Jou maag swel op, dikwels kort ná etes, jy sukkel met maagpyn en winderigheid, en ’n besoek aan die toilet is skielik ’n groot uitdaging. Wat op dees aarde gaan aan?

Jy ly moontlik aan prikkelbaredermsindroom (PDS), en jy is beslis nie al een nie. Na raming ly een uit elke vyf mense aan dié siekte, hoewel baie onbewus is daarvan. Dat die oorsake, simptome en ervaring van PDS van mens tot mens wissel, maak dit moeilik om te behandel.

Die Kapenaar Pippa Erasmus* (36) se simptome volg die algemeenste patroon van PDS.

“Dit het reeds hier op 13, 14 jaar ontwikkel,” vertel sy. “Ek sou soggens opstaan met ’n plat maag en deur die loop van die dag begin my maag opswel tot ek baie opgeblaas voel en eindelik met kwaai maagpyn gaan slaap.”

Gelukkig kon Pippa die sindroom maklik diagnoseer; haar ma het ook met PDS gesukkel.

Met die jare het Pippa geleer om met haar toestand saam te leef en dit te bestuur. Sy ervaar stres as ’n groot faktor; dus probeer sy haar spanningsvlak onder beheer hou.

Sy kyk mooi na wat sy eet, want sekere kosse soos druiwe, koejawels en soetrissies verteer moeilik en laat haar opgeblaas voel. Maar soms, sê sy, is al wat help om gemaklike klere te dra (geen stywe broeke nie!), in ’n warm bad te ontspan en vroeg te gaan slaap sodat haar spysverteringskanaal kans kry om te rus.

Ander pasiënte se simptome verloop heel anders en veel erger, soos Suzette de Klerk(43) van Potchefstroom kan getuig. Hoewel Suzette vertel dat sy haar lewe lank hardlywig was, het haar probleme eers werklik in Desember 2013 begin nadat sy ’n histerektomie ondergaan het. Daar was komplikasies wat, volgens haar internis, tot PDS gelei het.

Die volgende twee jaar was vir haar ’n nagmerrie. “My maag het so erg opgeswel, dit het gelyk asof ek ’n tweeling verwag. Daarby wou my maag nie werk nie, en wanneer ek wel toilet toe gegaan het, het my kolon erg gepyn.

“Die pyn en swaarheid wat jy daagliks ervaar van ’n kolon wat nie behoorlik werk nie, is moeilik om te beskryf.”

In Suzette se geval het PDS haar hele lewe omgedolwe. “Ek moes my werk laat vaar weens die gedurige pyn en ongemak, het baie gewig aangesit en gesukkel om te slaap,” sê sy. Talle ondersoeke later – onder meer twee kolonoskopieë en ’n gastroskopie – is PDS eindelik by haar gediagnoseer, en nou het dié ma van drie hoop dat sy kan terugkeer na ’n normale lewe.

Haar internis het die middel Librax voorgeskryf (medikasie vir die behandeling van kwale soos PDS, ingewandsinflammasie en maagsere), en sy het onlangs uitstekende resultate ervaar danksy neurostimulasie, ’n pynverligtingstegnologie wat deur pynklinieke toegepas word.

WAT IS PDS?

PDS word beskou as een van sowat 20 funksionele dermkanaalsiektes, sê dr. Estelle Wilken, gastroënteroloog en dosent en senior konsultant aan die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit.

Dié dermkanaalsiekte kom baie algemeen voor, en hoewel dit ’n chroniese sindroom is wat ’n spesialis op lang termyn moet behandel, is dit nie gevaarlik nie. Dis ook bekend as spastiese kolon, wat ’n mens ’n idee van die algemene simptome gee: maagkrampe, winderigheid, buikpyn en hardlywigheid.

DIE OORSAKE

Ongelukkig het PDS iets gemeen met nog ’n uiters algemene siekte – verkoue – in dié opsig dat die mediese wêreld nog nie vir seker kon vasstel wat die oorsaak is nie. “Die mediese wetenskap is nog nie gevorderd genoeg om die oorsaak te identifiseer nie,” sê Estelle. Hoewel baie navorsing gedoen word, “kon ons nog nie alles mooi bymekaarsit nie”. Daar is wel sekere sogenaamde “snellers” wat die siekte aktiveer of aanhits, onder meer sielkundige en liggaamlike stressors.

“Daar is beslis ’n sielkundige element aan dié sindroom,” beklemtoon Estelle. “Ons sien dikwels dat sielkundige stressors soos ernstige trauma of spanning PDS kan laat opvlam.

