Die alkohol in handontsmetmidel gaan jou vel uitdroog verduidelik dr. Jacques Snyman ’n kliniese pharmakoloog.

“Maar dit beteken nie jy moenie ontsmetmiddels gebruik nie. Ons weet natuurlik dit is tans belangrik omdat ons midde-in ’n pandemie is. Jy kan egter ’n middel kies wat nie sy tol op jou vel so erg gaan eis nie,” sê hy.

Jacques sê jy kan ’n ontsmetmiddel kies met ietwat minder alkohol in het. 'n Middel met 'n alkoholinhoud van 60-65% sal steeds virusse doodmaak maar nie die boonste laag van jou vel so erg affekteer nie.

“Sommige saniteerders het ’n bevogtiger in. Kyk vir een wat gliserien of irium bevat. Jou vel gaan egter steeds uitdroog so jy sal dit weer moet bevog,” waarsku hy.

Willene Hattingh, ’n somatoloog en eienaar van Skin by Willene in Pretoria, sê alkohol breek die beskermende lagie bo-op jou vel af en daarom voel jou hande droog.

Sy stel voor jy gebruik net ontsmetmiddel wanneer jy nie jou hande kan was nie. Moet dit dus nie gebruik wanneer jy tuis is nie, en hou dan by seep en water.

“Ek stel voor jy gebruik ’n goeie handeroom voor jy winkel toe gaan, iets wat die produk lipids of olies bevat. Dit gaan jou vel penetreer en bevog en sodoende beskerm teen die ontsmetmiddel. Dit vorm dan byna ’n lagie bo-op jou vel wat sal beteken jou vel word minder droog,” sê sy.

Watter room moet ek kies?

Willene stel voor jy lees die etiket agter op die roomhouer en kyk vir rome wat die volgende bevat.

  • Natuurlike olies/lipiedes soos kokosneut, olyfolie, tissue-olie of appelkoos-neutolie.
  • Room wat geen parfuum bevat nie – dit droog jou vel verder uit
  • Room met geen chemikalieë in nie

“Dit gaan dalk beteken dat jy iets anders as ’n tradisionele handeroom moet koop nie, en handerome met bogenoemde eienskappe kan nogal duur wees. Koop net ’n produk wat spesifiek gemaak is vir baie droë en ekseemagtige vel, al is dit ’n lyfroom. Daar is baie op die mark wat heel bekostigbaar is,” sê sy.

Sy sê rome met tissue-olie in is veral doeltreffend.  “Dit gaan die lagie bo-op jou vel, wat deur die ontsmetmiddel beskadig is, herstel, olie insit en jou vel voed,” sê sy.

Hoe gemaak as jou hande klaar droog is? 

Willene sê jy kan die volgende doen.

  • Verwyder die dooie velletjies deur een tot twee keer per week ’n afskilferaar te gebruik. Jy kan dit koop of jou eie maak deur byvoorbeeld olyfolie en suiker te meng. Dit sal help dat jou vel room beter absorbeer. 
  • Gebruik gereeld room deur die dag. Veral ná jy hande gewas, gebad of gestort het of klaar ontsmetmiddel gebruik het.
  • Sit saans voor jy bed toe gaan ’n bevogtigende room aan jou hande en trek dan handskoene aan, of maak jou hande met kleefplastiek toe. Hou die handskoene of plastiek vir ’n uur of twee aan. Die hitte maak dat die room jou vel beter binnedring.

Jacques sê indien jou hande krakies of barste in het moet jy versigtig wees om nie infeksie te kry nie. Higiëne is dan nog meer belangrik maar indien jy sukkel om dit goed te bevog, klop by jou apteken aan vir room wat spesifiek geformuleer is daarvoor.