Sy het jare lank gedink die rooiheid en klein knoppies aan haar vel is gewone aknee. Sy het dit dus so behandel – maar dit het net die probleem vererger.

Eers toe ’n dokter in 2009 die korrekte diagnose maak – die veltoestand roosaknee – het die aktrise Cynthia Nixon (52) van Sex and the City-faam verligting gevind. Sy het eindelik die woordvoerder van die Amerikaanse vereniging van roosakneelyers geword.

Cynthia Nixon, ster van Sex and the City, is ’n kampvegter vir roosaknee­lyers sedert sy in 2009 uitgevind het sy het dié veltoestand. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die toestand raak na raming sowat 415 miljoen mense wêreldwyd.

“Roosaknee is een van daardie dinge wat ’n groot demper op alles plaas; dis ’n hindernis wat keer dat jy op jou beste lyk en voel,” sê die Hollywoodaktrise.

“Maar die goeie nuus is sodra jy weet wat dit is en jou dokter jou die regte behandeling gee, is dit eintlik heel eenvoudig om te bestuur.”

Ons bekyk dié chroniese veltoestand wat meestal jou gesig raak, maar ook na die ore, borskas en rug kan versprei.

WAT IS ROOSAKNEE?

Dis ’n betreklik algemene chroniese inflammatoriese velsiekte gekenmerk deur rooiheid in die gesig en sigbare bloedvate en/of klein, rooi knoppies aan die neus, wange, ken en voorkop. In ernstige gevalle kan selfs die ore, borskas en rug daardeur geraak word.

“Dit raak gewoonlik vroue en begin dikwels ná die ouderdom van 30, maar kan ook by jonger pasiënte voorkom,” sê dr. Dilshaad Asmal, ’n dermatoloog van Kaapstad.

Dit kan mans ook raak – wanneer dít gebeur, is dit gewoonlik ernstiger as by vroue. Roosaknee begin dikwels as ’n geneigdheid om makliker as ander men- se te bloos of gloede te ervaar, en mense met ’n ligter vel en blonde hare is vatbaarder, asook dié met ’n familiegeskiedenis van die toestand.

Hoewel dit die woord “aknee” bevat, is daar geen verband tussen roosaknee en die bakterieë wat gewone aknee veroorsaak nie.

WAT VEROORSAAK DIT?

Die presiese oorsaak is onbekend, maar dis gewoonlik ’n kombinasie van oorerflike en omgewingsfaktore.

“Daar is bevind ’n mikroskopiese myt wat in die vel voorkom, genaamd Demodex folliculorum, en abnormaliteite in die gesig se bloedvate is die vernaamste oorsake,” sê Dilshaad.

Daar is ’n aantal faktore wat roosaknee kan veroorsaak of vererger omdat dit meer bloed na die vel se oppervlak laat vloei.

Sterk kosse en alkohol is onder die sondaars wat ­roosaknee kan aanvuur. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
drank
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Dit sluit in:

  • sterk kosse
  • alkohol
  • temperatuuruiterstes
  • sonlig of windmosies soos stres
  • intense oefening
  • skoonheidsmiddels
  • medikasie wat bloedvate kan laat swel soos sekere bloeddrukmedikasie.

WAT IS DIE SIMPTOME?

As jy minstens twee van die volgende simptome het, is die moontlikheid sterk dat jy roosaknee onder lede het.

Rooiheid in die gesig

Roosaknee veroorsaak meestal ’n gedurige rooiheid aan die sentrale deel van jou gesig. Gloede en ’n gebloos is gewoonlik vroeë simptome en gaan dikwels gepaard met ’n sensasie van hitte of ’n brandgevoel wat kom en gaan.

Knoppies/puisies en droogheid

Baie mense met roosaknee ontwikkel puisies aan die gesig wat soos aknee lyk. Dié klein rooi knoppies bevat soms etter, en mense ervaar dikwels ’n brandende, stekerige of jeukerige sensasie wat die vel warm en gevoelig laat. Die vel kan droog en skubagtig word.

Sigbare bloedvate

Klein bloedvate genaamd telangiëktase swel dikwels en is sigbaar aan die wange, neus en ander dele van die gesig.

Oogirritasie

Sowat die helfte van mense met roosaknee ervaar ook oogdroogheid en geswelde, rooi ooglede. Karkatjies is ook algemeen. By sommige mense word die velsimptome voorafgegaan deur die oogsimptome.

