Dié baba weeg net 420 g – 'n bietjie meer as twee koppies suiker – en is een van 3 000 babas wat dié jaar deur die Suid-Afrikaanse borsmelkbank gevoed sal word. Sedert die bank gestig is, het hulle as meer as 20 000 babas reg oor Suid-Afrika gevoed. 

“Ons verskaf geskenkte borsmelk aan babas wat met geboorte minder as 1,8 kg weeg, in die neo-natale sorgeenheid is en wie se ma’s self te siek is om hulle te voer,” sê Stasha Jordan, woordvoerder van die SA Borsmelkbank. 

Dié borsmelk word deur ’n pediater voorgeskryf en die borsmelkbank word dan gekontak. 

Hoekom is borsmelk so belangrik?

Elke druppel borsmelk kan ’n verskil maak en ’n  vroeggebore baba se lewe red, verduidelik Stasha.

“Borsmelk is uiters belangrik, veral vir die piepklein babas, omdat hulle dermkanaal aan ‘goeie’ bakterieë blootgestel word. Dit versterk die baba se immuunstelsel,” sê sy.

Verder kan borsmelk ook die siekte nekrotiserende enterokolitis – wanneer selle in 'n baba se dermkanaal doodgaan – voorkom. Die siekte is dodelik en baie babas sterf daarvan. 'n Studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie het bevind wanneer babas wat minder as 1,8 kg weeg formulemelk ontvang, hulle kans om nekrotiserende enterokolitis te ontwikkel, verhoog.

Daarom fokus die borsmelkbank spesifiek op dié babas. 

“Die babatjie wat 420 g weeg se ma het nierversaking. Daar is talle sulke babas wat ons voer. Ons help meer as 80 neonatale eenhede landwyd met melk wanneer hulle dit benodig. Elke baba ontvang vir 14 dae melk  en dié tydperk kan verleng word, sou die dokter dit voorskryf,” sê Stasha.

Dit moet deur die neonatale eenheid bestel word en daar is ’n koste daaraan verbonde. Die melk kan nie privaat gekoop word nie, maar ouers wat desperaat is, kan die bank vir meer inligting kontak. 

“Om ’n vrou as ’n skenker te registreer kos ons R1 200, en dan kom die vervoerkoste ook by. Hoewel ons dus die melk verniet by die skenker kry, maak ons seker die melk is veilig, en dit kos ongelukkig geld,” verduidelik sy. 

Volgens Stasha kry openbare hospitale die melk verniet, terwyl private pasiënte daarvoor moet betaal. 

Wie kan melk skenk?

“Gesonde ma’s wat self nog borsvoed en ’n gesonde lewenstyl het, skenk melk aan ons. Die ma’s gaan deur 'n keuringsproses en bloedtoetse word gedoen. Hulle melk word getoets en gepasteuriseer om te verseker dit is veilig,” sê sy. 

Stasha sê die borsmelkbank ontvang ook eenmalige melkskenkings, en daar is nie ’n minimum hoeveelheid melk wat jy moet skenk nie – elke druppel word verwelkom.

Sy gee dié riglyne vir skenkers:

  • Skenkers mag nie anti-depresante gebruik nie;
  • hulle mag nie medikasie drink om hul melk te vermeerder nie;
  • hulle mag nie rook of drink nie;
  • hulle moet die melk kan vries; en
  • die melk moenie ouer as ses maande wees nie.

Die melkbank doen dan ook toetse om seker te maak die skenkers het nie siektes wat deur die melk oorgedra kan word nie.

Vroue wat melk wil skenk, kan dié vorm aanlyn invul.

Wêreldborsvoedingweek is van 1-7 Augustus. Klik hier om meer daaroor te lees.