Deskundiges reken as jy die vetjies wil laat wegsmelt, is daar iets belangrikers as die soort dieet wat jy volg – en dis dat jy jou gesonde eetgewoontes vir twee weke opsy moet skuif.

Navorsers van die Universiteit van Tasmanië, Australië, het tot dié gevolgtrekking gekom nadat hulle 47 vetsugtige mans, tussen 30 en 50 jaar oud, dopgehou het en hul kilojoule-inname met ’n derde verminder het.  

Die deelnemers is in twee groepe verdeel, en die een groep het die dieet vir 16 weke gevolg. Die ander groep het dit ná twee weke verbreek vir twee weke voordat hulle weer die dieet hervat het. Hulle het dié patroon 30 weke lank gevolg sodat hulle ook uiteindelik 16 weke lank die dieet gevolg het. 

Resultate het getoon dat diegene in die groep met die onderbrekings skraler geword het en dat hulle ses maande ná die proefneming gespog het met ’n gemiddelde gewigsverlies van 8 kg meer as die groep wat die dieet sonder onderbrekings gevolg het.

Die studieleier, prof. Nuala Byrne, het verduidelik hoedat sekere biologiese veranderinge aan die gang gesit is in die liggame van diegene wat 16 weke lank aaneen die dieet gevolg het.

Dié veranderinge het stadiger gewigsverlies veroorsaak en daar was selfs sprake van gewigstoename.

Die liggaam se 'hongersnoodreaksie' het die menslike spesie help oorleef, maar vandag dra dit by tot oorgewig.

“Wanneer ons tydens ’n dieet ons inname van energie (voedsel) verminder, verlaag die rustende metabolisme tot ’n groter mate as wat verwag word. Dié verskynsel, bekend as ‘aanpassingstermogenese’, bemoeilik gewigsverlies,” was die spesialis se mening.

“Hierdie ‘hongersnoodreaksie’, ’n oorlewingsmeganisme wat die mens eeue gelede, toe die beskikbaarheid van voedsel wisselvallig was, gehelp het om as spesie te oorleef, dra nou by tot ons uitdyende middellywe wanneer voedsel geredelik beskikbaar is.”

Hierdie reaksie is die rede waarom ons liggame meer vet opgaar wanneer ons weer normaal begin eet nadat ons kilojoules uitgesny het en dit bemoeilik die taak om die ekstra gewig af te skud.

“Dit lyk asof die onderbreking van die dieet wat ons in dié studie gebruik het, noodsaaklik kan wees vir die sukses van hierdie benadering,” het die deskundige bygevoeg. Hoewel daar nog navorsing gedoen moet word oor hierdie tussenpose-benadering tot dieet, ondersteun die bevindings voorlopig dié model as ’n beter alternatief vir die aaneenlopende dieet om gewig af te skud.”

Die volledige studie is in die International Journal for Obesity gepubliseer.