Ek sit af na die Culemborg-apteek naby die werk hier in die Kaapse middestad. Toe ek vroegoggend uit die bed opstaan, het dit vir my gevoel asof ek wil flou word. Later in die gimnasium, toe ek van die oefenmat af opstaan, was dit weer so.

Die Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl laat sy bloeddruk toets.

Ek was dadelik oortuig ek ly aan hoë bloeddruk. 

Die Hart-en-Beroertestigting van Suid-Afrika skat een uit elke drie Suid-Afrikaanse volwassenes lewe op die oomblik met hipertensie, ’n toestand wat verantwoordelik is vir tot 50% van beroertes en 40% van alle hartaanvalle.

“Ek is senuagtig oor die floutes wat heeltyd dreig,” vertel ek die apteker, Lin-D Thomson, wat die bloeddrukmeter om my linkerarm vasmaak.

“Ek het al op die internet gelees jy moet soggens eers drie minute op die rand van die bed sit voor jy opspring,” vertel sy.

Omdat ek vinnig die paar honderd meter van die werk tot hier gestap het, moet ek ook ’n bietjie wag voor sy die meting neem. “By rokers sien jy ook hoe die bloeddruk skielik styg pas nadat hulle die sigaret doodgedruk het.”

Ek het ’n week gelede ophou rook. Dit kan maande vat voor my lyf weer begin herstel van die skade wat die nikotien veroorsaak het.

My eerste bloeddruklesing is 118/87. ’n Paar minute later neem sy die tweede lesing, wat 133/85 is.

“Moenie so bekommerd lyk nie,” paai sy. “Vir jou ouderdom is die normale lesing 127/84 en die maksimum 139/88.”

Ek is 45, en 'n bloeddruk van 140/90 sal beteken dat ek aan hipertensie ly.

Laat jou bloeddruk gereeld toets, veral as jy oor 40 is.

Dis baie selde dat daar simptome vir hipertensie is; daarom word dit dikwels die stil moordenaar genoem. 

Mense wil nie medisyne met ’n klomp newe-effekte neem of hul leefstyl aanpas om die risiko te verminder van iets wat sonder simptome is en hulle nie eintlik regtig pla nie.

Dink aan bloeddruk amper soos aan die waterpypstelsel in jou huis. As jy onder ’n sterk stroom water kan stort, is dit omdat daar genoeg druk in die pype is. Wanneer die druk te laag is, staan jy onder ’n frustrerende yl straaltjie.

Jy sal dalk maar die loodgieter moet ontbied – dalk het mineraalneerslae die pype verstop.

Wel, bloeddruk verskil nie veel hiervan nie. In ons jong dae is ons bloedvate soepel sodat bloed onbelemmerd kan vloei. Maar namate ons ouer word, en ook weens ander oorsake, verstyf die vate.

Hulle kan dan nie meer behoorlik uitsit en saamtrek om die liggaam van genoeg bloed en suurstof te voorsien nie.

Wat gebeur wanneer ons bloedvate nie meer op hul beste werk nie? Kom ons sê ’n vrou van in die 40 beleef kwaai emosionele spanning, ’n man van in die 50 wil skielik in die tuin werk of ’n jonger man besluit om ná jare van onaktief wees ’n rugbywedstryd te speel. Gestel hulle ly almal aan hoë bloeddruk.

In al drie gevalle klop die hart vinniger om meer bloed as gewoonlik te pomp. Maar die bloedvate is nie opgewasse vir die taak nie en kan nie behoorlik uitsit om die groter hoeveelheid bloed te hanteer nie.

Druk op die wande neem toe, maar die vate kan nie wyer oopmaak nie. Plaak kan ook afbreek en in die bloedstroom beland, wat ’n klont kan laat vorm. Die gevolg? ’n Hartaanval of beroerte.

Die goeie nuus is dat dié soort hartaanval of beroerte voorkom kan word. In verskeie studies is bevind as die sistoliese druk met net een tot drie punte daal, kan dit die risiko op beroerte met tot 30% verminder.

Dr. Gugulethu Magubane, ’n dokter by die Netcare Krugersdorp-hospitaal, vertel ’n dieet met baie sout dra by tot hipertensie. “Ons eet ál meer geprosesseerde kos en gaan nie die etikette of soutinhoud noukeurig na nie. Die gevaarlikste rakke in winkels is ten eerste die kitssoppe en -souse, en dan die pakke aartappelskyfies en lekkergoed,” verduidelik sy.
 
