Kykers van die kykNET-sepie Binnelanders het onlangs gesien hoe die karakter Dr. Steve Abrahams (gespeel deur die akteur Clint Brink) die skokkende nuus kry dat hy kolonkanker het. 

Dis ’n gevaar wat jare lank in jou binneste kan groei sonder dat jy enigiets agterkom. Dan, eendag, gebeur dit: die kwaai maagpyne, diarree, bloed in jou stoelgang.

En as jy te lank gewag het, het jy dalk reeds jou kans benadeel om die kolonkanker in jou derms te klop.

Kolonkanker klink vreesaanjaend, en tereg so. 

Dit is een van die groot kankers onder mans én vroue, ’n aaklige toestand wat ongemerk binne jou kan groei. 

Kenners sê ’n mens kan wel hoop hê, maar benadruk die siekte moet vroeg gediagnoseer word as jy dit wil oorleef. 

Daarom wil ons lesers vanjaar tydens kolonkankerbewustheidsmaand (Maart) met noodsaaklike kennis oor dié siekte toerus. Die inligting kan jou lewe red.

kolonkanker,gesondheid,advies
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wat is die kans dat ek dit kan kry?

Kolonkanker, ook genoem kolorektale kanker of dermkanker, is wêreldwyd die derde algemeenste kanker onder mans en die naasalgemeenste onder vroue, sê prof. Michael Herbst, gesondheid­spesialis van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). 

En boonop neem kanker in ons land toe.

“Nasionale data toon een uit 79 Suid-­Afrikaanse mans en een uit 134 vroue sal waarskynlik in hul leeftyd kolonkanker ontwikkel,” sê prof. Vikash Sewram, direkteur van die Afrika-kankerinstituut aan die Universiteit Stellenbosch. 

“Wanneer jy die data volgens bevolkingsgroepe ontleed, sien jy wit mans (1 uit 32) en vroue (1 uit 49) loop die grootsterisiko.”

Die rede is moontlik dat ’n verwesterde leefstyl, wat behels dat mense hulle ooreet, verkeerd eet en te min oefening kry, jou risiko vir die siekte verhoog, verduidelik dr. Jacques Badenhorst, gas­troënteroloog van Kaapstad. 

Voorts loop middeljarige mense die grootste gevaar. Die syfers vir kolon­kanker skiet van die ouderdom van 50 jaar die hoogtein.

Tog moet jy nie te gerus wees as jy ­jonger is nie. Michael vertel kolonkanker word deesdae by ontstellend baie mense tussen 25 en 40 jaar gediagnoseer. Die hoofoorsaak is vermoedelik oorgewig.

Wanneer is ek in gevaar?

Jy loop ’n risiko as jy:

  • oorgewig is;
  • diabetes het;
  • tabak rook;
  • te veel alkohol drink;
  • te veel verwerkte vleis eet; of
  • nie genoeg oefening kry nie.

Dié leefstylfaktore kan deur jou gene vererger word, verduidelik dr. David Eedes, kliniese onkoloog van die On­afhanklike Kliniese Onkologienetwerk. 

’n Mens moet dus versigtig wees as iemand in jou familie dié siekte gehad het.

Michael en Vikash voeg nog ’n paar risiko’s by:

  • Jy eet te min vesel.
  • Jy eet te veel verwerkte kos.
  • Jy het ander dermsiektes (byvoorbeeld ’n geskiedenis van inflammatoriese siektes in jou derms).

Waarna moet ek uitkyk?

Aanvanklik toon die meeste mense geen simptome nie, verduidelik Michael.

