Vroue word eintlik aangetrek na die reuk van mans wat baie vrugte en groente eet.

Dit is al lank bekend dat geur en aantreklikheid verband hou, maar ’n span van die Macquarie-universiteit in Australië wou die teorie toets met betrekking tot dieet. 

Vir hul navorsing het die kenners ’n groep gesonde jong mans gewerf, hulle skoon hemde laat aantrek en hulle toe ’n reeks oefeninge laat doen. 

Die groep moes vraelyste voltooi oor hoe gereeld hulle bepaalde kosse eet om algemene eetpatrone te beoordeel. Die navorsers kon ook vasstel hoeveel groente die mans eet deur na die kleur van hul vel te kyk, want mense wat baie kleurryke groentes eet se vel neem die kleur van karotenoïede aan.

Laasgenoemde is die plantpigmente wat kos rooi, geel en oranje maak. 

Nadat die mans geoefen het, moes vroulike deelnemers aan die hemde ruik, dit aan die hand van ’n lys van 21 beskrywende woorde beoordeel en sê hoe aantreklik, sterk of gesond dit ruik. 

Toe hulle die antwoorde ontleed, kon die navorsingspan die beskrywende woorde wat dikwels saam gebruik is in vier groepe groepeer om te beskryf hoe die hemde geruik het: dierfaktor – dier, vleiserig en olierig; blomfaktor – fleurig, vrugtig, soet en medisinaal; chemiese faktor – chemies of gebrand; en visfaktor – vis, eier, knoffel, gis, suur en tabak.

Hieruit het hulle afgelei die mans wat meer vrugte en groente geëet het, se reuk is as aanlokliker en gesonder beskou as dié wat baie koolhidrate geëet en die onaantreklikste reuk afgegee het. Daar is ook bevind die mans wat baie vleis geëet het, se liggaamsreuk was intenser maar nie onaangenaam nie.