aknee.
  • Droë vel (weens ontwatering).
  • Verswakking in die elastisiteit van die vel.

Lang termyn

  • Rooi gelaat weens oppervlakbloedvaatjies wat ooprek.
  • Pofferigheid van die gesig.
  • Vroeë veroudering.
  • Weens lewerskade kan jou vel gelerig lyk.

Spiere

Kort termyn

  • Spierpyne en -krampe.

Kort termyn

  • Verlies aan spiermassa weens swak voeding.

Hart

Kort termyn

  • Hartritme-steurings.

Lang termyn

  • Hoë bloeddruk.
  • Hoë cholesterol. 
  • Verswakking van die hartspier.

Bloed

Kort termyn

  • Afname in stollingsvermoë.

Lang termyn

  • Bloedarmoede.

Maag

Kort termyn

  • Diarree.
  • Gastritis.
  • Swak absorbsie van voedingstowwe.

Lang termyn

  • Chroniese inflammasie van die maagwand.
  • Maagsere.

Pankreas

  • Pankreatitis.

Gewig

  • Toename in gewig – ’n sogenaamde bierboep is ’n voorbeeld.
  • Wanvoeding weens swak absorbsie van belangrike voedingstowwe kan lei tot gewigsverlies. 
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, HG-INFOGRAFIKA; BRONNE: MAYOCLINIC.ORG, NETWERK24.COM, THELANCET.COM