Dit kan in enigiemand se yskas skuil en het sover bekend al 748 Suid-Afrikaners die afgelope jaar siek gemaak, waarvan minstens 67 daarvan gesterf het. Dié moordenaar heet listeriose en volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie beleef ons land tans die dodelikste uitbreking van dié bakteriese siekte in die wêreldgeskiedenis.

En die ergste is dalk nog nie verby nie. Die bakterie wat listeriose veroorsaak, word deur ’n verskeidenheid vars én verwerkte voedselsoorte oorgedra, maar die oorsprong van die huidige besmetting is nog onbekend.

Die siekte is geneeslik, maar dit kan 70 dae duur vir simptome om te ontwikkel en dis boonop soortgelyk aan griep.

Die departement van Gesondheid doen sy bes om die sondaar te vind wat die uitbreek van die siekte veroorsaak.

Tanya Clark van Durban sukkel om die dood van haar dogter Sonette (34) te verwerk. Sonette, ’n ma van twee kinders, is in Desember in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria opgeneem. Eers is vermoed sy het meningitis. Maar sewe dae later, terwyl sy bewusteloos was, het toetse eindelik getoon dis listeriose.

Tanya was aanvanklik verlig omdat dokters oplaas geweet het wat skort en dit kon behandel. En sy was verheug toe haar dogter ’n dag later haar oë oopmaak. Maar binne oomblikke het haar vreugde in afgryse verander.

“Sy het haar bewussyn herwin en die volgende oomblik was sy dood,” sê Tanya, wat Sonette se twee kinders (10 en 16) versorg.

Tussen 20 en 30% van mense met listeriose sterf, het dr. Juno Thomas, hoof van die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS), aan ons gesê. Dis lewensgevaarlik vir veral babas, bejaardes en mense met verswakte immuunstelsels weens chroniese siektetoestande.

'Ons kon nog nie eens die hooimied opspoor waarin ons na die naald moet soek nie'
Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid

Op ’n mediakonferensie vroeër vandeesmaand het ons gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, geen doekies omgedraai oor die omvang van die listeria-krisis nie. Volgens hom is die soektog na die oorsprong van die besmetting veel erger as die spreekwoordelike naald in ’n hooimied.

Met byna 750 aangemelde gevalle en meer as 60 sterftes, sê die gesondheidsminister, Aaron Motsoa­ledi.

“Die probleem is dat ons nog nie eens die hooimied kon opspoor waarin ons na die naald moet soek nie,” het hy verduidelik. “Dis hoe moeilik die ding is.”

Maar wat doen die regering om dit onder beheer te probeer kry? En wat kan ons doen om ons en ons geliefdes daarteen te beskerm?

Hier is alles wat jy moet weet.

WAT IS LISTERIOSE?

Die bakterie Listeria monocytogenes kan in die grond, water of plantegroei voorkom en voedselprodukte op byvoorbeeld plase en in voedselfabrieke besmet, verduidelik dr. Lucia Anelich, ’n mikrobioloog en kenner oor voedselveiligheid.

Kos wat die algemeenste besmet word, sluit in verwerkte vleisprodukte soos worsies, verkoelde patees of vleissmere; ongepasteuriseerde melk en suiwelprodukte; gerookte seekos; klaarbereide maaltye; vars of bevrore vrugte en groente; en vooraf verpakte slaaie.

Die eerste aangetekende uitbraak van listeriose in Suid-Afrika was in 1977 in Johannesburg en sedertdien was daar sporadiese uitbrake, maar nog nooit op dié skaal nie.

WANNEER HET DIE HUIDIGE KRISIS BEGIN?

Die eerste gevalle is in Januarie 2017 aangeteken. In Julie het dokters by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria en Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg ’n buitengewone toename in die getal gevalle onder babas bespeur.

Sedertdien hou die NIOS die situasie fyn dop, vertel Juno. “Die meeste gevalle kom in Gauteng voor, daarna die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, gevolg deur al die ander provinsies,” sê Juno.

Forensiese toetse op die bloed van pasiënte het bewys almal is met dieselfde stam van listeria besmet – die sogenaamde ST6-stam. Dit het vermoedens help bevestig dat die uitbreking met een besmette voedselbron verband hou wat wyd versprei en deur mense in alle maatskaplike groepe, ryk en arm, oud en jonk, ingeneem word.

