Dit is nie jou verbeelding nie.

Seisoenale depressie word met die oorskakeling van seisoene verbind en dit begin en eindig gewoonlik dieselfde tyd van die jaar. 

“In die meeste gevalle begin die simptome van seisoenale depressie in die laat herfsmaande en vroeë winter," sê dr. Christine Galloway, kliniese sielkundige aan die Universiteit van Michigan. 

Jy voel asof jy van al jou energie gedreineer is en is meer buierig as gewoonlik. Die simptome duur deur die wintermaande voort.

"Dit gaan gewoonlik weg gedurende die sonnige dae van lente en somer,” sê Christine. 

Volgens haar kan die simptome eers baie lig voorkom en dan vererger namate die winterseisoen vorder.

Van die simptome van seisoenale depressie is:

• Om byna elke dag heeldag depressief te voel 
• Verloor belangstelling in aktiwiteite wat jy voorheen geniet het
• Lae energievlakke
• Slaapprobleme
• Verandering in jou eetlus en gewig
• Gevoel van irritasie
• Sukkel om te konsentreer
• Gevoelens van hopeloosheid, onwaardigheid of skuld
• Gereelde gedagtes aan selfdood

“Dit is heel normaal om sekere dae 'n bietjie af te voel. Maar as jy gereeld mismoedig voel, as jy sukkel om gemotiveerd te bly en jy geniet nie meer aktiwiteite wat jy eens geniet het nie, moet jy beslis 'n dokter gaan spreek,” maan Galloway. 

“Dit is veral belangrik as jou slaappatrone en eetlus verander het en jy moontlik alkohol gebruik om anders te voel.”

Die presiese oorsake van seisoenale depressie is nie heeltemal duidelik nie, maar kenners meen elke mens se biologiese klok speel 'n groot rol. Die minder sonlig waaraan jy tydens die herfs en winter blootgestel word, kan jou interne biologiese klok heeltemal omvergooi.

'n Mens se serotonienvlakke kan ook aansienlik daal weens die verminderde sonlig. Serotonien is 'n chemiese stof wat deur die brein afgeskei word en die gemoed reguleer. 

Die veranderende seisoene kan ook 'n mens se vlakke van melatonien, 'n hormoon, verlaag en dit kan tot ongewone slaap- en eetpatrone lei. 

Bronne: Psycom.netSadag.org