Die tydsberekening van die bekendstelling van Huisgenoot se nuwe Klop die Skaal-dieet- en oefen­plan vir vroue was perfek: Dit was sowat twee weke voor my 30ste verjaardag, en ek wou graag voor my partytjie gewig verloor. 

My jongste dogtertjie is in November verlede jaar gebore, en ek het voor en tydens die swangerskap – my tweede – heelwat gewig aangesit. Om gewig te verloor is 'n stryd.

My jongste slaap sleg; daarom slaap ek op 'n goeie aand vyf uur, en my werkweek is besig en gejaagd. Ek doen soms (met wisselende sukses) joga by die huis, met my twee dogters wat bo-oor my klouter, maar vir meer oefening is daar baie min tyd. 

Met die gebalanseerde Klop die Skaal-eetplan sou ek kon aanhou borsvoed, en ek het dus ingestem om dit te beproef. Ek het besluit om net die dieetplan te volg en nie die oefenplan nie, maar was hoopvol dat dit 'n begin sou wees. 

Hier is die dagboek van my ervaring

Dag 1

Ek het al my kos soos deur die dieetplan voorgeskryf mooi ingepak en saam werk toe karwei. Ek is nie supergemotiveerd om te begin nie, maar ek voel goed daaroor dat ek so georganiseerd is. 

Die eetplan lyk gebalanseerd, en ek is bly dit sluit vrugte in – dit behoort my suikertand te tem. Ek gaan wel nie laevetmelk gebruik nie. Ek wil maer word, nie myself straf nie!

Teen laatmiddag is ek wel ’n bietjie honger.

Dag 3 

Wat 'n mal dag! Ek eet die derde dag in 'n ry All-Bran omdat ek laat was en my oudste by die skool moes kry. 

Dis 21:00 en ek het pas vir die eerste keer sedert ek ophou werk het, gaan sit. Ek is so lus vir sjokolade . . .  maar bederf ­myself eerder met ’n glas (ligte) witwyn.

Dag 4  

Ek eet vanoggend hawermout met 'n bietjie aarbeie by. Ek gebruik nie die hele koppie melk daarby nie sodat ek suiwel “oor”-het vir koffie later – noodsaaklik vir 'n ma en joernalis! 

Middagete is 'n gebakte aartappel – ­lekker! Ek is nogal verbaas dat ek dit mag eet, want dis so by my ingeprent dat aartappel van die duiwel af is as jy gewig wil verloor.

Die eetplan gee my genoeg energie; ek het selfs vanaand kans gesien vir 'n strawwe jogasessie nadat die kinders bed toe is. 

Dag 5

Dis Vrydag en ons braai by vriende. Ek eet steak en slaai . . . en 'n happie aartappelslaai. Ek probeer seker maak ek pas porsie­beheer toe en let op wanneer ek regtig versadig is. 

Oefening? Tel dit om agter die kinders aan te hol met 'n glas wyn in die hand? 

Dag 7

Ons gaan na 'n verjaardagpartytjie waar 'n skaap gespitbraai word. Ek eet myself nie trommeldik nie, maar hou ook nie onomwonde by die dieet nie.

Wie sou? Ek eet selfs 'n sny kaaskoek vir poeding – dit was die moeite werd. 

Dag 8

Dis 'n besige dag by die werk en ek is 05:00 uit die kantoor vir 'n storie.

Ek eet ontbyt en my peuselhappie vooraf, maar by die hotel waar ek moet werk, kan ek net 'n hoender­sosatie eet en koffie drink, want als anders is verbode.

Ek het nie my kosblik saamgebring nie. Ek hou eers net voor 19:00 by die huis stil; dankie tog vir 'n man wat solank kos­gemaak het! Die aandete is genoeg – ek voel versadig en weer soos 'n mens. 

Dag 10

Teen 12:00 besef ek ek het nie my oggend-­snack geëet nie. Dit voel nogal asof 'n mens die hele tyd eet met die peuselhappies tussen etes, maar dan vergryp 'n mens jou nie omdat jy besig is om flou te val van die ­honger nie. 

Dag 11 

Alles het so goed gegaan met die eetplan, toe besluit ons om te gaan uiteet. Ek en my man kies so ewe die gesonde opsie en kry ’n slaai vir voorgereg.

Maar toe gooi ons oudste ’n vloermoer omdat ’n ander kind aan haar Barbiepop gevat het. En ons jongste het ’n vuil doek, en ek het haar doeke by die huis vergeet.