“Beter gehalte kos, die uitsny van sout, meer vars kos waarin kruie gebruik word om die smaak te verbeter eerder as sout, kan die risiko om hipertensie te ontwikkel verlaag. Suid-Afrikaners word ook aangemoedig om ’n meer aktiewe leefstyl te handhaaf,” voeg sy by.

Vanjaar is daar nuwe riglyne vir hipertensie uitgereik,” sê sy. ’n Bloeddruk van 30/80 moet reeds die gevaarklokke laat lui.

Hier is jou grootste risikofaktore vir die ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes, sê dr. Jens Hitzeroth, ’n kardioloog by die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad:

Ouderdom: “Hoe ouer jy is, hoe groter is die waarskynlikheid dat jy hartprobleme het,” sê Jens. Die Wêreldhartfederasie (WHF) verduidelik namate ’n mens ouer word, ondergaan die hart subtiele fisiologiese veranderinge, selfs in die afwesigheid van siekte.

Dit kan wees omdat die spiere in die hart sukkel om ná ’n sametrekking volkome te ontspan en dit veroorsaak
dat die hartkamers strammer word.

Cholesterol: ’n Hoër cholesterolvlak beteken dat vette en afvalstowwe wat opbou skade aan die are kan veroorsaak. Hierdie skade kan lei tot bloedklonte en verhoog jou risiko vir ’n hartaanval of beroerte.

Middelvet: “Oorgewig is nie noodwendig ’n risiko nie, maar sentrale vetsug, waar die gewig om jou middle gekonsentreer is, is ’n risiko. Die vetweefsel daar funksioneer as ’n orgaan op sy eie en vervaardig afvalprodukte wat, saam met cholesterol, bloedvate verstop,” sê Jens. Jy kan bereken of jy in gevaar is deur
jou middel-tot-heup-verhouding te meet.

Liggaamlike onaktiwiteit: Die WHF omskryf dit as minder as 30 minute se matige oefening vyf keer per week. Oefening help reguleer insulienvlakke, bloedstollingsfaktore en bloedlipiedvlakke en verlaag die risiko vir kardiovaskulêre siektes.

’n Stresvolle leefstyl: Hoë stresvlakke kan veroorsaak dat mense na sigarette of koekies gryp en so ongesonde gedrag aanmoedig. Maar dit beïnvloed ook die hart deur die bloedvloei na die hart te verminder, te veroorsaak dat die hart ongereeld klop en die waarskynlikheid van bloedklonte verhoog.

Diabetes: Hartsiektes en beroerte is die voorste oorsake van dood onder diabete, volgens die Suid-Afrikaanse Hart-en-Beroertestigting. Hoë bloedsuiker beskadig die slagare en kan trigliseriedvet in die bloedstroom verhoog, wat hartsiektes en beroerte veroorsaak. Boonop kan suikersiekte die hartspier self aantas en dit minder doeltreffend maak.

VINNIGE WENKE
1.    Gesondheidswinkels hou soutplaasvervangers aan. Dit bevat baie kalium en hou gevolglik die natriumvlak in toom. Gebruik die soutplaasvervanger in jou kos – dis ’n maklike manier om hoë bloeddruk te verlaag.

2.    Drink voor slaaptyd ’n koppie warm kakao. Kakaopoeier is ryk aan antioksidante en flavonoïed (’n stof wat ook in rooiwyn en groentee voorkom), en dis bewys dat dit bloeddruk doeltreffend kan verlaag.

3.    Koop die donkerste kakao wat jy kan kry en maak seker kakao is die enigste bestanddeel in die pakkie. Voeg laevet- of vetvrye melk by en as jy dit wil versoet, gebruik heuning.

4.    Neem wanneer jy ook al kan ’n ‘‘minivakansie’’ van drie minute.

5.    Maak jou oë toe, ontspan en asem diep in. Dit sal nie net oombliklik jou bloeddruk verlaag nie; as jy dit gereeld doen, kan dit ’n langduriger uitwerking op jou gesondheid hê.

6.    Verhoog daagliks ’n halfuur lank jou hartklop. As jy te besig is, kan jy dit selfs in drie sessies van tien minute elk doen. Jy hoef nie gim toe te gaan nie – ’n vinnige wandeling, tuinwerk of dans is voldoende. Die geheim is om iets te doen wat jy geniet.

Bron: Take the Pressure Off Your Heart: 8 Weeks to Lower Blood Pressure without Prescription Drugs deur Robert Kowalski