Akademici aan die Universiteit van Auckland het ’n studie gedoen met 29 gesonde vroue wat tussen 34 en 38 weke swanger was. Hulle het die deelnemers se slaapposisies dopgehou met behulp van ’n infrarooi videokamera en ’n fetale hartslagmonitor wat aan die vrou se maag geheg was. Dit het die baba se hartklop aangeteken.

In die studie is bevind babas was net aktief wanneer die vrou op haar linker- of regtersy lê. Wanneer die vrou in haar slaap van posisie verander het, soos wanneer sy van haar regtersy op haar rug gedraai het, het die baba stil en rustig geraak.

“Ons het vasgestel wanneer die vrou op haar rug slaap, het die baba minder aktief geraak en dit bespaar suurstof,” het die hoofnavorser, prof. Peter Stone, in ’n verklaring gesê. “Ons het bevind die baba was net aktief as die vrou op haar regter- of linkersy lê. Wanneer sy in haar slaap van posisie verander het, byvoorbeeld van slaap op die linkersy na op die rug slaap, het die baba se toestand van aktiwiteit vinnig verander.”

In vorige studies is die posisie waarin ’n vrou slaap, verbind met die baba se risiko vir stilgeboorte. Vergeleke met slaap op die linkersy is plat lê met die gesig na bo as potensieel gevaarlik gevind. Die kenners bespiegel nou dat die gevolge wat hulle by gesonde babas teëkom, by ’n fetus met probleme baie erger en meer opmerklik kan wees.    

Ons raai vroue aan om teen die einde van die swangerskap nie op hul rug te slaap nie.

“Ons reken daar is genoeg bewyse dat ons swanger vroue moet aanraai om nie teen die einde van die swangerskap op hul rug te slaap nie, nie net as gevolg van die epidemiologiese data nie, maar ook omdat ons bevind het dit het ’n duidelike uitwerking op die baba,” het Peter bygevoeg.

Die volledige resultate van die studie is in The Journal of Physiology gepubliseer.

© Cover Media