Dit is hoekom jy jou tog moet laat toets, selfs al sien jy geen aanduiding van die siekte nie. Wanneer die kanker wel in jou derms gevestig is, kan die volgende simptome mettertyd na vore kom:

  • ’n Verandering in jou ontlastings­gewoontes. Jy is byvoorbeeld hardlywig, het diarree of die tekstuur van jou stoelgang verander.
  • Jou rektum bloei en daar is bloed in jou ontlasting.
  • Jou buik is gedurig ongemaklik; jy het krampe, winde en ander pyn.
  • Jou buik pyn en is opgeblaas.
  • Jy voel asof jy nooit jou dermkanaal heeltemal leeg kan kry wanneer jy toilet toe gaan nie.
  • Jy is gedurig moeg.
  • Jy verloor onverklaarbaar gewig.

Ek het kolonkanker; wat is my kans?

In sowat 90% van gevalle van “gelokaliseerde” kolonkanker (waar dit nie buite die kolon of rektum versprei het nie) leef mense nog vyf jaar nadat die siekte by hulle gediagnoseer is, sê Michael. 

Heelwat hang dus af van hoe gou die kanker gediagnoseer word.

As jy dit in die vroegste stadiums opspoor, beaam Vakish, is die vyfjaaroorlewingskoers tot 93%, maar as jy dit eers in die laaste stadia opspoor, kan jou kans moontlik net 10% wees.

David vat dit so saam: “Hoe vroeër die kanker opgespoor word, hoe beter is die oorlewingskoers. As dit eers verder as die derm versprei het, styg die sterfterisiko vir dié kanker drasties.

En as die kanker na ander organe versprei het – die pro­ses word metastase genoem – is dit gewoonlik ongeneeslik.”

Wanneer dokters die kanker vroeg genoeg diagnoseer, kan hulle die ge­wasse bloot uitsny. 

Maar as die kanker meer gevorderd is, sal ’n mens die pad van chemoterapie en bestraling moet stap.

kolonkanker,ondersoekproses
Hierdie diagram toon die ondersoekproses vir kolonkanker. Diagram: Gallo Images/ Getty Images

Daai ongemaklike ondersoek

Kom ons wees eerlik: Niemand is gaande oor die idee om van dáárdie kant af ondersoek te word nie.

Maar as jy wag tot die simptome sigbaar raak, kan dit te laat wees. 

Daarom moet jy van die ouderdom van 50 af jou dokter gereeld vra of ’n kolonondersoek nodig is.

Die beste ondersoek is ’n kolonoskopie, waar ’n soort endoskoop – ’n dun, buigsame instrument met ’n liggie en kamera – van onder in jou derm opgedruk word.

Moenie bang wees vir dié prosedure nie. Dit is veilig en kan binne ongeveer 20 minute verby wees.

Vir party mense klink dit te erg en hulle verkies “fekale toetse”, waar ’n monster van jou ontlasting ontleed word vir aanduidings van bloed en moontlike kanker. 

"Hoe vroeër die kanker opgespoor word, hoe beter is die oorlewingskoers"

Die proses is minder ongemaklik as ’n kolonoskopie, maar die resultate is minder beslissend en dit moet meer gereeld gedoen word.

As die toetse iets abnormaals opspoor, sal dit nogtans deur ’n kolono­skopie opgevolg moet word.

“Elke individu behoort van 40 jaar af ’n jaarlikse fekale bloedtoets te ondergaan. Met ’n familiegeskiedenis van kolorektale kanker moet toetsing selfs 10 jaar vroeër begin,” meen Kansa se prof. Michael Herbst.

Die deursneemens, dus iemand met ’n gemiddelde risiko, behoort van 50 af minstens elke 10 jaar ’n kolonoskopie te ondergaan, sê die Onafhanklike Kliniese Onkologienetwerk se dr. David Eedes. (Party kenners sê selfs meer gereeld.) 

As iemand in jou familie voor die ouderdom van 60 kolonkanker gekry het, moet jy al van 40 af vir kolonoskopieë begin gaan, sê Michael.

Die voorloper vir kolonkanker is poliepe, groeisels van vratjiegrootte tot 2,5 cm in jou derms, verduidelik Jacques. 

Dié groeisels kan mettertyd kwaad­aardig word. Tydens ’n kolonoskopie kan dit verwyder word om jou risiko te verlaag.