“Dis omdat dieselfde soort reseptors en oordragstowwe wat in jou brein sit, ook in jou dermkanaal voorkom, en die derm ‘lees’ dan dieselfde soort stres en reageer daarvolgens. Maar liggaamlike stressors (soos ’n operasie of ander siekte) kan dit ook aan die gang sit; trouens, enigiets wat stres op die liggaam plaas, kan dit laat opvlam.”

Die jongste navorsing toon die sindroom het baie te doen met die gesondheid van die dermkanaalflora, die mikroorganismes in die kanaal. “Dis ongelooflik watter uitwerking daardie bakterieë op jou gesondheid het,” sê Estelle.

Die hoop is dat as ’n mens die balans van die bakterieë reg kan kry, jy PDS onder beheer kan bring of minstens met meer sukses kan behandel. 

Regte behandeling, verkeerde kos

Daar is ongelukkig nie net een soort behandeling wat vir alle PDS-lyers geskik is nie, verduidelik die gastroënteroloog dr. Estelle Wilken. “Dis ’n diverse siekte; daarom is dit belangrik om elke pasiënt as ’n individuele geval te hanteer. Ek stap ’n pad saam met my pasiënte om te kyk wat werk en ontwikkel dan ’n plan A, B en C soos dit nodig word.”

BEHANDELINGS WAT WERK

  • ’n Goeie probiotika kan die regte soort flora in die dermkanaal bevorder of die balans daarvan herstel. Dianne Ivison, ’n dieetkundige van Panorama in die Kaap, sê dit moet verkieslik ’n multistam-probiotika wees om werklik doeltreffend te wees. “Jy moet dit minstens ’n maand lank gebruik om te kyk of dit werk.”
  • Dieet kan ’n verskil maak. (Sien onder.)
  • Estelle beveel ook psigoterapie aan as daar duidelike tekens van spanning en trauma by die lyer is.

KOS WAT JOU LAAT ‘OPBLAAS’

Vetterige kos, uie, droë kosse soos boontjies, ertjies en lensies, avokado, koolgroentes soos blomkool en broccoli, kitskosse en -soppe, sitrus, ontbytkosse wat bemark word as veselryk, hawermout, klapper, kos met gis soos jogurt, bier en brood, sekere neute en sommige peulgewasse, veral grondboontjies.

Dianne sê sy beveel aan PDS-lyers kyk of hulle beter voel wanneer hulle vetterige kos, suiwel, koring, drank, kafeïen, skerp gegeurde kos en gaskoeldrank vermy.

Simptome

  • Buikpyn en ongemak, wat in sommige gevalle ook kan voorkom as rugpyn
  • ’n Verandering in die patroon van die opelyf (dit sal meer of minder gereeld plaasvind), asook in die aard van die stoelgang (dit sal harder of sagter word).
  • ’n Gevoel van verligting wanneer die ingewande behoorlik ledig (wanneer jy ’n opelyf het).
  • ’n Gereelde gevoel van winderigheid en opgeblasenheid.
  • Sensitiwiteit rondom die dermkanaal, iets wat met gespesialiseerde mediese toetse gemeet kan word.


Wat sê ’n dieetkundige?

Die dieetkundige Dianne Ivison sê tot 10 PDS-lyers besoek daagliks haar praktyk. Dis mense wat na haar toe kom vir raad oor hoe om die sindroom te hanteer deur middel van hul dieet.

“Ek sê altyd vir hulle: Onthou, kos is nie die oorsaak van PDS nie; dis bloot ’n sneller. Die belangrikste is om verkieslik een kossoort op ’n slag uit te sny, so nie bereik jy ’n punt waar jy niks kan eet nie!”

Sy beveel aan dat haar pasiënte ’n kosen-sindroomdagboek hou sodat hulle duidelik kan sien watter kosse ’n nadelige uitwerking het. Die uitwerking van die kosse op jou lyf sal heel gou wys; binne twee maaltye ná die inname.

Sommige lyers ervaar verligting wanneer hulle die sogenaamde lae-Fodmap-dieet volg. (Fodmap is ’n Engelse letternaam vir sekere soorte koolhidrate wat voorkom in uiteenlopende kossoorte, soos party vrugte, groentes, graansoorte, neute en suiwel.)

Maar Dianne sê sy beveel dit selde aan. “Dis ’n baie beperkende dieet wat mense verkieslik onder ’n dieetkundige se toesig moet volg omdat ’n mens die kosse wat jy uitsny, mettertyd weer in die dieet moet terugbring.