Jy kan aan niks anders dink as daardie groot pak skyfies in jou kombuiskas of die donker fluweelagtige plak sjokolade wat vanoggend in die winkel jou oog getref het nie, en wanneer jy uiteindelik jou hande daarop kan lê, is die vreugde iets wat jy nie in woorde kan beskryf nie.


Kosdrange is iets wat gewoonlik met swanger vroue geassosieer word, maar jy hoef nie die pad tot moederskap te stap om dieselfde hunkerings na seker kossoorte te beleef nie. Want om na ’n sekere voedselsoort te smag kan baie meer oor jou gesondheid verklap as wat jy sou dink.

As dit sjokolade is waarna jy smag, kan dit daarop dui dat jy ’n tekort aan magnesium het, sê die Kaapse dieetkundige Chanelle Retief.

Foto: Pexels

Goeie voedselbronne hiervoor is byvoorbeeld neute, sade en pampoenpitte, sê Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van die Paarl.  

Volgens Chanelle kan 'n lus vir eiers ook ’n teken wees van 'n tekort aan vitamien B, en aartappelskyfies kan op ’n moontlike natriumtekort dui.

’n Drang na lekkergoed kan daarop dui dat jy nie genoeg minerale inkry nie, sê sy. 'n Mens sien dit baie by mense wat nie genoeg vrugte en groente eet nie. Ons kry ons minerale en vitamiene van helderkleurige voedsel af en is normaalweg beter bronnne van voedingstowwe soos vitamiene en nutriënte. "As 'n mens (se gewone, gesonde kos) nie soos die reënboog lyk nie, gaan jy tekorte begin ontwikkel.”

Foto: Pexels

Die dieetkundige Alissa Rumsey het onlangs in Marie Claire geskryf dat ’n drang na kaas daarop kan dui dat jy ’n tekort aan omega-3-vetsure het. Volgens haar is die beste bronne hiervan salm, vlassaad en okkerneute.

’n Hunkering na rooivleis kan daarop dui dat jy ’n ystertekort het wat tot floutes, ’n lae immuniteit en algehele swakheid kan lei. Indien jy ’n vegetariër is, kan boontjies, peulgewasse en droëvrugte ’n goeie bron van yster wees.

Mariza  peulgroente en droë vruge is goeie alternatiewe bronne van yster, maar absorbsie daarvan is dikwels baie laer as vanaf diereprodukte.  Sy beveel ’n aanvulling aan vir vegetariërs - veral vroue wat menstrueer en kinders wat groei.

foto: Pexels

Indien jy smag na gaskoeldrank kan dit ’n aanduiding wees dat jy ’n tekort aan kalsium het. Vermeerder die suiwelprodukte wat jy eet, soos melk en jogurt, en voeg ook groen groentes by jou dieet, soos spinasie en krulkool.

En as jy dalk lus raak om vreemde goed te eet, soos grond, ’n verfkwas of verf, kan die toestand pica by jou gediagnoseer word. “Dit kom gewoonlik voor by mense wat ’n tekort aan yster of vitamien B het,” verduidelik Chanelle.

Foto: Pexels

Sy raai mense wat ’n kosdrang beleef aan om 20 minute te wag voor hulle ingee teenoor die drang. Drink ook genoeg water. “Soms raak ons brein deurmekaar met die verskillende seine tussen honger, hunkering en dors. As jy regtig nie kan uithou nie, kies die gesonder opsie. As jy lus is vir iets soets, eet 'n vrug, en as jy lus is vir iets souts, eet 'n gesonde beskuitjie liewer as ’n hele pak skyfies.”

Mariza meen daar is min navorsing wat werklik kyk na die behoefte vir ’n spesifieke voedselitem wat verband hou met ’n spesifieke vitamiengebrek.

Volgens haar is dit onwaarskynlik dat 'n mens op ’n neurochemiese vlak kan onderskei tussen voedselsoorte waarvan jy meer nodig het omdat dit meer van 'n spesifieke voedingstof bevat. "Die sentrums in die brein waar lus of 'n 'craving' en honger registreer funksioneer verskillend en is op verskillende plekke in die brein geleë is. Dit is die rede waarom mense moeilik om tussen lus en honger te onderskei en ons, anders as diere, kan eet wanneer ons nie honger is nie.”

Sy sê daar is verskeie genetiese variasies wat ’n rol speel in ons voedselgedrag. “Twee algemene genetiese variasies is die sogenaamde vetgeen (genaamd FTO) en die sogenaamde suikertandgeen TAS1R2.

"Indien iemand byvoorbeeld ’n draer is van die vetgeen, sal die persoon geneties meer geneig wees om te wil peusel, en is ’n voorliefde vir versadigde vet nie uitgesluit nie. Hierdie mense is ook van nature geneig om groter porsies en meer gereeld te wil eet. In kinders is dit dikwels die outjies wat by die partytjie nog ’n rukkie by die lekkergoedtafel vertoef terwyl al die ander al hardloop en speel.

“Die stukkie biltong met die vet aan, die lekker vetterige droëwors, cabanossi, tjoppie of dik botter is ’n werklike hunkering by hierdie mense."

Foto: Pexels

“TAS1R2 speel ’n rol in die manier wat die brein soetigheid beleef. Draers van hierdie genetiese variasie is meer geneig om intense soet smake te verkies bo byvoorbeeld die soetigheid van vrugte, en hoe meer dié sentrum in die brein gestimuleer word, hoe groter word jou lus vir nog soetigheid.”

Sy sê dit is nie onmoontlik om jou hunkering na 'n sekere kossoort toe te skryf aan 'n voedingsgebrek nie, maar meen dit is minder waarskynlik as ’n algemene eetpatroon wat ontoereikend is of sielkundige aspekte rondom die hunkering, asook aangeleerde en inherente voedselgedrag.

Bykomende bronne: gethealthyu.comorganicauthority.com