’n Dokter ondersoek ’n vrou se skildklier. Foto: G
’n Dokter ondersoek ’n vrou se skildklier. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar dié beskeie klier kan groot probleme veroorsaak en amok in jou liggaam saai op maniere wat jy dalk nie sou verwag nie. Gewigstoename of selfs tekens van depressie of demensie – soms kan die sondaar vir dié simptome jou tiroïedklier, oftewel jou skildklier, wees.

Baie mense dra swaar aan probleme wat veroorsaak word deur ’n oor- of onderaktiewe skildklier, maar dié probleme kan gewoonlik medies behandel word.

Die omvang van die toestand het verlede jaar juis weer die nuus gehaal toe ’n Sondagkoerant berig het daar is omstredenheid oor een van die soorte medikasie wat vir skildklierprobleme ingespan word. Sommige vroue wat die middel gebruik, meen dit veroorsaak buierigheid en slapeloosheid nadat die formule van die medikasie deur die vervaardiger verander is.

Die Bloemfonteinse endokrinoloog dr. Wimpie de Lange sê die aktiewe bestanddeel in die formule is nie verander nie, bloot die gedeelte van die bestanddele wat die absorpsie van die middel in die liggaam beïnvloed.

Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om gereeld jou dokter te spreek as jou skildklier probleme gee. “Dit is belangrik om gereeld jou skildklierhormoonvlakke te laat nagaan om te verseker jy het nie te min of te veel van dié hormoon nie.”

Wat doen dié klier wat tot soveel moeilikheid kan lei – en hoekom is dit belangrik om mediese behandeling te kry as jou skildklier oor- of onderaktief is?

Wat doen die skildklier?

3d renDie skildklier, wat soos ’n strikdas in jou
Die skildklier, wat soos ’n strikdas in jou keel sit, kan tot groot probleme lei as dit oor- of onderaktief is. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die skildklier is ’n endokriene klier, met ander woorde ’n klier wat hormone vervaardig en afskei,” verduidelik dr. Jacomien de Villiers, ’n internis van Pretoria.

“Dié hormone is soos chemiese boodskappers wat sekere funksies in die liggaam verrig.”

Die skildklier skei twee hormone, die tiroïedhormone T3 en T4, af. Dit is verantwoordelik vir die werking van die liggaam se metabolisme, oftewel hoe vinnig of stadig jou liggaam energie verbruik.

Die werking van die skildklier word beheer deur hormone wat vervaardig word deur kliere wat in die brein is.

Die vlak van hormone in jou liggaam kan gemeet word met ’n bloedtoets, en dokters kan die uitslae ontleed om te bepaal of jou skildklier reg funksioneer.

As jou skildklier te min tiroïedhormone vervaardig, kan jy ’n onderaktiewe skildklier hê. En as dit te veel tiroïedhormone lewer, het jy moontlik ’n ooraktiewe skildklier, sê Jacomien.

By wie kom skildklierprobleme voor?

Oud en jonk kan deur skildklierprobleme geteister word. In seldsame gevalle sukkel selfs kinders daarmee, vertel Wimpie. Maar die probleme is meer algemeen onder vroue.

Skildklierprobleme word soms deur outoïmmuunsiektes soos Graves se siekte en Hashimoto se tiroïeditis veroorsaak. As jy ’n familiegeskiedenis hiervan het, is jou kans groter om dit ook te kry.

Wimpie sê sekere medikasie, soos dié met litium wat soms vir gemoedsteurings voorgeskryf word, kan die produksie van jou skildklierhormone beïnvloed. “Psigiaters toets gewoonlik die hormone om seker te maak die vlakke is reg.”

Wat is die simptome van ’n skildklier wat nie reg werk nie?

Dit kan soms moeilik wees om die simptome te identifiseer, sê dr. Michael Heyns, ’n chirurg van Pretoria wat betrokke is by die behandeling van skildklierprobleme.

’n Onderaktiewe skildklier kan jou slaperig maak.
’n Onderaktiewe skildklier kan jou slaperig maak. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Gewoonlik is die simptome subtiel en ontwikkel dit stadig; dit is net die uiterste simptome wat maklik raakgesien word.

“Aangesien skildklierprobleme so algemeen is en so maklik met basiese bloedtoetse gediagnoseer kan word, is dit beter om jou huisdokter te vra om dit jaarliks saam met jou ander bloedondersoeke na te gaan.”

Jacomien sê simptome van skildklierprobleme sluit in:

Met ’n ooraktiewe skildklier:

  • Jy sukkel om gewig aan te sit.
  • Jy kry maklik warm.
  • Jou hartklop en asemhaling raak vinniger.
  • Jy ly aan slapeloosheid.
  • Jy is angstig en chronies moeg.
  • Jou oë lyk asof dit uitpeul.
  • Jou skildklier is vergroot.

