Britse navorsers sê volgens ’n nuwe opname is meer as sewe uit 10 millenniërs, diegene wat tussen die vroeë 80’s en middel-90’s gebore is, op pad om oorgewig of vetsugtig te wees teen die ouderdom van 35 – 44 jaar. Dit is teenoor sowat vyf uit 10 uit die Baby Boomer-generasie, diegene wat tussen 1945 en 1955 gebore is, wat op dieselfde ouderdom oorgewig of vetsugtig was.

Gevolglik het Cancer Research UK ’n grootskaalse veldtog begin om bewustheid te kweek oor die maniere waarop vetsug tot kanker kan lei. 

“Oorgewig is naas rook die Verenigde Koninkryk se grootste voorkombare oorsaak van kanker, maar die meeste mense weet nie van dié groot risiko nie. As meer mense bewus word van die verband, kan dit help om nie net millenniërs nie maar alle generasies teen kanker te beskerm,” sê Alison Cox, direkteur van voorkoming by Cancer Research UK.

“Die regering moet iets doen om mense te help om gesonde koskeuses te maak. Ons bewyer ons dus vir ’n verbod op gemorskos-advertensies voor 21:00 saans op televisie. Die hoop is dat dit jong mense sal beskerm teen advertensies wat alte dikwels vetmakende kos bevorder.”

’n Opbou van ekstra vet in die liggaam kan die risiko van kanker verhoog

Oorgewig of vetsugtigheid in volwassenes word verbind met 13 verskillende soorte kanker, onder meer bors-, derm- en nierkanker. Maar navorsers sê net 15 persent van mense is bewus van hierdie verband. 

’n Opbou van ekstra vet in die liggaam kan selle vernietig en mettertyd die risiko van kanker verhoog op dieselfde wyse as wat rook dit doen, sê prof. Linda Bauld, ook van Cancer Research UK.

“Al klink hierdie ramings droewig, kan ons keer dat dit ’n werklikheid word. Millenniërs is bekend daarvoor dat hulle oënskynlik gesonde voedseltendense volg, maar niks klop ’n gebalanseerde dieet nie. Die eet van baie vrugte, groente en ander veselryke kosse soos volgrane, en die vermindering van gemorskos, is die beste manier om ’n gesonde gewig te behou,” sê sy.

© Cover Media