Wetenskaplikes het net ’n paar maande nadat hulle bevind het koffie kan lewersiektes afweer, ook bevind dat drie koppies van die brousel die kans op lewerkanker en -littekening met tot 70% kan verlaag.

Die vlakke van antioksidante, kafeïen, kafestol en kahweol van koffie dra alles by tot die verstommende resultate. Dit help om die lewer teen inflammasie en die littekening van weefsel, ook bekend as sirrose, te beskerm.

Die Instituut vir Wetenskaplike Inligting oor Koffie, wat bestaan uit ses belangrike handelsmerke wat Nestlé, Jacobs, Douwe Egberts en Illycaffè insluit, het ’n ondersoek gefinansier wat deur die Royal Society of Medicine in Londen van stapel gestuur is. Dit is gedoen onder die voorsitterskap van prof. Graeme Alexander, ’n senior raadgewer aan die Britse Lewerstigting van die University College London. 

Hulle het vorige studiestukke bekyk oor die positiewe invloed van koffie op die lewer, insluitend Italiaanse navorsing van 2016 wat getoon het dat drie koppies koffie per dag die kans op lewerkanker met 65% verlaag.

Kenners van die gesondheidsorgmaatskappy Kaiser Permanente het voorts bevind dat die waarskynlikheid van sirrose met 25% gedaal het danksy koffie, terwyl ander bevind het die verlaging was tot 70%.

Die Europese Voedselveiligheidsowerheid het ’n matige hoeveelheid koffie as drie tot vyf koppies per dag beskryf.

Prof. Alexander het die bevindings lof toegeswaai, veral ten opsigte van die manier waarop pasiënte wie se lewerprobleme nog nie gediagnoseer is nie, daarby kan baat vind.

“ ’n Matige inname van koffie, byvoorbeeld drie tot vyf koppies per dag, word met ’n goeie uitwerking op die gesondheid van die lewer verbind,” was sy mening.  “Pasiënte dink dikwels nie veel van koffie nie, en hulle kry nie proaktiewe raad oor koffie as deel van ’n gesonde leefstyl nie."

“Afgevaardigdes om die tafel het gereken pasiënte sou kon baat vind by dié soort raad.”

Judi Rhys, hoof- uitvoerende beampte van die Britse Lewerstigting, het bygevoeg: “Lewersiekte is ’n stil moordenaar, aangesien daar dikwels geen simptome is voor dit te laat is nie.

“Almal kan koffie maklik in die hande kry en as jy dit gereeld drink – gefiltreer, kits of espresso – kan dit ’n verskil maak by die voorkoming en in sommige gevalle die vertraging van lewersiekte.”