Met ’n onderaktiewe skildklier:

  • Jou gewig neem toe.
  • Jy kry maklik koud.
  • Jou hartklop en asemhaling raak stadiger.
  • Jou eetlus neem af.
  • Jy is hardlywig.
  • Jou haargroei neem af of jou hare val uit.
  • Jy sukkel om te konsentreer.
  • Jy is slaperig.
  • Jy is depressief.
  • Jou oë lyk pofferig.

“In sommige gevalle van ’n onderaktiewe skildklier word die pasiënt se reaksies traag, en ’n koma kan volg. Die gesig kan pofferig wees en die vel en hare droog,” sê sy.

Wimpie sê verder psigiaters, neuroloë en spesialiste sal gewoonlik iemand met demensiesimptome eers vir skildklierprobleme toets – omdat ’n oor- of onderaktiewe skildklier soms soortgelyke simptome kan veroorsaak.

“Dit lyk asof die mens demensie het. Hulle sukkel om te praat en het kognitiewe inkrimping. Maar as dit weens die skildklier is, verdwyn baie van daardie simptome met die regte behandeling.”

In sommige gevalle kan ’n onderaktiewe skildklier
In sommige gevalle kan ’n onderaktiewe skildklier lei tot gewigstoename. Foto: Gallo Images/Getty Images

Onbehandelde skildklierprobleme kan op die duur tot ernstige gesondheidsprobleme lei, soos hartprobleme, geestesiektes, swak bene (osteoporose), oog- en sigprobleme en skade aan jou senuwees.

Hoe word dit behandel?

As ’n oor- of onderaktiewe skildklier by jou gediagnoseer is, kan dit met hormoonbehandeling behandel word. Die medikasie onderdruk of stimuleer die produksie van die tiroïedhormone en sal lewenslank gebruik moet word.

Dit is uiters belangrik dat skildklierpasiënte hul medikasie korrek drink, sê Jacomien. “Dis gewoonlik ’n klein pilletjie wat daagliks op ’n leë maag met slegs water geneem moet word.

“Wag ’n uur voor enige verdere voedsel of ander medikasie ingeneem word. Dis baie belangrik sodat die medikasie optimaal geabsorbeer word.” Enigeen by wie skildklierprobleme gediagnoseer word, moet meer as een keer per jaar getoets word, sê Wimpie.

“Die seisoene beïnvloed jou skildklierhormone, en dit is nodig om altyd seker te maak jou vlakke is korrek. Anders kan jy te min of te veel van die hormoon hê.”

Dit is belangrik dat ’n swanger vrou met ’n onderaktiewe skildklier haar medikasie drink, voeg Wimpie by. “As die ma nie haar pille drink nie, kan dit tot ’n miskraam of gestremdheid ly, want die baba begin eers sy eie skildklierhormone in die derde trimester vervaardig. Dit kan selfs die ma se dood veroorsaak.”

Wanneer laat jy jou skildklier verwyder?

Die verwydering van jou skildklier is die laaste uitweg, sê Wimpie.

“Dit word net verwyder as dit baie groot is en veroorsaak dat pasiënte sukkel om te sluk of behoorlik asem te haal. Daar is ook pasiënte wat kwaadaardige gewasse het wie s’n verwyder moet word of mense wie se skildklier kosmeties verwyder word omdat dit baie groot is.”

Mense wie se skildklier verwyder word, moet ook lewenslank op hormoonbehandeling wees. Dié klier help ook met die absorpsie van kalsium en Wimpie sê dié vlakke, asook ystervlakke, moet daarom gereeld nagegaan word.

Jou skildklier en gewig

As jy ekstra vetjies het, is dit nie noodwendig weens ’n onderaktiewe skildklier nie. En al is dit die geval, sal hormoonbehandeling nie noodwendig help om dit af te skud nie, maan Jacomien.

“Baie mense dink as hulle hier in hul 50’s begin gewig aansit, moet dit hul skildklier wees. As die diagnose van ’n onderaktiewe skildklier wel gemaak word, is daar groot vreugde, want nou sal die skildklierpilletjie die probleem oplos en hulle dink hulle gaan weer hul tienergewig bereik.

“Niks is verder van die waarheid nie. Die skildklierpilletjie sal die pasiënt moontlik beter laat voel en die energievlakke gaan waarskynlik toeneem, maar die gewig kan bly sit. Dit is omdat daar soveel faktore is wat by ons liggaamsgewig ’n rol speel,” sê sy. Spreek ’n dokter of dieetkundige vir raad oor hoe jy jou leefstyl kan aanpas om op ’n gesonde wyse gewig af te skud.