Misdaadverhale bly van die voorste verkopers, van klassieke Agatha Christie-boeke tot Deon Meyer se hedendaagse treffers. Nou het navorsers boonop bevind speurverhale kan help om depressie te verlig. 

Trouens, enige boek kan help met die simptome van dié siekte; daarom hoop deskundiges dit sal in sommige gevalle die afhanklikheid van antidepressante verminder. Die laaste paar jaar het die vrees ontstaan dat dokters glad te maklik antidepressante uitdeel. Die afgelope 10 jaar het voorskrifte vir dié medikasie in die Verenigde Koninkryk byvoorbeeld verdubbel. 

Vir ’n onlangse verslag van die Universiteit van Turyn in Italië is ses vorige studies oor leesterapie, oftewel biblioterapie, ontleed. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat deelnemers wat dié kursusse voltooi het, selfs tot drie jaar daarna steeds ’n merkbare verbetering in depressie ervaar.

Die resultate is in die Clinical Psychology Review gepubliseer. Die navorsers skryf onder meer: "Dit blyk dat biblioterapie op die lange duur doeltreffend is in die vermindering van depressiesimptome. Dit kan ’n bekostigbare behandeling wees wat die behoefte aan medikasie kan inkort.”

Dis belangrik om tyd vir jouself in te ruim

’n Span van Groningen in Nederland het onlangs tydens ’n tweede studie gekonsentreer op die moontlikheid dat niemedisinale terapieë, soos lees, depressie by bejaardes kan stuit. Nadat hulle 18 studies ontleed het, het hulle bevind lees verbeter die gemoedstemming van pensioentrekkers.

In Brittanje help ’n beweging, Reading Well Books on Prescription, mense om hul emosionele welsyn te bestuur deur middel van selfhelplees. Gesondheidskenners onderskryf die plan en openbare biblioteke steun dit.

Dis belangrik om tyd vir jouself in te ruim, en as jy met lekker leesstof gaan sit, kan dit ’n uitstekende manier wees om ek-tyd deel van jou dag te maak.