Die vermyding van fruktose kan diabetes, vettige lewersiekte en vetsug in net meer as ’n week help beveg, het navorsers bevind.

’n Nuwe ondersoek deur prof. Jean-Marc Schwarz en sy kollegas by die Touro-universiteit in Kalifornië het getoon die uitsnyding van fruktoseryke mieliestroop, wat meestal in koeldrank en koek voorkom, kan jou bloeddruk, cholesterolvlak en lewervet verlaag en jou metabolisme versnel. 

Hulle hoop as die versoeter, wat suikers in gebergde vet omskakel pleks van dit verteer, uit diëte verwyder word, sal medisyne nie meer nodig wees om bogenoemde mediese probleme te verlig nie.  

Die span het tot dié slotsom gekom nadat hulle fruktose heeltemal verwyder het uit die dieet van 40 vetsugtige nege- tot 18-jarige Amerikaners. Ná net nege dae het die kinders se insulienweerstand, hoë cholesterolvlak en bloeddruk gedaal. 

Terwyl glukose 20% in die lewer afgebreek word en die ander 80 persent deur die res van die liggaam, word ’n verstommende 90% van fruktose in die lewer verwerk, wat tot die bogenoemde gesondheidsprobleme kan lei. Die proses van die omskakeling van suiker na vet staan as de novo-lipogenese (DNL) bekend. 

“Ondersoeke het getoon diëte met volop eenvoudige suikers verhoog beide DNL en lewervet,” verduidelik Jean-Marc. “Deur vir net nege dae suiker uit die dieet van kinders met vetsug te verwyder is DNL en lewervet deur die bank verminder en glukose- en lipiedmetabolisme het verbeter.”

Oor die resultate, wat in The Journal of the American Osteopathic Association gepubliseer is, sê hy verder: “Dieselfde deelnemers se DNL het tydens voeding met 56% afgeneem. In die geheel het lewervetkonsentrasie tydens fruktosebeperking met 22% gedaal. Ná net agt dae kan ’n hoë fruktose-inname sowel DNL as lewervetkonsentrasie verhoog.”