1. ’n Tuisgemaakte soutoplossing is ’n maklike en goedkoop manier om ’n seer keel te behandel.

  • Roer ½ t (2,5 ml) sout by ’n glas warm water in, en gorrel elke uur of twee daarmee tot jy verligting ervaar.
  • Besoek jou dokter as jou keel ná twee dae steeds seer is.

2. Behandel ’n toe neus deur dik of droë slym uit jou neusgange te spoel.

  • Maak jou eie spoelmiddel deur ½ t (2,5 ml) elk sout en koeksoda by 1 k (250 ml) water (gekook en tot louwarm afgekoel) in ’n skoon houer in te roer.
  • Vul ’n mediese spuit met die oplossing en spuit dit by een van jou neusgange in – mik teen ’n hoek van 45° na jou agterkop pleks van reguit boontoe.
  • Die oplossing moet by die een neusgang in- en by die ander een uitgaan, of deur die neusgang en in jou keel af tot in jou mond sodat jy dit kan uitspoeg. Herhaal verskeie kere weerskante en sorg dat jy die spuit skoonmaak elke keer nadat jy dit gebruik het.

3. Verkoue? Sit nog ’n kussing onder jou kop wanneer jy gaan slaap sodat jou kop hoër as gewoonlik is. Dit help om sinusdrukking te verlig en maak dit makliker om asem te haal.

4. Behandel ’n droë winterkopvel deur ’n teelepel suiker in die palm van jou hand by sjampoe in te meng en jou kop dan goed daarmee te masseer voor jy dit deeglik afspoel. Dit sal dooie vel op jou kopvel afskilfer – so kan jou opknapper dit doeltreffender voed.

5. ’n Stoombehandeling kan verligting bring vir ’n toe neus. Vul ’n bak met kookwater uit die ketel, voeg ’n paar druppels bloekomolie daarby en leun daaroor met ’n handdoek oor jou kop. Dit sal die slym in jou neusgange help losmaak sonder om jou neus uit te droog. Studies het gewys Rhinovirus, die virus wat met die gewone verkoue verbind word, raak onaktief by temperature bo 40 °C.

6. In die winter is daar minder natuurlike vog in die lug, wat jou vel dikwels uitdroog. Droë en gekraakte hande of voete lyk nie net sleg nie; dit kan uiters pynlik wees.

  • Beproef dié oornagbehandeling: Smeer klapperolie mildelik aan jou hande en voete net voor jy gaan slaap. Masseer dit in en trek dan skoon sokkies en handskoene aan.

7. Niks klop die gevoel om lekker lank in die bad te lê op ’n koue aand nie, maar stomende warm water kan die vette aan die veloppervlak verwyder en dit droër laat voel. Voeg hawermout by jou badwater om dit teen te werk.

  • Giet ½ k (125 ml) hawermout in ’n skoon sokkie of ou sykous, maak ’n knoop aan die punt en gooi dit in die bad. Hawermout bevat ’n teeninflammatoriese middel wat droë en rooi vel streel.

Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beroef enige van dié wenke op eie risiko. Huisgenoot aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of beserings wat daardeur veroorsaak is nie. 

Bronne: Self.com, Lifehacker.com, Naturehacks.com, WEBMD.com, Dietsinreview.com, Beautybargainista.com, Psychcentral.com, Health24.com