Die restaurant was besig, en dit sou glo nog ’n ruk vat vir die kos. Toe laai ons maar die kinders in die kar en gaan na ’n deurry-kitskosplek toe. 

Ek eet ’n wrap, maar ek vermoed daar is soveel sous op dat dit reeds al my toege­late kilojoules vir môre bevat. Sug. 

Dag 12

Die eetplan sê ek moet 'n kwartgrootte-­avokado eet saam met 'n beesvleis-­en-kaastoebroodjie. Ek is baie lief vir avokado’s en eet 'n halwe een en net een sny brood. Hoop maar dit kanselleer mekaar uit.

Die beste nuus? Ek pas ná werk in ’n grootte-12-denim en koop dit!

Dag 14

Ons is rustig by die huis en ek hou goed by die eetplan. Ek mis wel ’n bietjie die Sondagkookkos. Maar toe weeg ek my vanaand en dis alles die moeite werd: Ek het danksy die eetplan 3 kg verloor!

My ervaring

Dit het my verras dat ek nie honger was terwyl ek die eetplan gevolg het nie. 

Ek het sjokolade gemis, maar ná 'n paar dae was die lus vir soetgoed minder. 

Die eetplan het my weer laat besef dat stysel nie van die duiwel is nie – ek moet net gesonde stysel kies. En selfs 'n snytjie koek is toelaatbaar, solank dit die uitsondering is. 

Ek het goed gevoel, nooit tam nie, die plan het nie my borsmelk beïnvloed nie en ek het maerder geword – bargain!

Ek voel gesond en eet genoeg. Ek wil daarmee voortgaan en beveel dit aan vir enige vrou wat 'n leefstylverandering wil maak.

Carla se Klop die Skaal-wenke
  • Beplan vooruit: Dit het my gehelp om my kos die aand voor die tyd reg te sit en te organiseer. Kyk voor jy winkel toe gaan na die res van die week se eetplan sodat jy weet wat jy moet koop of wat jy dalk kan ruil vir iets wat jy reeds in die koskas het.
  • Gebruik die porsiegids: Dié nuttige gids sê presies hoeveel van watter kossoort jy elke dag moet eet. Dit maak dit maklik om te ruil as jy byvoorbeeld by 'n restaurant of die werk se kafeteria eet. Jy kan ook kossoorte waarvan jy minder hou, ruil vir iets anders in dieselfde groep.
  • Kry 'n maat: Hoewel die eetplan vir vroue ontwerp is, het my man dieselfde soort kos as ek geëet (net groter porsies). Dit het gehelp sodat ek nie aan twee verskillende aandetes hoef te dink nie. Dit kan goed werk om 'n vriendin of kollega te kry om die plan saam met jou te volg – hulle hou jou verantwoordbaar, en 'n mens kan resultate vergelyk.


Als oor Huisgenoot Klop die Skaal

Huisgenoot se nuwe Klop die Skaal-aanlyn dieet- en oefenplan vir vroue  is beskikbaar by www.klopdieskaal.co.za. Die volledige plan is uitgewerk vir 12 weke, en jy kan tot 1 kg per week afskud. 

As jy nou aansluit, kan jy betyds vir die feestyd 'n paar kilo’s laat wegsmelt!

Wat kos dit om aan te sluit by die eet- en oefenplan?

Die program kos R495. Dit is 'n een­malige betaling – geen maandelikse lidmaatskaptariewe nie!  Jy kry toegang tot die webtuiste met die aanlyn dieet- en oefenplan wat ons kenners spesiaal vir vroue ontwerp het. Jy het net 'n rekenaar of selfoon met internettoegang nodig.

Hoe werk die oefenplan? 

Die oefenplan is ontwerp sodat jy vet kan verbrand én gedefinieerde spiere kan kry. Dit bestaan uit drie ­fases van vier weke elk, en elke oefenbeweging word deur 'n nuttige video gedemonstreer. Jy kan die oefeninge in die gerief van jou eie huis doen – dis soos om ’n persoonlike afrigter in jou woonkamer te hê.

Hoe werk die eetplan? 

Die eetplan is deur 'n dieetkundige saamgestel en werk met 'n spesifieke kilojouletelling, wat verseker dat jy genoeg energie het. Boonop is dit aanpasbaar en propvol gesonde kos wat goedkoop en maklik is om in die hande te kry.  Die eetplan strek oor vier weke en word drie keer herhaal. Jy kan dus niebederfbare produkte in groot maat aankoop.

Skryf so in: Gaan na www.klopdie­skaal.co.za en klik op “Sluit hier aan”. Klik op “Algemene Vrae” vir nog inligting. 


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.