In baie gevalle is die oë geïrriteerd en lyk dit waterig of bloedbelope, ’n toestand algemeen bekend as okulêre roosaknee. Ernstige gevalle kan tot skade van die korneas lei.

Verdikking van die neus

Hoewel dit seldsaam is, kan roosaknee die vel aan die neus laat verdik, wat dit bolvormig laat voorkom – dié toestand word rinofima genoem. Dit gebeur meer dikwels met mans as vroue.

HOE WORD DIT BEHANDEL?

As jy vermoed jy het roosaknee, klop aan by ’n dokter – of nog beter, ’n dermatoloog – vir ’n diagnose en geskikte behandelingsopsies.

Behandeling sluit gewoonlik in jel wat metronidasool bevat en antibiotika. Laserbehandeling is ook ’n opsie vir roosaknee in ’n gevorderde fase.

Mikrodermabrasiebehandeling kan ook ingespan word om uiterste gevalle te behandel waar daar ’n verdikking van die vel is.

Dié prosedure behels dat piepklein kristalle gebruik word om die boonste lagie dooie velselle te verwyder. Raadpleeg ’n oogarts as oogprobleme ontstaan.

Steroïedoogdruppels en antibiotika kan dalk voorgeskryf word. Roosakneelyers sukkel dikwels met ’n swak selfbeeld. Talle sê dit beïnvloed hul verhouding en loopbaan. Maar deur die simptome met die regte behandeling te beheer kan jy die toestand goed bestuur en ’n vleklose gelaat hê.

“Ek dink ons almal weet wanneer ons vel sleg lyk, voel ons sleg oor onsself,” sê Cynthia.

“Wanneer my vel goed lyk, is dit vir my baie makliker om uit te gaan en selfversekerd te wees en te voel dat mense my nie skeef aankyk nie.”

Deur die regte behandeling kan jy ’n vleklose gelaat hê.

HOE LYK JOU VELSORGROETINE?

Lyers moet hul dokter of dermatoloog raadpleeg om te verseker hul velsorgroetine is versoenbaar met roosaknee. Die verkeerde produkte sal net die toestand vererger.

Reiniging

Cynthia sê die eerste ding wat sy gedoen het, was om van haar antibakteriese wasmiddels en skrop- en afskilferingsmiddels ontslae te raak.

“My dokter het gesê ek moet dadelik ophou om dit te gebruik. Sy het gesê dis die ergste ding wat ek kan doen, want ek behandel dit asof dit aknee is, ’n bakteriese toestand waar jy daardie bakterieë moet wegskrop. Maar dis eintlik ’n vaskulêre toestand, en hoe growwer jy met jou vel werk, hoe meer gaan die bloedvate ontsteek, en dit sal puisies veroorsaak.”

Die belangrikste is om dinge nie te oordoen nie, sê sy.

“Ek was saans my gesig een keer, en dis al. Ek het altyd baie hard met my vel werk, maar behandel dit nou soos ’n prinses wat ’n bietjie gepamperlang moet word.”

Gebruik matige reinigers en was met louwarm water. Moet nooit jou gesig skrop nie.

Vermy produkte wat die volgende bestanddele bevat wat bewys is as snellers: alkohol, mentol, peperment, parfuum en bloekomolie. 

Bevogtiging

Volgens talle dermatoloë is bevogtiging die sleutel om die brandende, stekerige, jeukerige gevoel en irritasie van roosaknee te voorkom. “Ek bevog baie,” sê Cynthia.

“Ek dra bedags produkte saam met my om seker te maak my vel bly bevog. Dit help ook om baie water te drink.”

Skeer

Mans met roosaknee moet ’n elektriese skeermes gebruik om die irritasie van ’n stomp skeermes te vermy.

Vermy enige skeerrome of rome wat jou vel brand, soos dié wat alkohol bevat.

Gebruik ’n salf en/of vogroom wat die vel streel nadat jy geskeer het.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Sonskerm

Sterk sonlig is ’n groot sneller vir roosaknee. Maak seker jy verminder jou risiko deur daagliks ’n sonskerm met ’n SBF van nie minder as 30 nie te gebruik.

Ligte of pediatriese sonskerms is beskikbaar vir sensitiewe vel, of kry dié wat sink of titaandioksied bevat. Skoonheidsprodukte Hoewel dit normaal is om roosaknee te wil verbloem, kan dit sake vererger.

Verminder die gevaar van velirritasie deur slegs grimering te gebruik wat reukvry is en vir allergieë getoets is. 

Bronne: MayoCinic.org, Rosacea.org, Marieclaire.co.uk