Akademici aan die Imperial en Kings College in Londen het bevind tot een uit elke vyf mense wat by mediese klinieke aanklop, het abnormale gesondheidsangs. Die toestand word vererger deur simptome aanlyn na te vors.

Talle kan hul simptome verbind met vorige mediese probleme, soos hartaanvalle, en glo dan vas dat hulle weer in gevaar verkeer. Navorsers raam onbehandelde pasiënte wat onnodige toetse ondergaan en afsprake in primêre sorg maak, jaag die nasionale gesondheidsdiens (NHS) jaarliks tot R950 miljoen uit die sak.

Prof. Peter Tyrer sê gesondheidsangs oorvleuel met ipekonders, en die toestand neem toe weens “kuber-ipekonders” of geredelike toegang tot gesondheidsinligting aanlyn.

“Pasiënte met hoë gesondheidsangs is oormatig bekommerd oor hul gesondheid, maar die meeste herken nie die onderliggende oorsaak nie,” het hy in ’n verklaring gesê. 

“Die toestand word dikwels veroorsaak deur ’n gebeurtenis, en die kombinasie van groter persoonlike kwesbaarheid, versterk deur ’n toenemende openbare bewustheid van siekte, wat die angs aanvuur. "

“Met dié dat die internet so geredelik beskikbaar is, voel mense dit is hul verantwoordelikheid om na hul gesondheid te kyk, en gesondheidskundiges in die openbare sektor moedig dit aan.”

Prof. Tyrer en sy kollegas het die probleem met ’n aangepaste vorm van kognitiewe gedragsterapie vir gesondheidsangs (CBT-HA) behandel.

Hulle het 444 pasiënte met ernstige gesondheidsangs uit vyf hospitale in Engeland bestudeer en hulle vier 10 uur lange sessies van CBT-HA gegee. Die uitslag het getoon die proses was hoogs voordelig vir die deelnemers.

“CBT-HA stel terapeute sonder ondervinding in staat om maklik daarvoor opgelei te word. Dit kan dus potensieel onder geskikte toesig wyd in algemene hospitale gebruik word,” het prof. Tyrer gesê. 

“Nog navorsing is nodig om die toenemende probleem van gesondheidsangs in hospitale te identifiseer en behandel.”

Die volledige studie is in die NIHR Journals Library gepubliseer.