Aangesien Gauteng die meeste gevalle aanmeld, bestaan ’n moontlikheid dat die besmette produk dalk van daar kom, of dit kan bloot ’n geval wees dat meer mense van daardie provinsie mediese hulp soek, sê Lucia.

’n Hoenderslagplaas in Tshwane is gesluit nadat monsters spore van listeria getoon het, maar verdere toetse het getoon dit was nie die ST6-stam nie.

Die slagplaas is sedertdien heropen nadat dit voldoen het aan voorwaardes van die departement van gesondheid om te voorkom dat die stam wat wel daar voorgekom het verder versprei. Daarna het die soektog na die regte “hooimied” van voor af begin.

En terwyl die soektog na die bron van besmetting voortgaan, sal nog mense na verwagting listeriose opdoen. “Ons verwag die getal sterftes sal toeneem,” het Juno bevestig. 

Simptome en behandeling

Lyers ervaar dikwels simptome soos diarree, naarheid, algemene liggaamspyn, koors, braking en voel swak. Ander simptome is hoofpyn, ’n stywe nek, verwarring, hulle raak van balans af en kry stuiptrekkings.

 As dit nie behandel word nie, kan dit tot septisemie, oftewel ’n bloed­infeksie, lei. Dit kan ook meningitis (harsing- en rugmurgvlies­ontste­king) en ensefalitis (harsing­ont­ste­king) veroorsaak: brein­infeksies wat dodelik is of ernstige gestremdhede tot gevolg het. 

Enigiemand wat die simptome ervaar, moet mediese hulp kry. 

“Moenie aanneem jy het ‘somer­griep’ en by die huis sit tot jy beter voel nie,” maan Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid. 

Wanneer dit gediagnoseer is, is dit eenvoudig om te behandel.

“Dit word met ’n antibiotikum, Ampicillin, behandel wat by elke gesondheidsinstelling landwyd beskikbaar is,” sê die hoof van die nasionale insituut vir oordraagbare siektes, dr. Juno Thomas.


Wie loop die grootste gevaar?

Sowat 40% van die sterfgevalle tot dusver was babas jonger as vier weke. Dit is omdat swanger vroue makliker vatbaar is vir listeriose wanneer hulle besmette kos geëet het en dit dan aan hul babas oordra.

Volgens die mikrobioloog dr. Lucia Anelich ervaar die vroue dalk net griepsimptome. Maar wanneer hul ongebore baba aangetas word, kan dit tot ’n miskraam, vroeg- of doodgeboorte lei. By aangetaste babas wat wel oorleef, kan moontlik later komplikasies soos meningitis intree.

Mense met ’n verswakte immuunstelsel, onder meer bejaardes en mense met MIV of kanker, is ook in die besonder in gevaar. Dit kan ook diabete of mense met chroniese nier- of lewersiektes aantas.

BESKERM JOUSELF SO

Was vrugte en groente voor jy dit eet.
  • Beoefen goeie higiëne in die kombuis. Dit sluit in om jou hande en werkoppervlakke deeglik te was, veral tydens die hantering van rou en gaar kosse, om kruisbesmetting te vermy. 
  • Was vrugte en groente voor jy dit eet. 
  • Listeria is anders as die meeste bakterieë, want dit kan teen verkoelingstemperature groei, verduidelik Lucia, en dus deur kruisbesmetting versprei. Hou die temperatuur van jou yskas onder 4 °C en jou vrieskas onder -18 °C om dit te voorkom. 
  • Maak enigiets wat jy in jou yskas mors dadelik skoon, veral die sappe van worsies en kouevleispakke, rou vleis en rou pluimvee. Gebruik papierhanddoeke om te keer dat jy die kieme na ’n skoonmaaklap oordra.
  • Hou rou en gaar kos apart in die yskas.
  • Kook alle vleis (veral deli-vleise) en vis deeglik voor jy dit eet. Dit sal sorg dat enige moontlike bakterieë doodgemaak word.
  • Moenie produkte drink of eet wat van ongepasteuriseerde (rou) melk gemaak is nie.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/City Press/Elizabeth Sejake, Gallo Images/Rapport/Dudu Zitha

Ekstra bronne: City Press, businesslive.co.za, timeslive.co.za