Die Britse kantoor vir nasionale statistiek het meer as 4 000 Britse volwassenes gevra om oor vier dae van hul kilojoule-inname rekord te hou. 

Toe hulle die uitslae bestudeer, het die navorsers ’n reuse teenstrydigheid tussen die groep se ramings en hul werklike inname bespeur. Die mans het in werklikheid  4 184 kilojoules meer ingeneem as wat hulle besef het, terwyl die vroue ’n bykomende 3 347kilojoules ingeneem het.

Die span het ook vasgestel die meer oorgewig individue in hul studie was meer geneig om te onderskat hoeveel hulle elke dag eet. Tam Fry, van die National Obesity Forum in Brittanje, meen die ontkenning spruit uit ons onwilligheid om soos “luiaards” te lyk. 

“Mense jok en ek is nie verbaas hulle doen dit wat kos betref nie. Hulle wil nie as luiaards aangesien word nie, al is hulle dalk presies dit,” beweer hy.

Kilojoules tel word as die doeltreffendste manier van verslanking geloof, maar Fry meen die nuwe data bewys die metode is ’n “absoluut belaglike” manier om die groeiende vetsug-epidemie wêreldwyd hok te slaan. 

Prof. John Wass, ’n konsultant-endokrinoloog en woordvoerder vir die Obesity Health Alliance in Brittanje, stem saam die uitslae dui daarop kilojoule-tellery is makliker gesê as gedaan. 

Dit wys net weer hoe moeilik dit is om die voedingsinhoud van kos te bereken.

“Die tegnologie wat in die studie gebruik is om kilojoule-inname te meet, is waterdig, en die bevindings bevestig wat ons reeds weet. Een van die hoof- bydraende faktore in die vetsug-epidemie wat die land in die gesig staar, is mense wat te veel kilojoules inneem,” sê hy.

“Dat mense skynbaar hul kilojoule-inname onderskat, is nie verbasend nie. Dit beteken nie noodwendig dat hulle in ontkenning is nie, maar wys net weer hoe moeilik dit is om die voedingsinhoud van kos te bereken.”

Public Health England se nuwe riglyne is dat volwassenes hul middag- en aandetes tot 2 510 kilojoules elk moet beperk en ontbyt tot 1 673 kilojoules.